Numeri 20:14-29

Numeri 20:14-29 AFR20

Moses het boodskappers gestuur vanaf Kades na die koning van Edom: “So sê u broer Israel, ‘U weet self van al die swaarkry wat ons ervaar het. Ons voorouers het afgetrek na Egipte en ons het 'n lang tyd in Egipte gebly, maar die Egiptenare het ons en ons voorouers sleg behandel. Ons het na die HERE om hulp geroep; Hy het ons hulpgeroep gehoor en 'n •engel gestuur. Hy het ons uit Egipte laat wegtrek. Kyk, ons is nou in Kades, 'n dorp op die grens van u grondgebied. Laat ons asseblief deur u land trek. Ons sal nie deur lande of wingerde trek nie, en ons sal nie water uit putte drink nie. Van die Koningspad sal ons nie links of regs afwyk nie, totdat ons deur u grondgebied getrek het.’ ” Maar Edom het vir hom laat weet: “Jy mag nie deur my gebied trek nie; anders trek ek jou met die swaard tegemoet.” Die Israeliete het toe vir Edom laat weet: “Ons sal net op die grootpad deurtrek. As ons van u water drink, ons en ons vee, sal ons die koopprys daarvoor gee – net dit, niks meer nie. Ons wil te voet deurtrek.” Maar hy het laat weet: “Jy mag nie deurtrek nie.” Edom het hulle tegemoetgetrek met baie manskappe en 'n sterk mag. So het Edom geweier om aan Israel deurtog deur sy grondgebied te verleen, en Israel het van hom af weggedraai. Die Israeliete, die hele volksvergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor aangekom. Die HERE het vir Moses en Aäron by die berg Hor op die grens van die land Edom gesê: “ Aäron gaan met sy mense verenig word, want hy mag nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete gegee het nie, omdat julle teen my bevel in opstand was by die water van Meriba. Neem Aäron en sy seun Eleasar en laat hulle die berg Hor uitklim. Trek Aäron se klere uit en trek dit vir Eleasar, sy seun, aan. Aäron sal met sy mense verenig word en daar sterf.” Moses het gedoen wat die HERE hom beveel het. Hulle het die berg Hor voor die oë van die hele volksvergadering uitgeklim. Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek. Aäron het daar op die kruin van die berg gesterf en Moses en Eleasar het van die berg afgekom. Toe die hele volksvergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel dertig dae lank oor Aäron getreur.