Matteus 10:16-31

Matteus 10:16-31 AFR20

“Kyk, Ek stuur julle uit soos skape onder die wolwe. Wees dan behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe. Maar wees op julle hoede vir die mense, want hulle sal julle oorlewer aan sanhedrins, en in hulle •sinagoges sal hulle julle gesel. Voor prokurators en konings sal julle om my ontwil gesleep word, sodat julle voor hulle en voor die heidene kan getuig. En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat. “Broer sal broer oorlewer om doodgemaak te word, en 'n vader sy kind. En kinders sal in opstand kom teen ouers en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Wanneer hulle julle in die een stad vervolg, vlug na 'n ander. •Amen, Ek sê vir julle: Julle sal nie al die stede van Israel kan besoek voordat die •Seun van die Mens kom nie. “'n Leerling is nie verhewe bo die leermeester, of 'n slaaf bo sy eienaar nie. Dit is voldoende vir die leerling om soos sy leermeester, en vir die slaaf om soos sy eienaar te word. As hulle die huisheer Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer nie die huismense nie.” “Moet hulle daarom nie vrees nie; daar is immers niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, sê dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit van die dakstoepe af. En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. “Word twee mossies nie vir 'n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dan nie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ”

Video for Matteus 10:16-31