Die volk het erg begin kla in die ore van die HERE. Toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontbrand. Die vuur van die HERE het teen hulle ontbrand, en dit het die rand van die kamp verteer. Die volk het na Moses om hulp geroep; Moses het tot die HERE gebid, en die vuur het doodgegaan. Daardie plek is toe Tabera genoem, omdat die vuur van die HERE teen hulle ontbrand het.
Die gepeupel wat tussen die Israeliete was, het baie gulsig geraak. Ook die Israeliete het weer gekerm en gesê: “As iemand ons tog maar net vleis sal gee om te eet! Ons onthou die vis wat ons in Egipte geëet het, verniet; ook die komkommers, waatlemoene, preie, uie en knoffel. Maar nou is ons kele droog; daar is absoluut niks behalwe hierdie manna waarteen ons moet vaskyk nie.”
Die manna was soos koljandersaad en het die kleur van balsemhars gehad. Die volk het rondgegaan, dit bymekaargemaak en dan met maalklippe gemaal of in vysels fyngestamp. Hulle het dit in potte gekook en roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het gesmaak soos iets wat met olie gebak is. Wanneer die dou snags op die kamp afgekom het, het die manna daarmee saam afgekom.
Moses het die volk hoor kerm, in hulle familiegroepe, elkeen by die ingang van sy tent. Die toorn van die HERE het hewig ontbrand. In die oë van Moses was dit verkeerd. Moses sê toe vir die HERE: “Waarom maak U dit moeilik vir u dienskneg? Waarom vind ek nie genade in u oë nie? Om darem die las van hierdie hele volk op my te plaas! Het ék dan swanger geraak met hierdie hele volk of het ék aan hulle geboorte gegee, dat U vir my sê, ‘Dra hulle teen jou bors soos 'n pleegouer 'n suigeling dra’ na die grond wat U aan hulle voorouers met 'n eed beloof het? Waar moet ek vleis kry om vir hierdie hele volk te gee? Want hulle kerm by my en sê, ‘Gee vir ons vleis, sodat ons kan eet!’ Alleen kan ek hierdie hele volk nie dra nie, want dit is te veeleisend vir my. As U so met my wil maak, maak my dan maar dadelik dood. As ek genade in u oë gevind het, laat my dan nie my ellende aanskou nie.”
Die HERE sê toe vir Moses: “Maak vir my sewentig man uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy die ervaring het dat hulle die oudstes van die volk en opsieners is. Neem hulle dan na die Tent van Ontmoeting en laat hulle daar by jou staan. Ek sal afkom en daar met jou praat. Ek sal 'n deel van die Gees wat op jou rus, wegneem en op hulle plaas. Hulle sal dan saam met jou die las van die volk dra sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.
“ Vir die volk moet jy sê, ‘Heilig julleself teen môre, dan sal julle vleis eet. Want julle het in die ore van die HERE gekerm en gesê, “As iemand ons maar net vleis sal gee om te eet! Dit was immers vir ons goed in Egipte.” Die HERE sal vir julle vleis gee, en julle sal eet. Julle sal nie net een dag eet nie, nie twee dae, nie vyf dae, nie tien dae of twintig dae nie, maar 'n volle maand lank, totdat dit by julle ore uitkom en julle walg, omdat julle die HERE wat in julle midde was, verwerp en voor Hom gekerm het deur te sê, “Waarvoor het ons uit Egipte weggetrek?” ’ ”
Daarop het Moses gesê: “Seshonderdduisend mense te voet is die volk in wie se midde ek is, en U sê, ‘Vleis sal Ek vir hulle gee, sodat hulle 'n maand lank sal eet.’ Kan daar kleinvee en beeste vir hulle geslag word, sodat daar vir hulle genoeg is? Sal daar vir hulle genoeg wees as al die visse in die see vir hulle gevang word?”
Maar die HERE het Moses geantwoord: “Is die HERE se hand te kort? Nou sal jy sien of my woord vir jou waar word of nie.”