NUMERI 20:14-29

NUMERI 20:14-29 Bybel vir almal (ABA)

Moses het uit Kades boodskappers gestuur na die koning van die land Edom. Hy het gesê: “Dit is jou broer-volk, die Israeliete, wat praat. Jy weet van die baie probleme wat ons gehad het. Ons voorvaders het na Egipte gegaan, en ons het lank daar gewoon. Die Egiptenaars het slegte dinge gedoen aan ons en ons voorvaders. Maar toe het ons tot die Here gebid en gevra dat Hy ons moet help. Die Here het gehoor en Hy het 'n engel gestuur en ons uit Egipte gebring. Ons is nou hier in Kades, 'n stad wat op die grens van jou land is. Laat ons nou asseblief deur jou land gaan. Ons sal nie deur julle koringlande of julle wingerde loop nie, ons sal nie water drink uit julle putte nie, ons sal net op die Koningspad bly, en ons sal nie links of regs wegdraai voordat ons deur jou land is nie.” Die koning van Edom het geantwoord: “Julle mag nie deur my land gaan nie. As julle dit doen, dan sal ek oorlog maak teen julle.” Die Israeliete het vir hom gesê: “Ons sal op die pad bly, en as ons en ons diere van jou water drink, dan sal ons daarvoor betaal. Ons sal nie probleme maak nie, ons wil net deur jou land loop.” Maar die koning van Edom het gesê: “Julle sal nie deur my land gaan nie.” En hy het met 'n groot en sterk leër gekom om die Israeliete aan te val. Die Edomiete wou nie hê dat die Israeliete deur hulle land moet gaan nie, en die Israeliete het weggedraai van die land Edom. Hulle het weggegaan van Kades, en die hele volk het by Hor-berg gekom. Hor-berg was langs die grens van die land Edom. Die Here het by Hor-berg vir Moses en Aäron gesê: “Dit is tyd dat Aäron moet sterf. Hy mag nie kom in die land wat Ek vir die Israeliete gee nie, want julle was opstandig teen My by die Meriba-water. Jy moet Aäron en sy seun Eleasar neem en jy moet hulle bo-op Hor-berg bring. Dan moet jy Aäron se klere uittrek en julle moet die klere vir sy seun Eleasar aantrek. Dan sal Aäron daar sterf.” Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hulle het teen Hor-berg opgegaan. Die hele volk het gestaan en kyk. Moses het Aäron se klere uitgetrek en hy het dit vir Aäron se seun Eleasar aangetrek. Toe het Aäron daar bo-op die berg gesterf. Moses en Eleasar het afgegaan van die berg, en toe die volk besef dat Aäron dood is, het al die Israeliete 30 dae lank oor hom gehuil en getreur.

NUMERI 20:14-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarna het Moses uit Kades boodskappers na die koning van Edom gestuur: So sê jou broer Israel: Jy weet self al die moeilikheid wat ons oorgekom het. Ons vaders het na Egipte afgetrek, en ons het baie dae in Egipte gewoon, en die Egiptenaars het ons en ons vaders sleg behandel. Toe het ons die HERE aangeroep, en Hy het ons stem gehoor: Hy het 'n Engel gestuur en ons uit Egipte uitgelei. Hier is ons nou in Kades, 'n stad op die grens van jou grondgebied. Laat ons tog deur jou land trek: ons sal nie deur lande of wingerde trek nie en die water uit die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou; ons sal nie regs of links uitdraai nie, totdat ons deur jou grondgebied getrek het. Maar Edom antwoord hom: Jy sal deur my nie trek nie, anders sal ek jou met die swaard tegemoettrek. Toe sê die kinders van Israel vir hom: Ons sal met die grootpad trek, en as ons van jou water drink, ek en my vee, gee ek die prys daarvoor. Laat my net te voet deurtrek — verder niks nie. Maar hy antwoord: Jy sal nie deurtrek nie. En Edom het uitgetrek hom tegemoet met baie manskappe en met 'n sterk hand. So het Edom dan geweier om Israel toe te laat om deur sy grondgebied te trek. Daarop het Israel van hom af weggedraai. EN die kinders van Israel, die hele vergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor gekom. En die HERE het met Moses en Aäron by die berg Hor, op die grens van die land Edom, gespreek en gesê: Aäron sal by sy volksgenote versamel word, want hy mag nie kom in die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het nie, omdat julle teen my bevel wederstrewig was by die waters van Mériba. Neem Aäron en sy seun Eleásar, en laat hulle op die berg Hor opklim; en trek Aäron se klere uit en trek dit sy seun Eleásar aan; en Aäron sal daar by sy volksgenote versamel word en sterwe. Toe het Moses gedoen soos die HERE beveel het: hulle het op die berg Hor geklim voor die oë van die hele vergadering. En Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit sy seun Eleásar aangetrek. En Aäron het daar gesterwe op die top van die berg, maar Moses en Eleásar het van die berg afgeklim. En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel Aäron beween dertig dae lank.

NUMERI 20:14-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Moses het boodskappers van Kades af na die koning van Edom toe gestuur met die versoek: “So sê u broer Israel: U is bewus van al die probleme waarmee ons te kampe gehad het. Ons voorvaders het na Egipte toe getrek en daar het ons baie lank gebly. Die Egiptenaars het ons voorvaders én vir ons sleg behandel. Ons het na die Here om hulp geroep en Hy het ons gebed verhoor, 'n engel gestuur en ons uit Egipte laat trek. Ons is nou in Kades, 'n stad aan die grens van u gebied. Laat ons toe om deur u land te trek. Ons sal nie deur die lande of die wingerde trek nie en ons sal ook nie water uit die putte drink nie. Ons sal op die Koningspad bly en nie links of regs afdraai totdat ons deur u gebied is nie.” Die koning van Edom het egter geantwoord: “Jy mag nie deur my gebied trek nie, want dan trek ek jou met die swaard tegemoet.” Die Israeliete het weer vir hom laat weet: “Ons sal op die grootpad bly, en as ons, ons en ons vee, van u water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil net te voet deurtrek, verder niks nie.” Die koning van Edom het laat weet: “Jy mag nie deurtrek nie.” Die Edomiete het toe met 'n groot, magtige leër teen die Israeliete opgetrek. So het Edom geweier om Israel deur sy gebied te laat trek, en Israel moes van Edom af wegdraai. Die hele volk Israel het van Kades af versit en by Horberg aangekom. By Horberg, vlak by die grens van Edom, het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Die tyd het gekom dat Aäron moet sterf. Hy sal nie in die land kom wat Ek aan die Israeliete gee nie, omdat julle twee julle verset het teen my bevel by die Meribawaters. Vat vir Aäron en sy seun Eleasar saam en gaan na Horberg toe. Daar moet jy Aäron se klere uittrek en dit vir sy seun Eleasar aantrek. Aäron sal daar sterwe.” Moses het gedoen wat die Here beveel het: voor die oë van die hele volk het hulle Horberg uitgeklim. Daar het Moses Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek, en Aäron is daar op die top van die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar afgekom van die berg af. Toe die hele volk Israel verneem dat Aäron dood is, het hulle almal oor hom getreur, dertig dae lank.

NUMERI 20:14-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Moses het boodskappers gestuur vanaf Kades na die koning van Edom: “So sê u broer Israel, ‘U weet self van al die swaarkry wat ons ervaar het. Ons voorouers het afgetrek na Egipte en ons het 'n lang tyd in Egipte gebly, maar die Egiptenare het ons en ons voorouers sleg behandel. Ons het na die HERE om hulp geroep; Hy het ons hulpgeroep gehoor en 'n •engel gestuur. Hy het ons uit Egipte laat wegtrek. Kyk, ons is nou in Kades, 'n dorp op die grens van u grondgebied. Laat ons asseblief deur u land trek. Ons sal nie deur lande of wingerde trek nie, en ons sal nie water uit putte drink nie. Van die Koningspad sal ons nie links of regs afwyk nie, totdat ons deur u grondgebied getrek het.’ ” Maar Edom het vir hom laat weet: “Jy mag nie deur my gebied trek nie; anders trek ek jou met die swaard tegemoet.” Die Israeliete het toe vir Edom laat weet: “Ons sal net op die grootpad deurtrek. As ons van u water drink, ons en ons vee, sal ons die koopprys daarvoor gee – net dit, niks meer nie. Ons wil te voet deurtrek.” Maar hy het laat weet: “Jy mag nie deurtrek nie.” Edom het hulle tegemoetgetrek met baie manskappe en 'n sterk mag. So het Edom geweier om aan Israel deurtog deur sy grondgebied te verleen, en Israel het van hom af weggedraai. Die Israeliete, die hele volksvergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor aangekom. Die HERE het vir Moses en Aäron by die berg Hor op die grens van die land Edom gesê: “ Aäron gaan met sy mense verenig word, want hy mag nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete gegee het nie, omdat julle teen my bevel in opstand was by die water van Meriba. Neem Aäron en sy seun Eleasar en laat hulle die berg Hor uitklim. Trek Aäron se klere uit en trek dit vir Eleasar, sy seun, aan. Aäron sal met sy mense verenig word en daar sterf.” Moses het gedoen wat die HERE hom beveel het. Hulle het die berg Hor voor die oë van die hele volksvergadering uitgeklim. Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek. Aäron het daar op die kruin van die berg gesterf en Moses en Eleasar het van die berg afgekom. Toe die hele volksvergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel dertig dae lank oor Aäron getreur.

NUMERI 20:14-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe stuur Moses boodskappers van Kades af na die koning van Edom: So sê jou broer Israel: Jy weet al die moeite wat ons getref het. Hoe ons vaders na Egipte afgetrek het, en ons lank in Egipte gewoon het; en die Egiptenaars het ons en ons vaders kwaad gemaak. En toe ons die HERE aanroep, het Hy ons stem gehoor en 'n engel gestuur en ons uit Egipte uitgelei; en kyk, ons is in Kades, 'n stad aan die einde van jou grens. Laat ons tog deur U land trek: ons sal nie deur die lande of deur die wingerde trek nie, en ons sal nie van die water van die putte drink nie; ons sal op die koning se groot pad gaan, ons sal nie na regs en ook nie links nie, totdat ons by U grense verby is. En Edom sê vir hom: Jy mag nie by my verbygaan nie, dat ek nie met die swaard teen jou uittrek nie. Toe sê die kinders van Israel vir hom: Ons sal op die grootpad gaan; en as ek en my vee van jou water drink, sal ek daarvoor betaal; ek sal net, sonder om iets anders te doen, op my voete deurgaan. En hy sê: Jy mag nie deurtrek nie. En Edom het teen hom uitgetrek met baie mense en met 'n sterk hand. Daarom het Edom geweier om Israel deur sy grondgebied te laat trek; daarom het Israel van hom afgewyk. En die kinders van Israel, die hele vergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor aangekom. En die HERE het met Moses en Aäron gespreek op die berg Hor, aan die kuslyn van die land Edom, en gesê: Aäron sal by sy volk versamel word, want hy sal nie ingaan in die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het nie, omdat julle teen my woord in opstand gekom het by die water van Meriba. Vat Aäron en sy seun Eleasar en bring hulle op na die berg Hor. Trek dan Aäron van sy klere uit en trek dit sy seun Eleasar aan, en Aäron sal by sy volk versamel word en daar sterwe. En Moses het gedoen soos die HERE beveel het, en hulle het op die berg Hor geklim voor die oë van die hele vergadering. En Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit sy seun Eleasar aangetrek; en Aäron het daar op die top van die berg gesterf, en Moses en Eleasar het van die berg afgekom. En toe die hele vergadering sien dat Aäron dood was, het hulle dertig dae lank oor Aäron getreur, die hele huis van Israel.

NUMERI 20:14-29 Die Boodskap (DB)

Moses het boodskappers van Kades af na die koning van Edom toe gestuur om met hom te onderhandel. Hulle moes vir hom sê: “Hierdie boodskap is van u eie familie, die Israeliete af: U weet self hoe swaar ons al gehad het. Ons voorouers het mos na Egipte toe gegaan en baie lank daar gebly. Maar die Egiptenaars het ons en ons voorouers baie sleg behandel. Toe het ons by die Here hulp gaan soek, en Hy het ons gebede beantwoord en ’n engel gestuur om ons uit Egipte weg te lei. Op die oomblik is ons in Kades, ’n stad op die grens van u grondgebied. Ons vra toestemming om deur u land te trek. Ons sal nie deur u landerye of die wingerde trek nie. Ons sal nie eens water uit julle putte skep om te drink nie. Ons sal op die grootpad bly, die een wat die Koningspad genoem word, totdat ons deur u gebied is.” Die koning van Edom se antwoord was kort en kragtig: “Bly uit my land uit of maak julle reg vir oorlog!” Die Israeliete het toe weer mooi gevra: “Ons belowe om net op die grootpad te bly, en as ons of ons vee van die water in julle putte drink, sal ons daarvoor betaal. Ons is nie julle vyande nie, ons wil net die pad deur u land gebruik.” Maar die koning van Edom het botweg geweier en sy groot leër bymekaargemaak om teen die Israeliete te gaan oorlog maak. Omdat Edom geweier het om Israel deur hulle land te laat trek, moes Israel toe maar van koers verander. Die Israeliete het van Kades af weggetrek en by die berg Hor op die grens van Edom aangekom. Daar het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Aäron se einde is hier. Hy gaan sterf. Omdat julle twee by Meriba so hardkoppig was en nie gedoen het wat Ek gesê het nie, sal hy beslis nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete belowe het nie. Laat Aäron en sy seun Eleasar saam met jou teen die berg Hor uitklim. Daar moet Aäron sy priesterklere uittrek en dit vir sy seun gee om aan te trek. Aäron gaan daar op die berg sterf.” Moses het gedoen wat die Here gesê het. Die drie van hulle is toe saam die berg uit terwyl die volk hulle agterna gekyk het. Bo-op die berg het Moses Aäron sy priesterklere laat uittrek en dit toe vir sy seun Eleasar gegee om aan te trek. Aäron is daar op die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar van die berg afgekom. Toe die volk hoor dat Aäron dood is, het hulle ’n volle 30 dae lank oor hom gehuil en getreur.

NUMERI 20:14-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses het van Kades af boodskappers na die koning van Edom gestuur: “Jou broersvolk Israel sê: Jy weet watter ontberings ons gely het. Ons voorouers het afgegaan na Egipte toe. Ons het baie jare in Egipte gewoon. Egipte het ons voorouers baie sleg behandel. Ons het die HERE om hulp gesmeek. Hy het ons gebede verhoor en sy engel na ons toe gestuur. Hy het ons uit Egipte gelei. Ons is nou by Kades op die grens van jou land. “Gee tog toestemming dat ons deur jou land kan trek. Ons sal nie deur jou veld of jou wingerde trek nie. Ons sal ook nie water uit jou putte gebruik nie. Ons sal op die Hoofweg van die Konings bly sonder om links of regs af te wyk totdat ons dwarsdeur jou gebied is.” Die koning van Edom het hulle geantwoord: “Julle mag nie deur my gebied trek nie! Ek sal met my weermag teen julle uittrek!” Die Israeliete het hom laat weet: “Ons sal met die grootpad langs hou. As ons of ons vee van jou water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil werklik niks anders doen nie as net om deur jou gebied te trek.” Hy het teruggeantwoord: “Julle trek nie hier deur nie!” Edom het toe met ’n groot en goed gewapende weermag uitgetrek om teen hulle te veg. Omdat Edom geweier het om Israel toestemming te gee om deur sy gebied te trek, het Israel van hom af weggeswenk. Hulle is toe weg van Kades af en die groep Israeliete het by Horberg aangekom. By Horberg, op die grens van Edom, het die HERE vir Moses en Aäron gesê: “Aäron gaan nou by sy vaders versamel word. Hy sal nie ingaan in die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee nie. Julle twee wou mos nie na My luister by die water van Meriba nie. Vat nou vir Aäron en sy seun Eleasar saam met jou en klim uit teen die berg Hor. Trek Aäron se ampsklere uit. Trek dit dan vir sy seun Eleasar aan. Aäron sal daar sterf en met sy vaders verenig word.” Moses het gemaak soos die HERE gesê het. Terwyl die volk staan en kyk, het hulle Horberg uitgeklim. Moses het Aäron se klere uitgetrek en sy seun Eleasar dit laat aantrek. Aäron het daar op die kruin van die berg gesterf. Moses en Eleasar het toe van die berg afgeklim. Toe die mense sien dat Aäron dood is, het die hele Israel 30 dae lank oor hom gerou.