“Ek, die HERE, het immers nie verander nie. Maar julle Jakobskinders kry nie end nie. Sedert die tyd van julle voorouers wyk julle van my voorskrifte af en kom dit nie na nie. Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Maar julle vra, ‘Hoe moet ons terugkeer?’ Mag 'n mens God besteel? Maar julle besteel My! En dan vra julle nog, ‘Hoe besteel ons U?’ Van tiendes en •wydingsgeskenke! Daar rus 'n vloek op julle, maar vir My bly julle beroof, julle hele nasie. Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets My hierin,” sê die HERE, Heerser oor alle magte, “of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloedige seën oor julle sal uitstort nie. Ek sal vir julle die sprinkane berispe, sodat hulle nie die opbrengs van julle landerye verwoes nie, en die druiwestok in die wingerd sal vir julle nie sonder vrugte wees nie,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “En al die nasies sal julle gelukkig noem, omdat julle 'n begeerlike land sal wees,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Julle laat harde woorde oor My val,” sê die HERE. “En dan vra julle, ‘Wat het ons vir mekaar oor U gesê?’ Julle het gesê, ‘Dit is heeltemal nutteloos om God te dien en wat baat dit ons as ons die verpligtinge teenoor Hom nakom en in rouklere loop voor die HERE, Heerser oor alle magte? Daarom noem ons nou die verwaande mense gelukkig, want die kwaaddoeners beleef nie net voorspoed nie, maar hulle daag God uit en kom nog daarmee weg ook.’ ”
Lees Maleagi 3
Deel
Vergelyk alle weergawes: Maleagi 3:6-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's