Numeri 15:22-41

Numeri 15:22-41 AFR20

“ ‘ Dit kan gebeur dat julle onopsetlik iets verkeerds doen en nie al hierdie gebooie nakom wat die HERE aan Moses opgedra het nie, ja, alles wat die HERE julle by monde van Moses beveel het, van die dag af toe die HERE dit beveel het, en daarna, vir julle nageslagte. As dit onopsetlik gedoen is, sonder die medewete van die volksvergadering, moet die hele volksvergadering een jong bul as 'n •brandoffer bring saam met die bypassende graan- en drankoffer, soos bepaal word, as 'n geurige offer vir die HERE, asook een bokram as 'n •reinigingsoffer. Die priester moet vir die hele volksvergadering van die Israeliete versoening doen. Dit sal hulle vergewe word, want dit is 'n onopsetlike sonde. Hulle het dan hulle offer as 'n offergawe aan die HERE gebring, asook hulle reinigingsoffer voor die HERE vir hulle onopsetlike oortreding. Die hele volksvergadering van die Israeliete en die vreemdeling wat tydelik tussen julle verblyf het, sal vergewe word, want die hele volk was betrokke by die onopsetlike oortreding. “ ‘As iemand onopsetlik sondig, moet hy 'n jaaroud bokooi as reinigingsoffer aanbied. Die priester moet vir die persoon wat onopsetlik 'n oortreding begaan het, voor die HERE versoening doen oor sy onopsetlike sonde. Hy moet vir hom versoening doen en dan sal dit hom vergewe word. Die gebore Israeliete onder julle en die vreemdelinge wat tussen julle tydelike verblyf het – dieselfde wet geld vir julle almal, vir elkeen wat 'n onopsetlike oortreding begaan. Maar die persoon onder die landsburgers en die vreemdelinge wat dit uitdagend doen – dit is met die HERE wat hy spot. Hierdie persoon sal uit die midde van sy volk uitgeroei word. Omdat hy die woord van die HERE verag en sy gebod verbreek het, sal hierdie persoon beslis afgesny word. Sy sondeskuld rus op hom.’ ” Toe die Israeliete in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die Sabbatdag hout bymekaarmaak. Hulle wat op hom afgekom het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses, Aäron en die hele volksvergadering gebring. Hulle het hom onder bewaking gehou, omdat dit nie duidelik was wat met hom gedoen moet word nie. Toe sê die HERE vir Moses: “Die man moet beslis sterf. Die hele volksvergadering moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.” Die hele volksvergadering het hom uit die kamp geneem, en hom met klippe doodgegooi. Hy het gesterf, soos wat die HERE Moses beveel het. Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle dat hulle vir hulle tossels aan die soom van hulle klere moet maak – ook hulle nageslagte. En dat hulle aan die tossels by die soom 'n draad pers wol moet vasmaak. Dit sal julle kenmerkende tossels wees en wanneer julle dit sien, sal julle dink aan al die gebooie van die HERE en dit uitvoer. Julle sal nie julle harte en oë volg, waardeur julle verlei word nie. Dit is sodat julle al my gebooie sal onthou en uitvoer, en sodat julle heilig kan wees vir julle God. Ek is die HERE, julle God, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het om vir julle 'n God te wees. Ek is die HERE, julle God.”

Video for Numeri 15:22-41