Nehemia 9:32-38

Nehemia 9:32-38 AFR20

“ Daarom, ons God, groot, magtige en ontsagwekkende God, U wat bly by die verbond en u troue liefde, laat dit tog nie gering wees voor U nie, al die swaarkry wat ons ervaar het – ons konings en leiers, ons priesters en profete, ons voorouers en u hele volk – vanaf die dae van die konings van Assirië tot vandag toe. U was regverdig in alles wat oor ons gekom het, ja, U het in trou opgetree – ons was skuldig. Ons konings en leiers, ons priesters en voorouers het u wet nie uitgevoer nie. Hulle het nie ag geslaan op u gebooie en bepalings waarmee U hulle gewaarsku het nie. Hulle het, met hulle eie koninkryk, te midde van u groot goedheid wat U aan hulle geskenk het, en in die wye en vrugbare land wat U vir hulle aangebied het, U nie gedien nie; hulle het nie weggedraai van hulle bose dade nie. “ Kyk, ons is vandag slawe; die grond wat U aan ons voorouers gegee het om die vrugte en die goeie daarvan te geniet – kyk, ons is slawe daarop. Die opbrengs daarvan word meer vir die konings wat U oor ons gestel het – en dit as gevolg van ons sondes. Oor ons liggame heers hulle, ook oor ons vee, soos hulle wil. Ons verkeer in groot nood.” “Op grond van dit alles gaan ons nou 'n bindende ooreenkoms sluit en dit op skrif stel, en daarop die seël plaas met die name van ons leiers, ons Leviete en ons priesters.”