NÚMERI 20:14-29

NÚMERI 20:14-29 AFR53

Daarna het Moses uit Kades boodskappers na die koning van Edom gestuur: So sê jou broer Israel: Jy weet self al die moeilikheid wat ons oorgekom het. Ons vaders het na Egipte afgetrek, en ons het baie dae in Egipte gewoon, en die Egiptenaars het ons en ons vaders sleg behandel. Toe het ons die HERE aangeroep, en Hy het ons stem gehoor: Hy het 'n Engel gestuur en ons uit Egipte uitgelei. Hier is ons nou in Kades, 'n stad op die grens van jou grondgebied. Laat ons tog deur jou land trek: ons sal nie deur lande of wingerde trek nie en die water uit die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou; ons sal nie regs of links uitdraai nie, totdat ons deur jou grondgebied getrek het. Maar Edom antwoord hom: Jy sal deur my nie trek nie, anders sal ek jou met die swaard tegemoettrek. Toe sê die kinders van Israel vir hom: Ons sal met die grootpad trek, en as ons van jou water drink, ek en my vee, gee ek die prys daarvoor. Laat my net te voet deurtrek — verder niks nie. Maar hy antwoord: Jy sal nie deurtrek nie. En Edom het uitgetrek hom tegemoet met baie manskappe en met 'n sterk hand. So het Edom dan geweier om Israel toe te laat om deur sy grondgebied te trek. Daarop het Israel van hom af weggedraai. EN die kinders van Israel, die hele vergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor gekom. En die HERE het met Moses en Aäron by die berg Hor, op die grens van die land Edom, gespreek en gesê: Aäron sal by sy volksgenote versamel word, want hy mag nie kom in die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het nie, omdat julle teen my bevel wederstrewig was by die waters van Mériba. Neem Aäron en sy seun Eleásar, en laat hulle op die berg Hor opklim; en trek Aäron se klere uit en trek dit sy seun Eleásar aan; en Aäron sal daar by sy volksgenote versamel word en sterwe. Toe het Moses gedoen soos die HERE beveel het: hulle het op die berg Hor geklim voor die oë van die hele vergadering. En Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit sy seun Eleásar aangetrek. En Aäron het daar gesterwe op die top van die berg, maar Moses en Eleásar het van die berg afgeklim. En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel Aäron beween dertig dae lank.