Een van die twaalf dissipels se naam was Judas Iskariot. Hy het na die priesterleiers toe gegaan en gevra: “Wat sal julle vir my gee as ek julle help om Jesus te vang?”
Die priesterleiers het toe vir Judas 30 silwer geldstukke betaal. Van toe af het hy 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai.
Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, het Jesus se dissipels na Hom toe gekom en vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?”
Jesus het gesê hulle moet in Jerusalem na 'n man toe gaan en vir hom sê: “Ons Meneer sê: ‘My tyd is naby. Ek en my dissipels wil die Paas-ete in jou huis eet.’ ”
Die dissipels het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit aand geword het, het Jesus saam met die twaalf dissipels by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe sê Jesus: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai.”
Die dissipels was baie geskok en hartseer. Elke dissipel begin toe om vir Jesus te vra: “Here, is dit ek?”
Jesus het vir hulle gesê: “Die een wat sy brood saam met My in die sous druk, daardie een sal My verraai. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”
Judas, die een wat vir Jesus verraai het, vra toe vir Jesus: “Meneer, is dit ek?”
Jesus sê toe vir hom: “Jy sê dit self.”
Jesus het brood geneem terwyl hulle geëet het en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood en eet dit. Dit is my liggaam.”
Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels en sê: “Drink almal daarvan. Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed is die bloed van die verbond. My bloed sal vir baie mense vloei sodat God hulle sondes kan vergewe. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek saam met julle nuwe wyn sal drink by my Vader wat Koning is.”
Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg.
Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal vannag ophou om in My te glo. Die profeet het geskryf:
“ God het gesê: Ek sal
die skaapwagter doodmaak,
en die skape van die trop
sal weghardloop
na al die kante toe.
“Maar God sal My weer laat lewe, en dan sal Ek voor julle na Galilea gaan.”
Petrus sê toe vir Jesus: “Almal sal miskien ophou om in U te glo, maar ek sal nooit ophou om in U te glo nie!”
Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.”
Maar Petrus het gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê dat ek U nie ken nie.”
Al die ander dissipels het dieselfde gesê.
Jesus en sy dissipels kom toe by 'n plek, Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil daar gaan bid.”
Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom geneem. Jesus het baie hartseer en bang geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker saam met My.”
Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê en aangehou bid: “My Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”
Jesus het teruggekom na die drie dissipels toe en toe sien Hy hulle slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Hoekom kon julle nie een uur saam met My wakker bly nie? Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.”
Jesus het weer, vir die tweede maal, weggegaan en gebid: “My Vader, as U nie hierdie swaarkry wil wegneem van My nie, as Ek hierdie beker moet drink, dan moet U doen wat U wil hê.”
Toe Jesus terugkom, het Hy weer gesien die drie dissipels slaap, hulle kon nie wakker bly nie. Jesus het weer weggegaan van hulle. Hy het die derde maal gaan bid en Hy het dieselfde woorde gesê. Toe Jesus die derde maal by die dissipels kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Kyk, dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.”