NÚMERI 15:22-41

NÚMERI 15:22-41 AFR53

Verder, as julle jul misgaan en nie al hierdie gebooie doen wat die HERE aan Moses meegedeel het nie — alles wat die HERE julle deur Moses beveel het van die dag af dat die HERE dit beveel het en verder in julle geslagte — dan moet die hele vergadering, as dit buiten wete van die vergadering, in swakheid gebeur het, een jong bul berei vir 'n brandoffer as lieflike geur aan die HERE, met die spysoffer en die drankoffer wat volgens voorskrif daarby behoort; en een bokram as sondoffer. En die priester moet versoening doen vir die hele vergadering van die kinders van Israel, en dit sal hulle vergewe word; want 'n swakheid was dit, en húlle het hul offer as vuuroffer aan die HERE en hul sondoffer, weens hulle swakheid, voor die aangesig van die HERE gebring. Dit sal dan die hele vergadering van die kinders van Israel vergewe word, ook die vreemdeling wat onder hulle vertoef; want dit het die hele volk deur swakheid oorgekom. En as 'n enkele siel in swakheid sondig, moet dié 'n jaaroud bokooi as sondoffer bring. En die priester moet versoening doen vir die siel wat hom misgaan het, weens sy sonde in swakheid voor die aangesig van die HERE begaan, om vir hom versoening te doen; en dit sal hom vergewe word. Wat die kind van die land onder die kinders van Israel aangaan en die vreemdeling wat onder hulle vertoef — een en dieselfde wet moet vir julle geld, vir hom wat in swakheid iets doen. Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit. Want die woord van die HERE het hy verag en sy gebod verbreek. Dié siel moet sekerlik uitgeroei word; sy ongeregtigheid is op hom. EN toe die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die sabbatdag hout bymekaarmaak. En die wat hom gekry het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses en Aäron en na die hele vergadering gebring. En hulle het hom in die gevangenis gesit, want dit was nie beslis wat met hom gedoen moes word nie. Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer stenig. Toe het die hele vergadering hom buitekant die laer uitgebring en hom gestenig, dat hy gesterf het, soos die HERE Moses beveel het. EN die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle, hulle moet vir hulle klossies maak aan die hoeke van hul klere, in hulle geslagte, en aan die hoekklossies 'n draad van pers stof vasbind. En dit sal julle as klossies dien: as julle dit sien, moet julle aan al die gebooie van die HERE dink, dat julle dit doen en nie jul hart en jul oë navolg waar julle agter aan hoereer nie, sodat julle aan al my gebooie mag dink en dit doen, en aan julle God heilig mag wees. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle 'n God te wees. Ek is die HERE julle God.

Video for NÚMERI 15:22-41