NUMERI 9:1-14

NUMERI 9:1-14 AFR83

Die Here het met Moses gepraat. Dit was in die Sinaiwoestyn, die eerste maand van die tweede jaar ná die uittog uit Egipte. Hy het vir hom gesê: “Op die vasgestelde tyd, teen sonsondergang, op die veertiende dag van hierdie maand, moet die Israeliete die paasfees vier. Julle moet dit doen op die vasgestelde tyd volgens die voorskrifte en bepalings wat daarvoor geld.” Moses het die Israeliete toe opdrag gegee om die paasfees te vier. Hulle het dit gedoen in die Sinaiwoestyn teen sonsondergang op die veertiende dag van die eerste maand, presies soos die Here vir Moses beveel het. So het die Israeliete gedoen. Maar daar was persone wat die paasfees nie op daardie dag kon vier nie omdat hulle aan 'n lyk geraak het en dus onrein was. Hierdie manne het dieselfde dag nog na Moses en Aäron toe gekom en vir hulle gesê: “Ons is onrein, want ons het aan 'n lyk geraak, maar waarom word ons daarvan weerhou om op die bestemde tyd saam met die ander Israeliete 'n offergawe aan die Here te bring?” Moses het toe vir hulle gesê: “Wag tot ek verneem het wat die Here oor julle beveel.” Die Here het toe vir Moses gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: As een van julle of julle nakomelinge deur 'n lyk onrein is, of op 'n ver reis is, mag hy nogtans die paasfees vir die Here vier. Maar dan moet hulle dit in die tweede maand, op die veertiende van die maand, teen sonsondergang vier. Hulle moet die paaslam eet saam met die ongesuurde brood en bitter kruie. Hulle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie en hulle mag ook geen been van die lam breek nie. Hulle moet die paasfees stiptelik volgens al sy voorskrifte vier. Maar as 'n persoon rein is en nie op reis is nie en nogtans in gebreke bly om die paasfees op die gewone tyd te vier, moet hy van sy volksgenote afgesny word omdat hy nagelaat het om 'n offergawe op die bestemde tyd aan die Here te bring. Dié man moet die gevolge van sy sonde dra. “As 'n vreemdeling wat by julle woon, die paasfees vir die Here wil vier, moet hy dit volgens die bestaande voorskrifte en bepalings doen. Een en dieselfde voorskrif geld vir julle almal: vir die vreemdeling en vir die landsburger.”