In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig.
Die twaalf was saam met Hom en daarby 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe bose geeste uitgegaan het, en Johanna die vrou van Gusa, 'n hoë amptenaar van Herodes, en Susanna en baie ander. Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg.
Uit die verskillende dorpe het aanhoudend mense na Jesus toe gestroom, en toe 'n groot menigte saamgekom het, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel:
“'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Met die saai het 'n deel op die pad geval, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik. 'n Ander deel het op 'n klipbank geval, en nadat dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. Nog 'n ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het daarmee saam gegroei en dit laat verstik. Daar was ook 'n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en 'n honderdvoudige oes gelewer.”
Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”
Sy dissipels het Hom gevra wat die betekenis van hierdie gelykenis is. Hy het geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van God te ken, maar vir die ander bly dit by gelykenisse sodat
“hulle kyk sonder om te sien
en hoor sonder om te verstaan. ”
“Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is die woord van God. Dié wat op die pad val, dui op mense wat die woord hoor, maar dan kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. Dié wat op die klipbank val, dui op hulle wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar dit skiet nie wortel nie. Hulle geloof hou net 'n tydjie. Die oomblik dat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op. Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie. Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”
“Niemand steek 'n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder 'n bed nie. Inteendeel, hy sit dit op 'n staander sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.
“Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink dat hy het, weggevat word.”