Toe het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan en gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied. Van toe af was hy op die uitkyk vir ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer.
Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels vir Jesus kom vra: “Waar wil U hê moet ons die paasmaaltyd vir U voorberei?”
Hy antwoord toe: “Gaan stad toe na so en so en sê vir hom: ‘Jesus die Leermeester sê: My tyd het gekom. Ek wil by jou die paasmaaltyd saam met my dissipels eet.’” Die dissipels het toe gedoen soos Jesus hulle beveel het en die paasete voorberei.
Teen die aand was Jesus saam met die twaalf aan tafel. Terwyl hulle besig was om te eet, het Hy gesê: “Ek verseker julle, een van julle gaan My uitlewer.”
Hulle was geweldig geskok en het Hom die een na die ander gevra: “Dit is tog seker nie ek nie, Here?”
Daarop het Jesus gesê: “Dit is die een wat sy hand hier saam met My in die skottel steek, wat My gaan uitlewer. Ek, die Seun van die Mens, moet sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met daardie man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!”
Judas, die een wat Hom sou uitlewer, reageer toe en vra: “Dit is tog seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Daar sê jy dit self.”
Terwyl hulle besig was om te eet, neem Jesus brood en vra God se seën daarop. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” En Hy het die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee met die woorde: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek van nou af nie weer wyn sal drink nie totdat Ek opnuut die feeswyn saam met julle sal drink in die koninkryk van my Vader.”
Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe.
Jesus het toe vir hulle gesê: “Vannag gaan julle almal aanstoot aan My neem. Daar staan immers geskryf:
‘Ek sal die skaapwagter doodmaak
en die skape van die trop
sal uitmekaargejaag word.’
“Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.” Petrus verseker Hom toe: “Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie.” Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.”
Petrus sê toe vir Hom: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal dit beslis nooit doen nie!” Al die dissipels het dieselfde verklaar.
Jesus kom toe saam met hulle by ’n olyftuin met die naam Getsemane en Hy sê: “Sit julle hier, terwyl Ek daar anderkant gaan bid.”
Hy neem toe vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom. Daarop oorval ’n groot ontsteltenis en benoudheid Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe. Bly julle hier, en waak saam met My.”
Hy het toe ’n entjie verder neergeval en met sy gesig plat teen die grond gebid: “O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil.” Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie? Wees waaksaam en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”
Weer het Hy van hulle af weggegaan en gebid: “My Vader! As hierdie beker nie van My kan weggaan sonder dat Ek dit moet drink nie, laat u wil dan uitgevoer word.” Hy het toe teruggegaan en kry hulle weer aan die slaap. Hulle was so vaak dat hulle oë eenvoudig nie wou oopbly nie.
Hy het hulle toe daar gelos en weer weggegaan en dieselfde gebed vir die derde keer gebid. Toe kom Hy na sy dissipels toe en sê: “Slaap en rus julle nog steeds? Die tyd het aangebreek! Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense. Staan op, ons moet gaan! Kyk, my verraaier is hier.”