Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in gestuur. Dit het 'n deel van die kamp verbrand. Die volk het hulle nood by Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. Hulle het die plek Tabera genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het.
Die mense van ander afkoms wat saam met die Israeliete getrek het, het 'n onweerstaanbare lus vir vleis gekry, en toe het die Israeliete self ook begin kla en gesê: “As ons tog net vleis gehad het om te eet! Ons onthou nog die vis wat ons in Egipte verniet kon eet, ook die komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel. Maar nou wurg ons. Daar is niks behalwe hierdie manna voor ons nie!”
Die manna was soos koljandersaad en het gelyk soos balsemgom. Die volk het die manna oral vandaan bymekaargemaak, dit op maalklippe gemaal of in vysels gestamp en dan in panne gebak of roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak.
Die manna het snags saam met die dou by die kamp geval.
Moses het die volk hoor kla, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here het hieroor baie kwaad geword, en dit was ook verkeerd in Moses se oë. Moses sê toe vir die Here: “Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het? Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê: ‘Dra hulle aan jou bors soos 'n oppasser met 'n suigeling doen, en bring hulle na die land toe wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het’? Waar sal ek die vleis vandaan haal om aan hierdie hele volk te gee, hulle wat by my kla en sê: ‘Gee vir ons vleis dat ons kan eet!’ Ek sien nie langer kans om hierdie hele volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my. As U so met my wil maak, kan U my gerus maar om die lewe bring as U my goedgesind is. Hierdie slegte behandeling kan ek nie meer verduur nie.”
Die Here het vir Moses gesê: “Bring vir My sewentig van Israel se leiers, mense van wie jy weet dat hulle leiers en ampsdraers van die volk is. Neem hulle na die tent van ontmoeting toe en laat hulle daar by jou staan. Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie. Vir die volk moet jy sê: Reinig julle vir môreoggend, dan sal julle vleis eet. Die Here het gehoor hoe julle kla en sê: ‘As ons tog net vleis gehad het om te eet; in Egipte was dit vir ons goed!’ Die Here sal vir julle vleis gee, en julle sal eet! Julle sal nie net een dag of twee of vyf of tien of twintig dae eet nie, maar 'n hele maand lank, totdat julle daarvan naar word en daarvan walg, omdat julle die Here wat by julle is, getart het, en Hom verwyt het met die woorde: Waarom is ons tog uit Egipte weg?”
Moses het toe gesê: “Hier is ek tussen ses honderd duisend mense, almal te voet, en U sê U sal vir hulle vleis gee, sodat hulle 'n hele maand lank daarvan kan eet! Sal daar genoeg skape en beeste vir hulle geslag kan word? Sal hulle genoeg hê as al die vis in die see vir hulle gevang word?”
Maar die Here het vir Moses gesê: “Dink jy Ek het nie die mag nie? Jy sal nou self sien of my woord bewaarheid word of nie.”