NUMERI 15:22-41

NUMERI 15:22-41 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het ook vir Moses gesê: “Wat moet julle doen wanneer julle 'n fout maak en julle doen nie alles wat Ek vir Moses gesê het nie? Ek het vir Moses gesê om alles vir julle te sê, en dit bly waar van die dag toe Ek dit gesê het tot die tyd van julle nageslag. Wanneer julle 'n fout gemaak het, maar die volksvergadering het nie geweet dat dit 'n fout is nie, dan moet die hele vergadering 'n bul gee om 'n brand-offer te wees wat vir My lekker ruik. Hulle moet dit gee saam met die koring-offer en die drank-offer wat hulle saam met die brand-offer moet bring, en ook 'n bok-ram om 'n sonde-offer te wees. Die priester doen dan versoening vir die hele vergadering van die Israeliete, en Ek sal hulle vergewe, want dit was 'n fout, maar hulle het hulle offers gegee, die vuur-offer vir My, en ook die sonde-offer vir die fout wat hulle gemaak het. Ek sal die hele vergadering van die Israeliete vergewe en ook die vreemdelinge wat tussen hulle woon, want dit is al die mense van die volk wat die fout gemaak het. “Wanneer een persoon 'n fout maak, dan moet hy 'n jaaroud bok-ooi gee om 'n sonde-offer te wees. Die priester doen dan versoening vir die persoon wat die fout gemaak het. Die persoon het 'n fout gemaak en hy het sonde gedoen teen My, en die priester moet versoening doen vir hom, sodat Ek hom kan vergewe. Daar moet dieselfde wet wees vir Israeliete en vir die vreemdelinge wat by hulle woon, dit moet dieselfde wet wees vir al die mense wat foute maak.” Die Here het ook gesê: “Maar wanneer 'n Israeliet of 'n vreemdeling 'n fout maak, en hy weet dat hy verkeerd doen, maar hy doen dit, dan wys hy dat Ek nie vir hom belangrik is nie, en dan moet julle hom afsny van die volk. Hy het gewys dat die dinge wat Ek sê, nie vir hom belangrik is nie, hy het nie gedoen wat Ek gesê het nie, en julle moet hom afsny, dit is sy eie skuld.” Toe die Israeliete in die woestyn was, het hulle op die Sabbatdag iemand gekry wat hout bymekaarmaak. Die mense wat hom gekry het toe hy die hout bymekaargemaak het, het hom na Moses en Aäron en die hele volksvergadering gebring. Hulle het nie geweet wat hulle moet doen met hom nie, en hulle het hom by hulle gehou. Die Here het toe vir Moses gesê: “Die man moet sterf, dit is seker. Die hele volksvergadering moet hom buite die kamp doodgooi met klippe.” Die hele vergadering het hom uit die kamp geneem en hulle het hom doodgegooi met klippe. Hy het gesterf soos die Here vir Moses gesê het. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê dat hulle en hulle nageslag tossels aan die hoeke van hulle bo-klere moet sit, en hulle moet 'n blou toutjie vasmaak aan die tossels op elke hoek. Julle moet die tossels hê, want wanneer julle die tossels sien, dan sal julle alles onthou wat Ek gesê het en julle sal dit doen. Dan sal julle nie doen wat julle self graag wil doen nie en julle sal nie ontrou word aan My nie. Julle sal alles onthou wat Ek vir julle gesê het en julle sal dit doen en julle sal gewy wees aan My, julle God. Ek is julle God die Here wat julle uit die land Egipte gebring het sodat Ek julle God kan wees. Ek is julle God die Here.”

NUMERI 15:22-41 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Verder, as julle jul misgaan en nie al hierdie gebooie doen wat die HERE aan Moses meegedeel het nie — alles wat die HERE julle deur Moses beveel het van die dag af dat die HERE dit beveel het en verder in julle geslagte — dan moet die hele vergadering, as dit buiten wete van die vergadering, in swakheid gebeur het, een jong bul berei vir 'n brandoffer as lieflike geur aan die HERE, met die spysoffer en die drankoffer wat volgens voorskrif daarby behoort; en een bokram as sondoffer. En die priester moet versoening doen vir die hele vergadering van die kinders van Israel, en dit sal hulle vergewe word; want 'n swakheid was dit, en húlle het hul offer as vuuroffer aan die HERE en hul sondoffer, weens hulle swakheid, voor die aangesig van die HERE gebring. Dit sal dan die hele vergadering van die kinders van Israel vergewe word, ook die vreemdeling wat onder hulle vertoef; want dit het die hele volk deur swakheid oorgekom. En as 'n enkele siel in swakheid sondig, moet dié 'n jaaroud bokooi as sondoffer bring. En die priester moet versoening doen vir die siel wat hom misgaan het, weens sy sonde in swakheid voor die aangesig van die HERE begaan, om vir hom versoening te doen; en dit sal hom vergewe word. Wat die kind van die land onder die kinders van Israel aangaan en die vreemdeling wat onder hulle vertoef — een en dieselfde wet moet vir julle geld, vir hom wat in swakheid iets doen. Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit. Want die woord van die HERE het hy verag en sy gebod verbreek. Dié siel moet sekerlik uitgeroei word; sy ongeregtigheid is op hom. EN toe die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die sabbatdag hout bymekaarmaak. En die wat hom gekry het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses en Aäron en na die hele vergadering gebring. En hulle het hom in die gevangenis gesit, want dit was nie beslis wat met hom gedoen moes word nie. Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer stenig. Toe het die hele vergadering hom buitekant die laer uitgebring en hom gestenig, dat hy gesterf het, soos die HERE Moses beveel het. EN die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle, hulle moet vir hulle klossies maak aan die hoeke van hul klere, in hulle geslagte, en aan die hoekklossies 'n draad van pers stof vasbind. En dit sal julle as klossies dien: as julle dit sien, moet julle aan al die gebooie van die HERE dink, dat julle dit doen en nie jul hart en jul oë navolg waar julle agter aan hoereer nie, sodat julle aan al my gebooie mag dink en dit doen, en aan julle God heilig mag wees. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle 'n God te wees. Ek is die HERE julle God.

NUMERI 15:22-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Dit kan gebeur dat julle onopsetlik sondig en nie handel volgens al die gebooie wat Ek, die Here, aan Moses gegee het nie, dat julle nie handel volgens alles wat Ek julle deur Moses beveel het van die dag af waarop Ek dit gegee het en verder in julle nageslagte nie. As dit onopsetlik gedoen is sonder dat die gemeente daarvan bewus was, moet die hele gemeente 'n jong bul as brandoffer berei wat deur My, die Here, aanvaar word. Hulle moet dit berei saam met die voorgeskrewe graan- en drankoffer, en 'n bokram as sondeoffer. Die priester moet vir die hele gemeente van Israel versoening doen, en hulle sal vergewe word, want dit was onopsetlik, en hulle het vir hulle onopsetlike sonde hulle vuuroffer en hulle sondeoffer vir My gebring. Die hele gemeente van Israel en die vreemdeling wat by hulle woon, sal vergewe word, want hulle het onopsetlik gesondig. As een persoon onopsetlik sondig, moet hy 'n jaaroud bokooi as sondeoffer bring. Die priester moet vir die persoon wat onopsetlik gesondig het, voor My versoening doen, en as die versoening vir hom gedoen is, sal die sonde hom vergewe word. Een en dieselfde wet geld vir elkeen wat onopsetlik gesondig het, of hy 'n gebore Israeliet is of 'n vreemdeling wat by julle woon. “Maar die landsburger of vreemdeling wat moedswillig sondig, doen My, die Here, oneer aan en hy moet van sy volk afgesny word. Omdat hy die woord van die Here verag het en sy gebooie verbreek het, moet so iemand doodgemaak word; hy moet die straf vir sy sonde dra.” Terwyl die Israeliete in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die sabbat hout bymekaarmaak. Die mense wat hom gekry het terwyl hy besig was om hout bymekaar te maak, het hom na Moses, Aäron en die hele gemeente toe gebring. Hulle het hom aangehou, want dit was nie duidelik wat hulle met hom moes doen nie. Die Here het toe vir Moses gesê: “Die man moet beslis sterwe. Die hele gemeente moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.” Hulle het hom toe uitgebring buite die kamp en hom met klippe doodgegooi. So het hy dan gesterf, soos die Here vir Moses beveel het. Die Here het verder vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete hulle moet aan die some van hulle klere klossies vaswerk. Dit geld ook vir hulle nageslag. Hulle moet 'n blou toutjie aan die hoekklossies vaswerk. As julle die klossies sien, moet julle dink aan al my gebooie sodat julle dit onderhou en nie die sondige begeertes van julle hart en oë navolg nie. Julle moet aan al my gebooie dink en hulle onderhou sodat julle aan My gewy sal wees. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte gebring het om vir julle 'n God te wees. Ek is die Here julle God.”

NUMERI 15:22-41 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ ‘ Dit kan gebeur dat julle onopsetlik iets verkeerds doen en nie al hierdie gebooie nakom wat die HERE aan Moses opgedra het nie, ja, alles wat die HERE julle by monde van Moses beveel het, van die dag af toe die HERE dit beveel het, en daarna, vir julle nageslagte. As dit onopsetlik gedoen is, sonder die medewete van die volksvergadering, moet die hele volksvergadering een jong bul as 'n •brandoffer bring saam met die bypassende graan- en drankoffer, soos bepaal word, as 'n geurige offer vir die HERE, asook een bokram as 'n •reinigingsoffer. Die priester moet vir die hele volksvergadering van die Israeliete versoening doen. Dit sal hulle vergewe word, want dit is 'n onopsetlike sonde. Hulle het dan hulle offer as 'n offergawe aan die HERE gebring, asook hulle reinigingsoffer voor die HERE vir hulle onopsetlike oortreding. Die hele volksvergadering van die Israeliete en die vreemdeling wat tydelik tussen julle verblyf het, sal vergewe word, want die hele volk was betrokke by die onopsetlike oortreding. “ ‘As iemand onopsetlik sondig, moet hy 'n jaaroud bokooi as reinigingsoffer aanbied. Die priester moet vir die persoon wat onopsetlik 'n oortreding begaan het, voor die HERE versoening doen oor sy onopsetlike sonde. Hy moet vir hom versoening doen en dan sal dit hom vergewe word. Die gebore Israeliete onder julle en die vreemdelinge wat tussen julle tydelike verblyf het – dieselfde wet geld vir julle almal, vir elkeen wat 'n onopsetlike oortreding begaan. Maar die persoon onder die landsburgers en die vreemdelinge wat dit uitdagend doen – dit is met die HERE wat hy spot. Hierdie persoon sal uit die midde van sy volk uitgeroei word. Omdat hy die woord van die HERE verag en sy gebod verbreek het, sal hierdie persoon beslis afgesny word. Sy sondeskuld rus op hom.’ ” Toe die Israeliete in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die Sabbatdag hout bymekaarmaak. Hulle wat op hom afgekom het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses, Aäron en die hele volksvergadering gebring. Hulle het hom onder bewaking gehou, omdat dit nie duidelik was wat met hom gedoen moet word nie. Toe sê die HERE vir Moses: “Die man moet beslis sterf. Die hele volksvergadering moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.” Die hele volksvergadering het hom uit die kamp geneem, en hom met klippe doodgegooi. Hy het gesterf, soos wat die HERE Moses beveel het. Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle dat hulle vir hulle tossels aan die soom van hulle klere moet maak – ook hulle nageslagte. En dat hulle aan die tossels by die soom 'n draad pers wol moet vasmaak. Dit sal julle kenmerkende tossels wees en wanneer julle dit sien, sal julle dink aan al die gebooie van die HERE en dit uitvoer. Julle sal nie julle harte en oë volg, waardeur julle verlei word nie. Dit is sodat julle al my gebooie sal onthou en uitvoer, en sodat julle heilig kan wees vir julle God. Ek is die HERE, julle God, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het om vir julle 'n God te wees. Ek is die HERE, julle God.”

NUMERI 15:22-41 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En as julle gedwaal het en al hierdie gebooie wat die HERE met Moses gespreek het, nie onderhou het nie, Alles wat die HERE julle deur die hand van Moses beveel het, van die dag af dat die HERE Moses beveel het, en verder onder julle geslagte; Dan sal dit wees, as dit deur onkunde begaan word sonder die medewete van die vergadering, dat die hele vergadering een jong bul as brandoffer, as lieflike geur aan die HERE, saam met sy spysoffer en sy drankoffer moet berei, volgens die voorskrif, en een bokram as sondoffer. En die priester moet versoening doen vir die hele vergadering van die kinders van Israel, en dit sal hulle vergewe word; want dit is onkunde; en hulle moet hul offer bring, 'n vuuroffer aan die HERE, en hul sondoffer voor die aangesig van die HERE vanweë hul onkunde. En dit sal vergewe word aan die hele vergadering van die kinders van Israel en die vreemdeling wat onder hulle vertoef; siende dat al die mense in onkunde was. En as iemand deur onkunde sondig, moet hy 'n jaaroud bokooi as sondoffer bring. En die priester moet versoening doen vir die siel wat in onwetendheid sondig, as hy in onwetendheid sondig voor die aangesig van die HERE, om vir hom versoening te doen; en dit sal hom vergewe word. Een wet sal julle hê vir hom wat deur onkunde sondig, sowel vir hom wat onder die kinders van Israel gebore is, sowel as vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef. Maar die siel wat vermetel handel, of hy in die land gebore is of 'n vreemdeling, dié smaad die HERE; en daardie siel sal onder sy volk uitgeroei word. Omdat hy die woord van die HERE verag en sy gebod verbreek het, sal daardie siel met die banvloek getref word; sy ongeregtigheid sal op hom wees. En terwyl die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die sabbatdag hout bymekaarmaak. En die wat hom gevind het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses en Aäron en na die hele vergadering gebring. En hulle het hom in bewaring geplaas, omdat daar nie aangekondig is wat met hom gedoen moet word nie. Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer met klippe stenig. En die hele vergadering het hom buitekant die laer gebring en hom met klippe gestenig, sodat hy gesterf het; soos die HERE Moses beveel het. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle dat hulle vir hulle fraiings maak aan die rande van hulle klere in hulle geslagte, en dat hulle aan die rand van die rande 'n pers band moet sit. En dit moet vir julle as 'n kuif wees, dat julle dit kan aanskou en aan al die gebooie van die HERE dink en dit doen; en dat julle nie julle eie hart en julle eie oë soek nie, waarna julle gehoereer het. Sodat julle al my gebooie kan onthou en doen en heilig kan wees aan julle God. Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland uitgelei het om jou God te wees; Ek is die HERE jou God.

NUMERI 15:22-41 Die Boodskap (DB)

“Dit kan dalk gebeur dat een van julle ’n fout maak en nie al hierdie reëls nakom wat die Here vir Moses gegee het nie. Of dat julle kinders dalk in die toekoms per ongeluk nie alles doen soos die Here dit wil hê nie. Dan moet die hele volk bymekaarkom en ’n jong bul as ’n brandoffer en ’n bokram aan die Here offer om te wys hulle is jammer oor hulle sondes. Hulle moet dit offer saam met die gewone graan- en drankoffers. As hulle dit doen, sal die Here hulle sondes vergewe. Verder moet die priester ook namens die volk by die Here verskoning vra vir wat hulle verkeerd gedoen het. Dan sal die Here hulle vergewe omdat hulle nie moedswillig die sonde gedoen het nie en omdat hulle die offers gebring het wat die Here voorskryf. Almal wat verkeerd gedoen het, sal vir hierdie fout vergewe word, Israeliete sowel as persone van ander afkoms wat by hulle bly. “As dit net een mens is wat onwetend ’n sonde gedoen het, moet die persoon ’n jaaroud bokooi bring as teken van berou. Die priester moet namens die persoon vir die Here om verskoning vra, waarna die Here die persoon sal vergewe. Dit is een en dieselfde wet wat geld vir die Israeliete sowel as die persone van ander afkoms wat by hulle bly. “Indien iemand moedswillig sonde doen, het hy die Here se eer aangetas. Dit maak nie saak of die persoon ’n Israeliet is of ’n persoon van ’n ander afkoms wat by die Israeliete bly nie, maar dié persoon mag dan nie meer as deel van die volk van die Here beskou word nie. Die gemeenskap moet die rug vir so ’n persoon draai. Omdat so ’n persoon die Here verwerp het en moedswillig sy reëls oortree het, moet hy die gevolge van sy daad dra: hy moet doodgemaak word.” Op ’n dag terwyl die Israeliete weer in die woestyn was, het hulle agtergekom dat ’n sekere man op die sabbat vuurmaakhout bymekaargemaak het. Die mense wat hom op heterdaad betrap het, het hom na Moses, Aäron en die res van die volk toe gevat om oor sy lot te besluit. Omdat niemand heeltemal seker was wat om met hom te doen nie, het hulle hom opgesluit gehou. Toe sê die Here vir Moses: “Die man moet doodgemaak word! Vat hom uit die kamp uit en laat die volk hom met klippe doodgooi.” Hulle het hom toe uit die kamp uitgevat en hom met klippe doodgegooi soos die Here vir Moses gesê het. Die Here het vir Moses nog ’n opdrag gegee: “Sê vir die Israeliete hulle moet vir hulle tosseltjies maak. Hulle moet hierdie tosseltjies met blou gare aan hulle klere se some vaswerk. Hulle moet dit ook in die toekoms bly doen. Hierdie tosseltjies moet julle aan al die Here se opdragte herinner. Elke keer as julle dit sien, sal julle aan My en my voorskrifte dink. Dan sal julle nie in die versoeking kom om My te verlaat en agter julle eie begeertes aan te loop nie. Op dié manier sal julle gereeld aan my opdragte herinner word. Julle sal weet dat julle totaal en al aan My behoort en vir my diens opsy gesit is. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte uit laat trek het sodat Ek alleen julle God kan wees. Ja, Ek is die Here julle God!”

NUMERI 15:22-41 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Iemand kan miskien vergeet om die voorskrifte na te kom wat die HERE vir Moses gegee het. Dit kan in die toekoms gebeur dat julle nageslag nalaat om alles te doen wat die HERE vir julle deur Moses beveel het. As dit nie doelbewus gebeur het nie en die gemeenskap het nie daarvan geweet nie, moet die hele gemeenskap ’n jong bul as brandoffer bring om vir die HERE vreugde te gee. ’n Graanoffer soos dit voorgeskryf is, ’n drankoffer en ’n bokram as sonde-offer moet saam gebring word. Die priester moet versoening bring vir die hele gemeenskap van die Israeliete. Dit sal hulle vergewe word. Dit was nie ’n doelbewuste oortreding nie. Hulle het tog ’n vuuroffer en ’n sonde-offer vir die HERE gebring vir hulle oortreding. Al die Israeliete sal vergewe word, ook die vreemdeling en die hele gemeenskap, want dit was ’n onbedoelde oortreding. “As ’n individu onopsetlik sondig, moet hy ’n bokooitjie van ’n jaar oud bring as ’n sonde-offer. Die priester sal die persoon se oortreding met die HERE versoen. Die persoon sal vergeef word. As iemand onopsetlik oortree, geld presies dieselfde reël vir sowel die vaste inwoner as die vreemdeling wat by julle bly. “Die persoon wat egter opsetlik oortree, inwoner of vreemdeling, beledig die HERE. Daardie persoon moet uit die volk verwyder word. Daardie persoon het die woord van die HERE met veragting behandel en sy wette verbreek. Hy moet heeltemal afgesny word. Hy dra self die skuld vir sy oortreding.” Terwyl hulle in die woestyn was, het hulle op ’n man afgekom wat besig was om op die Sabbat hout op te tel. Die mense wat hom gevang het, het hom toe voor Moses, Aäron en die res van die gemeenskap gebring. Hulle het hom aangehou omdat hulle nie geweet het wat om met hom te maak nie. Die HERE sê toe vir Moses: “Die man moet tereggestel word! Die hele gemeenskap moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.” Hulle het hom toe buite die kamp gevat en hom daar met klippe doodgegooi, soos die HERE vir Moses gesê het. Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Julle moet vir julle klossies maak om aan die soom van julle klere vas te werk. Elke geslag moet dit doen. Werk dit met blou gare aan julle klere vas. Wanneer julle dit sien, sal julle aan al die gebooie van die HERE dink sodat julle dit kan nakom. Moenie agter julle eie begeertes en wense aanhardloop soos julle geneig is om te doen nie. Die klossies sal julle daaraan herinner om alles te doen wat die HERE gesê het. Julle moet toegewyd wees aan julle God. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Ek is die HERE julle God.”