Die HERE het in die eerste maand van die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland weggetrek het, met Moses in die Sinaiwoestyn gepraat en gesê: “Die Israeliete moet die Pasga op die vasgestelde tyd vier. Julle moet dit teen laatmiddag op die veertiende dag van hierdie maand op die vasgestelde tyd vier. Volgens al die vaste voorskrifte en bepalings moet julle dit vier.” Moses het die Israeliete toe aangesê om die Pasga te vier. Hulle het die Pasga op die veertiende dag van die eerste maand teen laatmiddag in die Sinaiwoestyn gevier. Soos wat die HERE Moses beveel het, net so het die Israeliete gemaak. Daar was egter manne wat onrein geword het as gevolg van 'n lyk. Hulle kon nie die Pasga op daardie dag vier nie, en het Moses en Aäron nog dieselfde dag genader. Daardie manne het vir hom gesê: “Ons is onrein as gevolg van 'n lyk. Waarom word ons teruggehou, sodat ons nie saam met die Israeliete op die vasgestelde tyd 'n offer aan die HERE kan bring nie?” Moses het vir hulle gesê: “Wag eers dat ek kan hoor wat die HERE in verband met julle beveel.” Die HERE het toe met Moses gepraat en gesê: “Praat met die Israeliete en sê, ‘Wanneer enigiemand van julle of julle nageslagte onrein word as gevolg van 'n lyk, of as hy ver op reis is, mag hy die Pasga vir die HERE vier. In die tweede maand op die veertiende dag teen laatmiddag moet hulle dit vier. Met ongesuurde brood en bitter kruie moet hulle dit eet. Hulle mag niks daarvan laat oorbly tot die volgende oggend nie. Geen been daarvan mag hulle breek nie. Volgens al die vaste voorskrifte vir die Pasga moet hulle dit vier. Iemand wat egter rein is, nie op reis is nie, en nalaat om die Pasga te vier – daardie persoon sal van sy mense afgesny word, omdat hy die offer van die HERE nie op die vasgestelde tyd gebring het nie. Sy sonde sal hy moet dra. “ ‘As 'n •vreemdeling by julle tydelike verblyf het, en hy vier die Pasga vir die HERE, moet hy dit presies volgens die vaste voorskrifte vir die Pasga en die bepalings daarvan doen. Een en dieselfde vaste voorskrif geld vir julle, vir die vreemdeling sowel as die landsburger.’ ”
Lees Numeri 9
Deel
Vergelyk alle weergawes: Numeri 9:1-14
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's