MATTEUS 10:16-31

MATTEUS 10:16-31 AFR83

“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe. Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig. Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat. “Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs 'n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. As hulle julle in een dorp vervolg, vlug na 'n ander een toe. Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie. “'n Leerling is nie hoër as sy leermeester en 'n slaaf nie hoër as sy eienaar nie. 'n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en 'n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?” “Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. “Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid