Numeri 15:22-41

Numeri 15:22-41 DB

“Dit kan dalk gebeur dat een van julle ’n fout maak en nie al hierdie reëls nakom wat die Here vir Moses gegee het nie. Of dat julle kinders dalk in die toekoms per ongeluk nie alles doen soos die Here dit wil hê nie. Dan moet die hele volk bymekaarkom en ’n jong bul as ’n brandoffer en ’n bokram aan die Here offer om te wys hulle is jammer oor hulle sondes. Hulle moet dit offer saam met die gewone graan- en drankoffers. As hulle dit doen, sal die Here hulle sondes vergewe. Verder moet die priester ook namens die volk by die Here verskoning vra vir wat hulle verkeerd gedoen het. Dan sal die Here hulle vergewe omdat hulle nie moedswillig die sonde gedoen het nie en omdat hulle die offers gebring het wat die Here voorskryf. Almal wat verkeerd gedoen het, sal vir hierdie fout vergewe word, Israeliete sowel as persone van ander afkoms wat by hulle bly. “As dit net een mens is wat onwetend ’n sonde gedoen het, moet die persoon ’n jaaroud bokooi bring as teken van berou. Die priester moet namens die persoon vir die Here om verskoning vra, waarna die Here die persoon sal vergewe. Dit is een en dieselfde wet wat geld vir die Israeliete sowel as die persone van ander afkoms wat by hulle bly. “Indien iemand moedswillig sonde doen, het hy die Here se eer aangetas. Dit maak nie saak of die persoon ’n Israeliet is of ’n persoon van ’n ander afkoms wat by die Israeliete bly nie, maar dié persoon mag dan nie meer as deel van die volk van die Here beskou word nie. Die gemeenskap moet die rug vir so ’n persoon draai. Omdat so ’n persoon die Here verwerp het en moedswillig sy reëls oortree het, moet hy die gevolge van sy daad dra: hy moet doodgemaak word.” Op ’n dag terwyl die Israeliete weer in die woestyn was, het hulle agtergekom dat ’n sekere man op die sabbat vuurmaakhout bymekaargemaak het. Die mense wat hom op heterdaad betrap het, het hom na Moses, Aäron en die res van die volk toe gevat om oor sy lot te besluit. Omdat niemand heeltemal seker was wat om met hom te doen nie, het hulle hom opgesluit gehou. Toe sê die Here vir Moses: “Die man moet doodgemaak word! Vat hom uit die kamp uit en laat die volk hom met klippe doodgooi.” Hulle het hom toe uit die kamp uitgevat en hom met klippe doodgegooi soos die Here vir Moses gesê het. Die Here het vir Moses nog ’n opdrag gegee: “Sê vir die Israeliete hulle moet vir hulle tosseltjies maak. Hulle moet hierdie tosseltjies met blou gare aan hulle klere se some vaswerk. Hulle moet dit ook in die toekoms bly doen. Hierdie tosseltjies moet julle aan al die Here se opdragte herinner. Elke keer as julle dit sien, sal julle aan My en my voorskrifte dink. Dan sal julle nie in die versoeking kom om My te verlaat en agter julle eie begeertes aan te loop nie. Op dié manier sal julle gereeld aan my opdragte herinner word. Julle sal weet dat julle totaal en al aan My behoort en vir my diens opsy gesit is. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte uit laat trek het sodat Ek alleen julle God kan wees. Ja, Ek is die Here julle God!”

Video for Numeri 15:22-41