NUMERI 11:1-23

NUMERI 11:1-23 NLV

Die volk het by die HERE begin kla oor hulle swaarkry. Toe Hy dit hoor, het die Here kwaad geword. Vuur wat van die HERE af kom, het onder hulle uitgebreek. Dit het tot op die kant van die kamp gebrand. Hulle het na Moses geroep om hulle te help. Hy het tot die HERE gebid en die vuur het bedaar. Die plek is toe Tabera genoem, want vuur wat van die HERE af kom, het daar onder hulle gebrand. ’n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry. Die Israeliete het toe ook begin kerm: “Waar kan ons tog vleis kry? Ons onthou nog hoe ons net soveel vis kon eet soos ons wou in Egipte. Daar was komkommers en waatlemoene en prei en uie en knoffel. Maar nou stik ons aan die manna waarteen ons elke dag moet vaskyk!” Die manna was soos koljandersaad. Dit het ’n vaal kleur gehad. Die volk het uitgegaan en dit van die grond af opgetel. Hulle het dit dan tussen klippe gemaal of in ’n vysel stukkend gestamp. Daarna het hulle dit in ’n pot gekook en dan daarvan plaatkoeke gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak. Die manna het saam met die dou gedurende die nag geval. Moses het gehoor hoe die stamme van die volk by hulle tente se openinge staan en mor. Die HERE het baie kwaad geword. Dit was vir Moses ’n baie verkeerde ding. Moses vra toe vir die HERE: “Waarom het U hierdie moeilikheid oor u dienaar gebring? Waarom het U my met hierdie volk opgesaal? Is ek hierdie volk se pa? Het ek hulle gemaak dat U vir my sê: ‘Dra hulle in jou arms soos ’n oppasser ’n suigeling ronddra. Vat hulle na die land wat Ek vir hulle voorsate beloof het.’ Waar gaan ek vleis kry vir hierdie hele volk? Hulle kerm by my en hulle vra: ‘Gee vir ons vleis om te eet.’ “Ek kan nie alleen hierdie hele volk versorg nie. Hulle is te veel vir my. As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk.” HERE Die HERE sê toe vir Moses: “Maak uit die ouer mans van Israel vir My 70 mans bymekaar van wie jy weet dat hulle die oudstes en die leiers is. Vat hulle saam na die tabernakel toe en wag daar saam met hulle. Ek sal afkom en met jou kom praat. Ek sal my Gees wat in jou woon ook in hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou verantwoordelik wees vir die volk. Jy sal dit nie meer alleen hoef te dra nie. “Sê vir die volk: Heilig julleself vir môre. Julle sal dan vleis kry om te eet. Die HERE het gehoor hoe julle kerm: Waar sal ons vleis kry om te eet? Ons was beter af in Egipte! Die HERE sal dan vir julle vleis gee om te eet. Julle sal nie net vir een dag vleis hê om te eet nie, ook nie net vir twee of vir vyf of vir tien of vir selfs twintig dae nie. Julle sal elke dag vir ’n hele maand lank vleis eet totdat dit by julle ore uitkom en julle daarvan begin naar word. Julle het die HERE, wat tussen julle woon, verwerp, want julle het by Hom gekla: ‘Waarom moes ons uit Egipte weggaan?’” Moses het die HERE geantwoord: “Hier onder ons is daar 600 000 mans wat kan veg. En dan sê U nog: ‘Ek sal vir hulle vir ’n maand lank vleis gee om te eet.’ Sou dit genoeg wees as ons al die skape en die beeste vir hulle slag? Sou dit genoeg wees as ons al die visse van die see vir hulle bymekaarmaak?” Die HERE het vir Moses gesê: “Dink jy die HERE kan nie? Jy sal nou sien of Ek kan doen wat Ek sê of nie.”