NUMERI 20:14-29

NUMERI 20:14-29 AFR83

Moses het boodskappers van Kades af na die koning van Edom toe gestuur met die versoek: “So sê u broer Israel: U is bewus van al die probleme waarmee ons te kampe gehad het. Ons voorvaders het na Egipte toe getrek en daar het ons baie lank gebly. Die Egiptenaars het ons voorvaders én vir ons sleg behandel. Ons het na die Here om hulp geroep en Hy het ons gebed verhoor, 'n engel gestuur en ons uit Egipte laat trek. Ons is nou in Kades, 'n stad aan die grens van u gebied. Laat ons toe om deur u land te trek. Ons sal nie deur die lande of die wingerde trek nie en ons sal ook nie water uit die putte drink nie. Ons sal op die Koningspad bly en nie links of regs afdraai totdat ons deur u gebied is nie.” Die koning van Edom het egter geantwoord: “Jy mag nie deur my gebied trek nie, want dan trek ek jou met die swaard tegemoet.” Die Israeliete het weer vir hom laat weet: “Ons sal op die grootpad bly, en as ons, ons en ons vee, van u water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil net te voet deurtrek, verder niks nie.” Die koning van Edom het laat weet: “Jy mag nie deurtrek nie.” Die Edomiete het toe met 'n groot, magtige leër teen die Israeliete opgetrek. So het Edom geweier om Israel deur sy gebied te laat trek, en Israel moes van Edom af wegdraai. Die hele volk Israel het van Kades af versit en by Horberg aangekom. By Horberg, vlak by die grens van Edom, het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Die tyd het gekom dat Aäron moet sterf. Hy sal nie in die land kom wat Ek aan die Israeliete gee nie, omdat julle twee julle verset het teen my bevel by die Meribawaters. Vat vir Aäron en sy seun Eleasar saam en gaan na Horberg toe. Daar moet jy Aäron se klere uittrek en dit vir sy seun Eleasar aantrek. Aäron sal daar sterwe.” Moses het gedoen wat die Here beveel het: voor die oë van die hele volk het hulle Horberg uitgeklim. Daar het Moses Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek, en Aäron is daar op die top van die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar afgekom van die berg af. Toe die hele volk Israel verneem dat Aäron dood is, het hulle almal oor hom getreur, dertig dae lank.

Video for NUMERI 20:14-29