LUKAS 8:1-18

LUKAS 8:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het deur baie stede gegaan, van die een stad na die ander stad. Hy het oral die goeie boodskap gebring dat God Koning is. Die twaalf dissipels het saam met Hom gegaan. Daar was ook vroue by hulle. Jesus het hierdie vroue voorheen gesond gemaak toe Hy bose geeste uit hulle laat gaan het. Een van die vroue was Maria Magdalena. Sewe duiwels het uit haar uitgegaan. 'n Ander vrou was Johanna, die vrou van Gusa. Gusa was die hoof van die mense wat in koning Herodes se paleis gewerk het. Susanna en nog baie ander vroue was ook by Jesus en sy dissipels. Hierdie vroue het hulle eie geld gebruik om vir Jesus en sy dissipels te sorg. Baie mense het na Jesus toe gekom uit al die stede wat daar naby was. Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis. Hy het gesê: “'n Man was besig om saad te saai en terwyl hy gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Daar het die mense op die saad getrap en die voëls het dit opgepik. Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Toe die saad begin groei, het dit gou droog geword omdat daar nie genoeg water in daardie grond was nie. Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het saam met die saad gegroei, en die dorings het die plantjies heeltemal toegegroei. Party van die saad het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het mooi gegroei, en daar was baie koring, 100 maal meer as wat die man gesaai het.” Toe Jesus die gelykenis klaar vertel het, het Hy gesê: “As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê.” Jesus se dissipels vra toe vir Hom wat die gelykenis beteken. Jesus het gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy Koning is en dat Hy regeer. Maar die ander mense verstaan dit nie. Ek vertel vir hulle gelykenisse. “ Daarom kyk daardie mense, maar hulle sien nie, en hulle hoor, maar hulle verstaan nie.” Jesus het toe vir die dissipels gesê wat die gelykenis beteken. Hy het gesê: “Die saad is die boodskap van God. Wanneer die saad op die voetpad val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap van God hoor, maar dan kom die duiwel en hy vat die boodskap weg uit hulle harte. Dan kan hulle nie glo nie, en dan red God hulle nie. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en glo en bly is daaroor. Maar daar is nie 'n diep wortel nie, hulle hou nie aan om te glo nie. Wanneer hulle swaarkry, dan hou hulle op om te glo. Wanneer die saad tussen dorings val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor, maar hulle is bekommerd oor baie dinge en hulle wil net ryk word en lekker lewe. Dan is hulle soos plante met vrugte wat nooit ryp word nie. Maar wanneer die saad in vrugbare grond val, is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en hulle glo dit met hulle hele hart. Hulle onthou die boodskap en hulle is soos plante wat altyd goeie vrugte dra.” Jesus het ook gesê: “'n Mens steek nie 'n lamp op en sit dit dan onder 'n emmer of steek dit onder die bed weg nie. Nee, 'n mens sit 'n lamp op die lampstaander. Dan kan almal in die kamer die lig sien. God is Koning. Niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal daarvan weet en almal sal dit kan sien. Julle moet goed luister na die boodskap. Want as iemand verstaan en hy vertel vir almal dat God Koning is, dan sal God hom nog beter laat verstaan. Maar as iemand dit nie verstaan nie, dan sal God hom niks laat verstaan nie, ook as hy dink dat hy verstaan.”

LUKAS 8:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daarna het Hy die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig; en die twaalf was saam met Hom, ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat Magdaléna genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het, en Johanna, die vrou van Gusa, 'n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het. EN toe daar 'n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede by Hom aangesluit het, sê Hy aan hulle deur 'n gelykenis: 'n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val 'n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet. En 'n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. En 'n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik. En 'n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat beteken hierdie gelykenis tog? En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie. Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God. Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie. En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir 'n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af. En wat in die dorings geval het — dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie. En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in 'n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra. EN niemand steek 'n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder 'n bed nie; maar hy sit dit op 'n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien. Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie. Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.

LUKAS 8:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig. Die twaalf was saam met Hom en daarby 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe bose geeste uitgegaan het, en Johanna die vrou van Gusa, 'n hoë amptenaar van Herodes, en Susanna en baie ander. Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg. Uit die verskillende dorpe het aanhoudend mense na Jesus toe gestroom, en toe 'n groot menigte saamgekom het, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel: “'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Met die saai het 'n deel op die pad geval, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik. 'n Ander deel het op 'n klipbank geval, en nadat dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. Nog 'n ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het daarmee saam gegroei en dit laat verstik. Daar was ook 'n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en 'n honderdvoudige oes gelewer.” Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” Sy dissipels het Hom gevra wat die betekenis van hierdie gelykenis is. Hy het geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van God te ken, maar vir die ander bly dit by gelykenisse sodat “hulle kyk sonder om te sien en hoor sonder om te verstaan. ” “Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is die woord van God. Dié wat op die pad val, dui op mense wat die woord hoor, maar dan kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. Dié wat op die klipbank val, dui op hulle wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar dit skiet nie wortel nie. Hulle geloof hou net 'n tydjie. Die oomblik dat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op. Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie. Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.” “Niemand steek 'n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder 'n bed nie. Inteendeel, hy sit dit op 'n staander sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie. “Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink dat hy het, weggevat word.”

LUKAS 8:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Kort daarna het Jesus deur die een stad en dorp na die ander gereis om te preek en die evangelie van die •koninkryk van God te verkondig. Die twaalf het saam met Hom gereis, en ook 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees is, naamlik Maria, wat bekend was as Magdalena, uit wie sewe demone uitgegaan het, en Johanna, die vrou van Gusa, 'n bestuurder van Herodes, en Susanna, en baie ander wat uit hulle eie bronne vir Jesus en die twaalf gesorg het. Uit die een dorp ná die ander het mense na Jesus gestroom; en toe 'n groot skare van hulle bymekaar was, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel: “'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval; dit is vertrap en die voëls van die hemel het dit kom oppik. 'n Ander deel het op 'n klipbank geval; en toe dit opkom, het dit verdor, omdat daar geen vogtigheid was nie. Nog 'n deel het tussen die dorings geval, en die dorings het saam met die saad gegroei en dit verstik. En nog 'n deel het in vrugbare grond geval, en dit het gegroei en 'n honderdvoudige opbrengs gelewer.” Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, roep Hy uit: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Sy dissipels het Hom gevra wat die gelykenis beteken. Hy het geantwoord: “Aan julle is gegee om die geheimenisse van die •koninkryk van God te verstaan, maar vir ander bly dit bloot gelykenisse, sodat hulle “ ‘selfs al kyk hulle, nie sal sien nie, en selfs al hoor hulle, nie sal verstaan nie.’ ” “Dit is wat die gelykenis beteken: Die saad is die woord van God. Die saad langs die pad is die mense wat die woord wel hoor, maar dan kom die Duiwel en neem die woord uit hulle harte weg, sodat hulle nie tot geloof kom en verlos word nie. Die saad wat op die klipbank val, is daardie mense wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar hulle het nie wortel geskiet nie. Hulle glo net 'n rukkie, en wanneer hulle op die proef gestel word, sak hulle uit. Die saad wat tussen die dorings val, is diegene wat die woord hoor; maar hulle word deur bekommernisse en rykdom en die plesiere van hierdie lewe verstik, en lewer geen oes nie. Die saad wat in die vrugbare grond val, is daardie mense wat die woord met 'n goeie en opregte hart aanhoor, daaraan vashou en met volharding vrug dra.” “ Niemand steek 'n lamp op en maak dit toe met 'n houer, of sit dit onder 'n bed nie. Trouens, 'n mens sit dit op 'n lampstaander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Daar is niks verborge wat nie blootgelê sal word nie, en niks weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie. “Let daarom op hoe julle luister. Wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal selfs dit wat hy dink hy het, weggeneem word. ”

LUKAS 8:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En daarna het hy deur elke stad en dorp gegaan en die blye boodskap van die koninkryk van God verkondig en verkondig; en die twaalf was by hom, En sekere vroue wat van bose geeste en swakhede genees was, het Maria Magdalena geroep, uit wie sewe duiwels uitgegaan het, En Joanna, die vrou van Chuza, die bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat hom van hulle besittings bedien het. En toe baie mense bymekaargekom het en uit elke stad na Hom gekom het, het Hy deur 'n gelykenis gesê: 'n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en terwyl hy saai, het 'n deel langs die pad geval; en dit is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet. En sommige het op 'n rots geval; en sodra dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit 'n gebrek aan vog gehad het. En sommige het tussen die dorings geval; en die dorings het daarmee opgespring en dit verstik. En ander het op goeie grond geval en opgespring en honderdvoudig vrugte gedra. En toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat kan hierdie gelykenis wees? En Hy sê: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken, maar aan ander in gelykenisse; sodat hulle nie sien nie, en as hulle hoor, nie sou verstaan nie. En die gelykenis is dit: Die saad is die woord van God. Dié langs die pad is hulle wat hoor; dan kom die duiwel en neem die woord uit hulle harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie. Dit is hulle op die rots wat, as hulle dit hoor, die woord met blydskap aanneem; en hulle het geen wortel nie, wat vir 'n tyd lank glo, en in die tyd van versoeking afvallig word. En dit wat tussen die dorings geval het, is hulle wat, as hulle dit gehoor het, uitgaan en verstik word van die sorge en rykdom en genietinge van hierdie lewe, en geen vrugte tot volmaaktheid bring nie. Maar dit is op die goeie grond wat hulle in 'n eerlike en goeie hart, nadat hulle die woord gehoor het, dit bewaar en met lankmoedigheid vrugte dra. Niemand wat 'n kers aangesteek het, bedek dit met 'n voorwerp of sit dit onder 'n bed nie; maar sit dit op 'n kandelaar, sodat die wat ingaan, die lig kan sien. Want niks is verborge wat nie openbaar sal word nie; ook niks wat verborge is wat nie bekend sal word en na buite sal kom nie. Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy skyn te hê.

LUKAS 8:1-18 Die Boodskap (DB)

Jesus het daarna deur al die dorpe en klein plekkies gestap waar mense gebly het, en vir hulle die goeie nuus vertel dat God se nuwe wêreld hier is. Die twaalf dissipels het oral saam met Hom gegaan. ’n Klompie vroue wat deur Jesus van bose geeste vrygemaak is en ’n paar ander wat deur Hom gesond gemaak is, het ook saam met hulle van plek tot plek gestap. Een van hierdie vroue se naam was Maria. (Sy is ook Magdalena genoem omdat sy van die dorp Magdala afkomstig was.) Jesus het sewe duiwels uit haar verdryf. Johanna, die vrou van Gusa, een van die belangrike amptenare in Herodes se paleis, was ook onder hulle. So ook Susanna en ’n klompie ander vroue. Met hulle eie geld het hierdie vroue vir Jesus en sy dissipels kos gekoop en ook gesorg dat hulle slaapplek het. ’n Groot klomp mense het van oral af na Jesus toe gestroom. Hy het toe vir hulle die volgende verhaal vertel: “Eendag was daar ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad oor die grond uitgestrooi. ’n Deel van die saad het toe op die voetpad beland wat deur die land loop. Dit is deur mense stukkend getrap. Die voëls het toe haastig daarop toegesak en alles opgeëet. Van die ander saad het op die groot klippe in die land geval. In die holtes van hierdie klippe was daar ’n bietjie grond. Die saad wat hier beland het, het vinnig opgekom, maar die plantjies kon nie behoorlik wortelskiet in die vlak grond nie. Daarom het die son hulle gou doodgebrand. Van die ander saad wat die boer gesaai het, het tussen die doringbosse beland wat in die land gegroei het. Soos die doringbosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk. Dan het daar ook saad in die land self geval waar die grond goed voorberei was. Dit het goed gegroei en ’n groot oes gegee wat die boer se stoutste verwagtings oortref het. “Julle moet julle ore oopmaak en luister na wat Ek vir julle sê,” sê Jesus toe vir die mense. Toe vra sy dissipels Hom: “Wat beteken hierdie verhaal wat U nou vir ons vertel het?” Jesus sê toe vir hulle: “As julle mooi na al my verhale luister, sal julle sommer baie oor God leer. Dan sal julle agterkom hoe dinge in sy splinternuwe wêreld werk. Julle sal dinge hoor wat julle nog nie geweet het nie. Maar daardie mense wat nie wil luister na wat Ek oor God se nuwe wêreld vertel nie, sal dit nooit verstaan nie. Vir hulle is my verhale maar net ’n klomp leë stories. Hulle kyk, maar sien nie. En hulle hoor, maar begryp niks nie.” “Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal van die boer wat gaan saai het, moet verstaan: Die saad ... Dit is die boodskap oor God se nuwe wêreld. “Die saad wat op die voetpad geval het ... Wel, dit is die mense wat na die boodskap oor God se nuwe wêreld luister, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Die duiwel sorg dat hulle baie gou vergeet wat hulle gehoor het sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. Net soos die voëls met die saad gedoen het, kom ‘pik’ die duiwel die goeie saad uit hulle gedagtes uit. “Daar het ook saad in die holtes van die groot klippe geval ... Wel, party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net vir ’n rukkie. Sodra hulle geloof iets van hulle vra, sodra hulle moet nee sê vir die sonde, is hulle skielik nie meer so opgewonde nie. Dan is hulle sogenaamde nuwe geloof ook daarmee heen. “Ander saad het tussen die doringbosse beland ... Dit is daardie mense wat God se woord aanvaar. Maar kort voor lank word die eise van hierdie wêreld vir hulle belangriker as hulle geloof. Bo en behalwe al hulle bekommernisse, kry die alewige gejaag na geld en plesier dan voorkeur in hulle lewens. Dan het hulle later niks meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Al hierdie dinge verdring hulle geloof uit hulle lewens uit. “En dan die saad wat in die goeie grond geval het ... Dit is daardie mense wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur geraak is. Hulle begin dadelik leef soos God dit wil hê. In alles wat hulle sê of doen, borrel hulle geloof eenvoudig uit. Hulle geloof lewer van dan af heeltyd vrugte op.” Jesus sê toe: “Julle weet tog baie goed dat ’n mens nie ’n lig aanskakel en dit dan met ’n kombers toegooi nie. ’n Mens vat ook nie ’n lamp en gaan steek dit onder jou bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lamp in die middel van ’n kamer waar dit die beste lig kan gee. Dan kan almal sien wat om hulle aangaan. “’n Mens kan niks wegsteek wat jy doen nie. Geen woord of daad is so ’n groot geheim dat God nie daarvan weet nie. Alles sal aan die lig kom. Alles wat mense doen, sal uiteindelik bekend wees. “Luister na dit wat julle oor God hoor, en gaan doen dit. Hoe meer julle doen wat God sê, hoe meer sal sy ongelooflike goedheid in julle lewens instroom. Aan die ander kant, as julle nie luister na wat God sê nie, sal julle lewens op die ou end in chaos eindig. Dit help nie julle dink julle saak met God is in orde net omdat julle allerlei godsdienstige dinge doen nie. As julle lewens nie heeltemal verander nie, gaan julle alles verloor wat julle dink julle het.”

LUKAS 8:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nie lank hierna nie het Jesus begin met ’n reis deur al die dorpe en kleiner plekkies om die Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God bekend te maak. Hy het sy twaalf dissipels saamgeneem, asook ’n paar vroue wat Hy gesond gemaak het en uit wie Hy bose geeste gedryf het. Onder hulle was Maria Magdalena uit wie Hy sewe bose geeste gedryf het, Johanna, die vrou van Gusa, Herodes se sakebestuurder, Susanna en baie ander wat uit hulle eie middele bygedra het om Jesus en sy dissipels te onderhou. Eendag het Jesus hierdie gelykenis vertel aan ’n groot skare wat uit baie dorpe gekom het om na Hom te luister: “’n Boer het uitgegaan om saad te saai. Terwyl hy dit oor die land gestrooi het, het ’n deel op ’n voetpad geval waarop getrap word en die voëls het dit kom eet. ’n Ander deel het in vlak grond op ’n klipbank geval. Hierdie saad het begin groei, maar het gou verlep en verdroog omdat daar nie vog was nie. Nog ’n deel het geval waar dorings opgeskiet en die nuwe blare versmoor het. En ’n ander deel het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het gegroei en het ’n oes gelewer 100 maal soveel as wat geplant is.” Toe Hy dit sê, roep Hy uit: “Enigeen wat wil hoor, moet luister en verstaan!” Sy dissipels het Hom gevra wat die gelykenis beteken. Hy het geantwoord: “God het dit aan julle gegee om die geheime van sy koningsheerskappy te verstaan. Maar vir buitestanders is die gelykenisse raaisels, sodat dit waar word wat die Skrif sê: ‘Hulle sien wat Ek doen, maar eintlik sien hulle nie; hulle hoor wat Ek sê, maar hulle verstaan nie.’ “Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is God se boodskap. Die saad wat op die harde pad geval het, is die mense wat die boodskap hoor, maar dan kom die duiwel en steel dit en verhoed hulle om te glo en verlos te word. “Die klipperige grond is mense wat die boodskap met blydskap aanhoor. Maar soos jong plantjies in sulke grond het hulle nie diep wortels nie. Hulle glo wel vir ’n rukkie, maar hulle verlep wanneer die warm winde van beproewing waai. “Die saad tussen die onkruid is mense wat die boodskap hoor en ook aanvaar, maar tog te gou word dit verdring deur die sorge en rykdom en plesiere van hierdie lewe. En só groei hulle nooit tot volwassenheid nie. “Maar die saad wat in goeie grond val, is mense met ’n goeie en opregte hart wat God se boodskap hoor, daaraan vashou en konstant ’n groot oes oplewer.” “Niemand steek ’n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder ’n bed nie. Nee, lampe word op ’n lampstaander geplaas waar mense wat ’n huis binnekom, dit kan sien. Want alles wat weggesteek is, sal sigbaar word en alles wat geheim is, sal uiteindelik aan die lig kom vir almal om te sien. Gee daarom aandag aan wat jy hoor. Aan dié wat hulle oopstel vir my lering, sal groter begrip gegee word. Maar dié wat nie luister nie, van hulle sal selfs dit wat hulle dink hulle het, weggeneem word.”