MATTEUS 26:14-46

MATTEUS 26:14-46 AFR83

Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ ” Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei. Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?” Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?” Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!” En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe: “ ‘Ek sal die herder doodmaak, en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.” Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.” Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die ander dissipels het ook so gesê. Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” 'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.” Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie. Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor MATTEUS 26:14-46