MALEAGI 3:6-15

MALEAGI 3:6-15 AFR83

Ek, die Here, het nie verander nie, daarom het julle nie te gronde gegaan nie, nageslag van Jakob. Van julle voorvaders se tyd af het julle van my voorskrifte afgewyk en nie daarvolgens geleef nie. Bekeer julle tot My, dan sal Ek terugkom na julle toe, sê die Here die Almagtige. Maar julle vra: “Waarom moet ons ons bekeer?” Sal 'n mens werklik vir God beroof? Tog beroof julle My. Julle vra: “Waarvan beroof ons U?” Van tiendes en offergawes. Daar rus alreeds 'n vloek op julle en tog bly julle My beroof; die hele nasie doen dit. Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie, sê die Here die Almagtige. Dan sal al die nasies julle as gelukkige mense beskou; julle sal in 'n begeerlike land woon, sê die Here die Almagtige. Julle het vermetele dinge oor My kwytgeraak, sê die Here. Maar julle vra: “Wat het ons oor U gesê?” Julle het gesê: “Dit is nutteloos om God te dien. Watter nut het dit dat ons sy bevel uitgevoer het en in rouklere rondgeloop het voor Hom, die Here die Almagtige? Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en of dié wat verkeerd doen, vooruitgaan. Hulle daag God uit en kom vry!”