Lukas 8:1-18

Lukas 8:1-18 AFR20

Kort daarna het Jesus deur die een stad en dorp na die ander gereis om te preek en die evangelie van die •koninkryk van God te verkondig. Die twaalf het saam met Hom gereis, en ook 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees is, naamlik Maria, wat bekend was as Magdalena, uit wie sewe demone uitgegaan het, en Johanna, die vrou van Gusa, 'n bestuurder van Herodes, en Susanna, en baie ander wat uit hulle eie bronne vir Jesus en die twaalf gesorg het. Uit die een dorp ná die ander het mense na Jesus gestroom; en toe 'n groot skare van hulle bymekaar was, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel: “'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval; dit is vertrap en die voëls van die hemel het dit kom oppik. 'n Ander deel het op 'n klipbank geval; en toe dit opkom, het dit verdor, omdat daar geen vogtigheid was nie. Nog 'n deel het tussen die dorings geval, en die dorings het saam met die saad gegroei en dit verstik. En nog 'n deel het in vrugbare grond geval, en dit het gegroei en 'n honderdvoudige opbrengs gelewer.” Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, roep Hy uit: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Sy dissipels het Hom gevra wat die gelykenis beteken. Hy het geantwoord: “Aan julle is gegee om die geheimenisse van die •koninkryk van God te verstaan, maar vir ander bly dit bloot gelykenisse, sodat hulle “ ‘selfs al kyk hulle, nie sal sien nie, en selfs al hoor hulle, nie sal verstaan nie.’ ” “Dit is wat die gelykenis beteken: Die saad is die woord van God. Die saad langs die pad is die mense wat die woord wel hoor, maar dan kom die Duiwel en neem die woord uit hulle harte weg, sodat hulle nie tot geloof kom en verlos word nie. Die saad wat op die klipbank val, is daardie mense wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar hulle het nie wortel geskiet nie. Hulle glo net 'n rukkie, en wanneer hulle op die proef gestel word, sak hulle uit. Die saad wat tussen die dorings val, is diegene wat die woord hoor; maar hulle word deur bekommernisse en rykdom en die plesiere van hierdie lewe verstik, en lewer geen oes nie. Die saad wat in die vrugbare grond val, is daardie mense wat die woord met 'n goeie en opregte hart aanhoor, daaraan vashou en met volharding vrug dra.” “ Niemand steek 'n lamp op en maak dit toe met 'n houer, of sit dit onder 'n bed nie. Trouens, 'n mens sit dit op 'n lampstaander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Daar is niks verborge wat nie blootgelê sal word nie, en niks weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie. “Let daarom op hoe julle luister. Wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal selfs dit wat hy dink hy het, weggeneem word. ”