MATTEUS 26:14-46

MATTEUS 26:14-46 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe het een van die twaalf, met die naam Judas Iskariot, na die leierpriesters gegaan en gesê: “Wat is u bereid om my te betaal as ek Hom aan u oorlewer?” Hulle het met hom op dertig silwerstukke ooreengekom. Van toe af het hy 'n gepaste geleentheid gesoek om Hom oor te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels na Jesus gekom en gevra: “Waar wil U hê moet ons vir U voorbereidings tref om die Pasga te eet?” Hy het gesê: “Gaan in die stad na 'n sekere persoon en sê vir hom, ‘Die Leermeester sê: My tyd is naby – Ek wil die Pasga met my dissipels by jou vier.’ ” Die dissipels het gemaak soos Jesus hulle beveel het, en die Pasga voorberei. Teen die aand het Hy saam met die twaalf vir ete aangeleun. Terwyl hulle geëet het, het Hy gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.” Hulle was baie ontsteld, en een ná die ander het Hom begin vra: “Dit is seker nie ek nie, Here?” Hy het geantwoord: “Die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai. Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, sy verraaier, sê toe daarop: “Dit is seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Jý het dit gesê.” Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, gee dit vir die dissipels en sê: “Neem, eet, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee en gesê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek beslis nie weer van hierdie vrug van die druiwestok drink nie, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut saam met julle sal drink in die •koninkryk van my Vader.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal in hierdie nag van My afvallig raak. Daar staan immers geskryf, “ ‘Ek sal die herder neervel, en die skape van die kudde sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” •Petrus het egter vir Hom gesê: “Selfs al sal almal van U afvallig raak, ek sal nooit afvallig raak nie.” Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, jy sal My in hierdie nag, voor 'n haan kraai, drie maal verloën. ” Petrus sê toe vir Hom: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die dissipels het dieselfde gesê. Toe gaan Jesus saam met hulle na 'n plek wat Getsemane genoem word, en Hy sê vir die dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gaan bid het.” Hy neem toe vir •Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam. En Hy het bedroef en beangs begin word. Toe sê Hy vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak saam met My.” Hy het toe 'n entjie verder gegaan, met sy gesig teen die grond neergeval en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Hy kom toe by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: “Was julle dan nie in staat om een uur lank saam met My te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het vir 'n tweede keer weggegaan en gebid: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. ” Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar van die slaap. Hy het hulle toe daar agtergelaat, weer teruggegaan en vir die derde keer gebid, en dieselfde woorde herhaal. Toe kom Hy by die dissipels en sê vir hulle: “Julle slaap en rus nog steeds? Kyk, die uur het aangebreek, en die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan. Kyk, die een wat My verraai, is naby.”

MATTEUS 26:14-46 Bybel vir almal (ABA)

Een van die twaalf dissipels se naam was Judas Iskariot. Hy het na die priesterleiers toe gegaan en gevra: “Wat sal julle vir my gee as ek julle help om Jesus te vang?” Die priesterleiers het toe vir Judas 30 silwer geldstukke betaal. Van toe af het hy 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, het Jesus se dissipels na Hom toe gekom en vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?” Jesus het gesê hulle moet in Jerusalem na 'n man toe gaan en vir hom sê: “Ons Meneer sê: ‘My tyd is naby. Ek en my dissipels wil die Paas-ete in jou huis eet.’ ” Die dissipels het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit aand geword het, het Jesus saam met die twaalf dissipels by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe sê Jesus: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai.” Die dissipels was baie geskok en hartseer. Elke dissipel begin toe om vir Jesus te vra: “Here, is dit ek?” Jesus het vir hulle gesê: “Die een wat sy brood saam met My in die sous druk, daardie een sal My verraai. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, die een wat vir Jesus verraai het, vra toe vir Jesus: “Meneer, is dit ek?” Jesus sê toe vir hom: “Jy sê dit self.” Jesus het brood geneem terwyl hulle geëet het en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood en eet dit. Dit is my liggaam.” Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels en sê: “Drink almal daarvan. Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed is die bloed van die verbond. My bloed sal vir baie mense vloei sodat God hulle sondes kan vergewe. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek saam met julle nuwe wyn sal drink by my Vader wat Koning is.” Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal vannag ophou om in My te glo. Die profeet het geskryf: “ God het gesê: Ek sal die skaapwagter doodmaak, en die skape van die trop sal weghardloop na al die kante toe. “Maar God sal My weer laat lewe, en dan sal Ek voor julle na Galilea gaan.” Petrus sê toe vir Jesus: “Almal sal miskien ophou om in U te glo, maar ek sal nooit ophou om in U te glo nie!” Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.” Maar Petrus het gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê dat ek U nie ken nie.” Al die ander dissipels het dieselfde gesê. Jesus en sy dissipels kom toe by 'n plek, Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom geneem. Jesus het baie hartseer en bang geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker saam met My.” Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê en aangehou bid: “My Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Jesus het teruggekom na die drie dissipels toe en toe sien Hy hulle slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Hoekom kon julle nie een uur saam met My wakker bly nie? Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.” Jesus het weer, vir die tweede maal, weggegaan en gebid: “My Vader, as U nie hierdie swaarkry wil wegneem van My nie, as Ek hierdie beker moet drink, dan moet U doen wat U wil hê.” Toe Jesus terugkom, het Hy weer gesien die drie dissipels slaap, hulle kon nie wakker bly nie. Jesus het weer weggegaan van hulle. Hy het die derde maal gaan bid en Hy het dieselfde woorde gesê. Toe Jesus die derde maal by die dissipels kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Kyk, dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.”

MATTEUS 26:14-46 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg. En van toe af het hy 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer. EN op die eerste dag van die ongesuurde brode kom die dissipels na Jesus en sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons vir U klaarmaak om die pasga te eet? En Hy antwoord: Gaan na die stad na 'n sekere iemand en sê vir hom: Die Meester laat weet: My tyd is naby. By jou sal Ek die pasga hou met my dissipels. Daarop het die dissipels gedoen soos Jesus hulle beveel het, en hulle het die pasga berei. En toe dit aand geword het, was Hy met die twaalf aan tafel. En terwyl hulle eet, sê Hy: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai. Toe word hulle baie bedroef en begin elkeen van hulle aan Hom te sê: Is dit miskien ek, Here? Toe antwoord Hy en sê: Hy wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai. Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie. En Judas, wat Hom sou verraai, antwoord en sê: Is dit miskien ek, Rabbi? Hy antwoord hom: Jy het dit gesê. En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader. En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. TOE sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê. TOE kom Jesus met hulle in 'n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid. En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar. En Hy het hulle met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê. Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.

MATTEUS 26:14-46 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ ” Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei. Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?” Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?” Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!” En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe: “ ‘Ek sal die herder doodmaak, en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.” Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.” Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die ander dissipels het ook so gesê. Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” 'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.” Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie. Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

MATTEUS 26:14-46 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het een van die twaalf, met die naam van Judas Iskariot, na die owerpriesters gegaan, En hy sê vir hulle: Wat sal julle my gee, en ek sal hom aan julle oorgee? En hulle het 'n verbond met hom gesluit vir dertig sikkels silwer. En van toe af het hy die geleentheid gesoek om hom te verraai. En op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brode het die dissipels na Jesus gekom en vir Hom gesê: Waar wil U hê moet ons vir U berei om die pasga te eet? En hy sê: Gaan na die stad na so 'n man en sê vir hom: Die Meester sê: My tyd is naby; Ek sal die pasga by jou huis hou saam met my dissipels. En die dissipels het gedoen soos Jesus hulle beveel het; en hulle het die pasga voorberei. En toe dit aand geword het, het hy saam met die twaalf gaan sit. En terwyl hulle eet, sê hy: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai. En hulle was baie bedroef, en elkeen van hulle het vir Hom begin sê: Here, is dit ek? En hy antwoord en sê: Wie sy hand saam met my in die skottel insteek, hy sal My verraai. Die Seun van die mens gaan heen soos van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai is! dit was goed vir daardie man as hy nie gebore was nie. Toe antwoord Judas, wat Hom verraai het, en sê: Meester, is dit ek? Hy sê vir hom: Jy het gesê. En terwyl hulle eet, neem Jesus brood en seën dit, breek dit en gee dit aan die dissipels en sê: Neem, eet; dit is my liggaam. En Hy het die beker geneem en gedank en dit aan hulle gegee en gesê: Drink almal daaruit; Want dit is my bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergewing van sondes. Maar Ek sê vir julle, Ek sal van nou af nie van hierdie vrug van die wingerdstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit saam met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader. En nadat hulle 'n lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uitgaan na Galilea. Petrus antwoord en sê vir hom: Al sal almal aanstoot neem deur jou, tog sal ek nooit aanstoot neem nie. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. Petrus sê vir hom: Al sou ek saam met jou sterwe, ek sal jou nie verloën nie. So het ook al die dissipels gesê. Toe kom Jesus saam met hulle na 'n plek met die naam van Getsemane en sê vir die dissipels: Sit hier terwyl Ek daar gaan bid. En hy het Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saamgeneem en bedroef en baie swaar begin word. Toe sê Hy vir hulle: My siel is baie bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. En Hy het na die dissipels gekom en hulle aan die slaap gevind en vir Petrus gesê: Wat, kon julle nie een uur saam met My waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie; die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Hy het weer vir die tweede keer weggegaan en gebid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My verbygaan as Ek dit nie drink nie, laat u wil geskied. En hy het gekom en hulle weer aan die slaap gevind, want hulle oë was swaar. En hy het hulle verlaat en weer weggegaan en vir die derde keer gebid en dieselfde woorde gesê. Toe kom Hy na sy dissipels en sê vir hulle: Slaap nou verder en rus; kyk, die uur is naby en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, Hy is naby wat My verraai.

MATTEUS 26:14-46 Die Boodskap (DB)

Omtrent in hierdie tyd is Judas Iskariot, ’n dissipel, skelm na die leiers van die priesters toe. “Ek kan vir julle gaan wys waar Jesus is. Wat is dit vir julle werd?” “Ons sal vir jou 30 stukke silwer gee,” kom die antwoord. Van toe af het Judas net die regte oomblik gesoek om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood in Egipte, kom Jesus se dissipels na Hom toe. “Waar moet ons die paasete gaan voorberei?” vra hulle. Hy antwoord hulle: “Gaan in die stad na so-en-so toe. Sê dan vir hom: ‘Jesus sê: My tyd word nou min. Ek en my dissipels sou graag hier by jou aan huis die paasete wou eet.’” Jesus se volgelinge is daar weg en het alles presies so gaan doen. Teen sononder het die paasete begin. Jesus en al twaalf sy getrouste volgelinge was daar. Terwyl hulle nog so sit en eet, sê Jesus: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê: een van julle wat hier sit, gaan My in die rug steek.” Toe hulle dit hoor, was hulle baie hartseer en hulle oorval Jesus met vrae. “Dit is seker darem nie ek nie, nie waar nie, Here?” wou elkeen weet. Jesus sê toe: “Kyk maar, die verraaier is die een wat sy hand ook in die bak insteek om kos te vat wanneer Ek dit doen. Ja-nee, aan die een kant is dit nodig dat die Seun van God sterf. Die Skrif skryf daarvan. So is dit bestem. “Maar aan die ander kant bly die verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Seun van die mens. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Judas, die een wat al klaar besluit het om teen Jesus te draai, vra toe ook so ewe: “Dit is tog sekerlik nie ek nie, nè, Rabbi?” “Net so!” antwoord Jesus hom. Terwyl die ete aan die gang was, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die brood, breek Hy dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet dit,” sê Hy. “Dit is my liggaam.” Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie daarvoor en gee dit vir sy dissipels om te drink. “Drink dit, almal van julle. Dit is my bloed wat gaan vloei. Dit beteken dat baie mense se sondes as gevolg daarvan vergewe sal word. Maar dit beteken ook dat baie mense in ’n nuwe verhouding tot God sal kan staan. “Luister: Ek sal eers weer so saam met julle wyn sit en drink wanneer ons die nuwe, hemelse wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel drink.” Toe die note wegsterf van die lofsang wat hulle gesing het, is hulle saam Olyfberg toe. Jesus het verder gepraat: “Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai en maak of julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ “Maar Ek sal uit die dood opgewek word. Dan sal Ek Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.” Petrus kon dit nie meer hou nie: “Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.” “Petrus,” sê Jesus, “hoor wat Ek vir jou sê: vannag nog, voor die haan moet kraai, sal jy drie maal ontken dat jy ooit iets met My te doen gehad het.” “Nooit nie!” ontken Petrus heftig. “Ek sal U nooit in die steek laat nie, al maak hulle my dood!” Al die ander dissipels het presies dieselfde gesê. Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit was ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag julle hier. Ek gaan bid.” Hy het net Petrus en Sebedeus se twee seuns saam met Hom gevat. Jesus het bedruk gevoel en sê toe vir die drie saam met Hom: “Ek voel doodsbenoud. Wag julle hier. Kyk dat niemand ons hier verras nie.” Hy het ’n paar treë verder gaan kniel. Met sy gesig tot teen die grond gebuig, begin Hy bid: “My Vader, is daar enige kans dat Ek die pad wat vir My voorlê nie hoef te loop nie? Is daar ’n uitweg? Maar Ek probeer nie allerhande planne maak nie. Maak U die planne, asseblief! Doen wat U wil.” Jesus se dissipels het egter aan die slaap geraak. Hy maak Petrus toe wakker: “Wat gaan aan? Het jy dit nie eens in jou om ’n klein rukkie saam met My wakker te bly nie? Vra God om julle te help om nie verkeerde dinge te wil doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie, nie waar nie? Wees daarom altyd op en wakker.” ’n Tweede maal het Jesus gaan bid: “My Vader, as daar nie vir My ’n uitweg is nie, laat dan gebeur wat moet gebeur!” Weer kry Jesus die drie vas aan die slaap. Hulle kon eenvoudig nie hulle oë oophou nie. Hierdie keer het Hy hulle gelos. ’n Derde keer het Jesus gaan kniel en dieselfde gebed gebid. Toe Hy klaar was, maak Hy die drie weer wakker: “Julle slaap lekker, nè? So asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus! Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul ongehoorsame Jode gaan My netnou kom vang. Kom, laat ons gaan. My verraaier is op pad.”

MATTEUS 26:14-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan en gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied. Van toe af was hy op die uitkyk vir ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels vir Jesus kom vra: “Waar wil U hê moet ons die paasmaaltyd vir U voorberei?” Hy antwoord toe: “Gaan stad toe na so en so en sê vir hom: ‘Jesus die Leermeester sê: My tyd het gekom. Ek wil by jou die paasmaaltyd saam met my dissipels eet.’” Die dissipels het toe gedoen soos Jesus hulle beveel het en die paasete voorberei. Teen die aand was Jesus saam met die twaalf aan tafel. Terwyl hulle besig was om te eet, het Hy gesê: “Ek verseker julle, een van julle gaan My uitlewer.” Hulle was geweldig geskok en het Hom die een na die ander gevra: “Dit is tog seker nie ek nie, Here?” Daarop het Jesus gesê: “Dit is die een wat sy hand hier saam met My in die skottel steek, wat My gaan uitlewer. Ek, die Seun van die Mens, moet sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met daardie man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!” Judas, die een wat Hom sou uitlewer, reageer toe en vra: “Dit is tog seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Daar sê jy dit self.” Terwyl hulle besig was om te eet, neem Jesus brood en vra God se seën daarop. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” En Hy het die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee met die woorde: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek van nou af nie weer wyn sal drink nie totdat Ek opnuut die feeswyn saam met julle sal drink in die koninkryk van my Vader.” Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe. Jesus het toe vir hulle gesê: “Vannag gaan julle almal aanstoot aan My neem. Daar staan immers geskryf: ‘Ek sal die skaapwagter doodmaak en die skape van die trop sal uitmekaargejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.” Petrus verseker Hom toe: “Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie.” Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.” Petrus sê toe vir Hom: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal dit beslis nooit doen nie!” Al die dissipels het dieselfde verklaar. Jesus kom toe saam met hulle by ’n olyftuin met die naam Getsemane en Hy sê: “Sit julle hier, terwyl Ek daar anderkant gaan bid.” Hy neem toe vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom. Daarop oorval ’n groot ontsteltenis en benoudheid Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe. Bly julle hier, en waak saam met My.” Hy het toe ’n entjie verder neergeval en met sy gesig plat teen die grond gebid: “O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil.” Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie? Wees waaksaam en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.” Weer het Hy van hulle af weggegaan en gebid: “My Vader! As hierdie beker nie van My kan weggaan sonder dat Ek dit moet drink nie, laat u wil dan uitgevoer word.” Hy het toe teruggegaan en kry hulle weer aan die slaap. Hulle was so vaak dat hulle oë eenvoudig nie wou oopbly nie. Hy het hulle toe daar gelos en weer weggegaan en dieselfde gebed vir die derde keer gebid. Toe kom Hy na sy dissipels toe en sê: “Slaap en rus julle nog steeds? Die tyd het aangebreek! Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense. Staan op, ons moet gaan! Kyk, my verraaier is hier.”