Toe het een van die twaalf, met die naam Judas Iskariot, na die leierpriesters gegaan en gesê: “Wat is u bereid om my te betaal as ek Hom aan u oorlewer?” Hulle het met hom op dertig silwerstukke ooreengekom. Van toe af het hy 'n gepaste geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.
Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels na Jesus gekom en gevra: “Waar wil U hê moet ons vir U voorbereidings tref om die Pasga te eet?” Hy het gesê: “Gaan in die stad na 'n sekere persoon en sê vir hom, ‘Die Leermeester sê: My tyd is naby – Ek wil die Pasga met my dissipels by jou vier.’ ” Die dissipels het gemaak soos Jesus hulle beveel het, en die Pasga voorberei. Teen die aand het Hy saam met die twaalf vir ete aangeleun. Terwyl hulle geëet het, het Hy gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.” Hulle was baie ontsteld, en een ná die ander het Hom begin vra: “Dit is seker nie ek nie, Here?” Hy het geantwoord: “Die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai. Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, sy verraaier, sê toe daarop: “Dit is seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Jý het dit gesê.”
Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, gee dit vir die dissipels en sê: “Neem, eet, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee en gesê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek beslis nie weer van hierdie vrug van die druiwestok drink nie, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut saam met julle sal drink in die •koninkryk van my Vader.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek.
Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal in hierdie nag van My afvallig raak. Daar staan immers geskryf,
“ ‘Ek sal die herder neervel,
en die skape van die kudde
sal uitmekaar gejaag word.’
“Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” •Petrus het egter vir Hom gesê: “Selfs al sal almal van U afvallig raak, ek sal nooit afvallig raak nie.” Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, jy sal My in hierdie nag, voor 'n haan kraai, drie maal verloën. ” Petrus sê toe vir Hom: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die dissipels het dieselfde gesê.
Toe gaan Jesus saam met hulle na 'n plek wat Getsemane genoem word, en Hy sê vir die dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gaan bid het.” Hy neem toe vir •Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam. En Hy het bedroef en beangs begin word. Toe sê Hy vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak saam met My.” Hy het toe 'n entjie verder gegaan, met sy gesig teen die grond neergeval en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Hy kom toe by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: “Was julle dan nie in staat om een uur lank saam met My te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het vir 'n tweede keer weggegaan en gebid: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. ” Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar van die slaap. Hy het hulle toe daar agtergelaat, weer teruggegaan en vir die derde keer gebid, en dieselfde woorde herhaal. Toe kom Hy by die dissipels en sê vir hulle: “Julle slaap en rus nog steeds? Kyk, die uur het aangebreek, en die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan. Kyk, die een wat My verraai, is naby.”