NUMERI 15:22-41

NUMERI 15:22-41 AFR83

“Dit kan gebeur dat julle onopsetlik sondig en nie handel volgens al die gebooie wat Ek, die Here, aan Moses gegee het nie, dat julle nie handel volgens alles wat Ek julle deur Moses beveel het van die dag af waarop Ek dit gegee het en verder in julle nageslagte nie. As dit onopsetlik gedoen is sonder dat die gemeente daarvan bewus was, moet die hele gemeente 'n jong bul as brandoffer berei wat deur My, die Here, aanvaar word. Hulle moet dit berei saam met die voorgeskrewe graan- en drankoffer, en 'n bokram as sondeoffer. Die priester moet vir die hele gemeente van Israel versoening doen, en hulle sal vergewe word, want dit was onopsetlik, en hulle het vir hulle onopsetlike sonde hulle vuuroffer en hulle sondeoffer vir My gebring. Die hele gemeente van Israel en die vreemdeling wat by hulle woon, sal vergewe word, want hulle het onopsetlik gesondig. As een persoon onopsetlik sondig, moet hy 'n jaaroud bokooi as sondeoffer bring. Die priester moet vir die persoon wat onopsetlik gesondig het, voor My versoening doen, en as die versoening vir hom gedoen is, sal die sonde hom vergewe word. Een en dieselfde wet geld vir elkeen wat onopsetlik gesondig het, of hy 'n gebore Israeliet is of 'n vreemdeling wat by julle woon. “Maar die landsburger of vreemdeling wat moedswillig sondig, doen My, die Here, oneer aan en hy moet van sy volk afgesny word. Omdat hy die woord van die Here verag het en sy gebooie verbreek het, moet so iemand doodgemaak word; hy moet die straf vir sy sonde dra.” Terwyl die Israeliete in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die sabbat hout bymekaarmaak. Die mense wat hom gekry het terwyl hy besig was om hout bymekaar te maak, het hom na Moses, Aäron en die hele gemeente toe gebring. Hulle het hom aangehou, want dit was nie duidelik wat hulle met hom moes doen nie. Die Here het toe vir Moses gesê: “Die man moet beslis sterwe. Die hele gemeente moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.” Hulle het hom toe uitgebring buite die kamp en hom met klippe doodgegooi. So het hy dan gesterf, soos die Here vir Moses beveel het. Die Here het verder vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete hulle moet aan die some van hulle klere klossies vaswerk. Dit geld ook vir hulle nageslag. Hulle moet 'n blou toutjie aan die hoekklossies vaswerk. As julle die klossies sien, moet julle dink aan al my gebooie sodat julle dit onderhou en nie die sondige begeertes van julle hart en oë navolg nie. Julle moet aan al my gebooie dink en hulle onderhou sodat julle aan My gewy sal wees. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte gebring het om vir julle 'n God te wees. Ek is die Here julle God.”

Video for NUMERI 15:22-41