NEHEMIA 9:32-38

NEHEMIA 9:32-38 AFR83

En nou, ons God, grote God, magtig en ontsagwekkend, U wat die verbond en die troue liefde in stand hou, moet tog nie al dié ellende gering ag nie, die ellende wat ons, ons konings, ons amptenare, ons priesters, ons profete, ons voorvaders, u hele volk, getref het van die tyd van die Assiriese konings af tot vandag toe. In alles wat oor ons gekom het, was U regverdig; U het reg gedoen, ons verkeerd. Ons konings, ons amptenare, ons priesters, ons voorvaders het nie u wet gehoorsaam nie, nie gelet op u gebooie, u verordeninge waarmee U hulle gewaarsku het nie. Hulle konings het nog geregeer en hulle het nog u groot goedheid geniet wat U hulle gegee het en in die wye, vrugbare land gewoon wat U aan hulle gegee het; al het hulle U nie gedien nie en hulle nie bekeer van hulle slegte dade nie. Hier is ons vandag slawe, ons is slawe in hierdie land, die land wat U aan ons voorvaders gegee het dat hulle die vrug daarvan en die goeie dinge daarin kan geniet. Sy ryke opbrengs behoort aan die konings wat U oor ons aangestel het as gevolg van ons sondes; die konings maak met ons en ons vee soos hulle wil. Ons verkeer in groot nood. Daarom gaan ons 'n skriftelike onderneming aan. Op die verseëlde dokument teken ons leiers, ons Leviete en ons priesters hulle name.