Ons God, hoe groot is U! U is ongelooflik sterk; almal het groot respek vir U. Omdat U vir ons omgee, hou U elke belofte van die ooreenkoms wat U gemaak het. Moet tog nie by ons verbykyk in ons ellende nie. Van die tyd van die Assiriese konings af tot vandag toe het ons almal, ons konings, ons leiers, ons priesters, ons profete, ons voorouers, ja, die hele volk, al baie swaargekry. U het reg opgetree om ons te straf, U was reg; ons verkeerd. Ons konings, ons leiers, ons priesters en ons voorouers het nie gedoen wat U in u wet sê nie. Hulle het hulle doof gehou vir u bevele en u waarskuwings. Selfs toe hulle eie konings oor hulle regeer het en U hulle oorlaai het met net die beste in ’n vrugbare land, het hulle U nie gedien of opgehou met hulle sonde nie. Vandag is ons slawe in die land wat U vir ons voorouers gegee het sodat hulle daaruit kon lewe. Ten spyte van al die oorvloed in hierdie land is ons slawe! Die oorvloed van hierdie land behoort vandag aan die konings wat U oor ons laat regeer as gevolg van ons sonde. Hulle maak met ons en ons vee net wat hulle wil. Ons het groot probleme. Daarom maak ons ’n plegtige belofte teenoor U wat ons op skrif wil stel. Ons leiers, die Leviete en die priesters het dit namens ons met hulle handtekeninge bevestig en toe verseël.
Lees Nehemia 9
Deel
Vergelyk alle weergawes: Nehemia 9:32-38
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's