MATTEUS 10:16-31

MATTEUS 10:16-31 NLV

“Let op, Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in. Wees dan waaksaam soos die slange, maar terselfdertyd opreg soos die duiwe. Pas op vir die mense! Hulle sal julle aan die howe oorgee en in hulle sinagoges met gésels slaan. Julle sal voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van My. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om voor hulle en die volke van My te getuig. Wanneer hulle julle oorgee, moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die regte woord sal op die regte tyd vir julle gegee word. Dit sal nie júlle wees wat die praatwerk doen nie, maar die Gees van julle Vader wat julle as sy spreekkanale sal gebruik. “Die een broer sal die ander een oorgee om doodgemaak te word en ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers optree en so hulle dood veroorsaak. Julle sal deur almal gehaat word omdat julle mý mense is. Maar elkeen wat sal volhou tot die einde toe, sal verlos word. As hulle julle in die een dorp vervolg, vlug dan na die ander een toe. Ek verseker julle, julle sal nie klaarkry met die dorpe van Israel voordat Ek, die Seun van die Mens, kom nie. “’n Leerling is nie verhewe bo sy onderwyser nie. ’n Slaaf ook nie bo sy baas nie. ’n Leerling behoort tevrede daarmee te wees as dit met hom gaan soos met sy onderwyser, en die slaaf soos met sy baas. As hulle My, die hoof van die huishouding, as Beëlsebul uitskel, watter nare dinge sal hulle dan nie van julle, my huismense, sê nie!” “Moenie vir hulle bang wees nie! Die tyd kom wanneer alles wat op die oomblik nog weggesteek word, aan die lig sal kom en alles wat nou nog geheim is, bekendgemaak sal word. Wat Ek vir julle vertroulik sê, vertel dit vir almal. En wat in julle ore gefluister word, basuin dit van die dakke af. Moenie bang wees vir hulle wat julle wil doodmaak nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak; aan julle eintlike menswees kan hulle nie raak nie. Wees veel eerder bang vir Hom wat julle liggaam én eintlike menswees in die hel kan vernietig. Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarby betrokke is nie. Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel. Wees daarom nie bang nie. Julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid