Die Here het vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie. Neem al die manskappe met jou saam en trek op teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk, sy stad, sy land nou aan jou oor. Jy moet met Ai en sy koning doen soos jy met Jerigo en sy koning gedoen het. Net die buit en die vee kan julle vir julle vat. Laat van die manskappe hulle agter die stad versteek.”
Josua en al die manskappe het toe klaargemaak om teen Ai op te trek. Josua het dertig duisend dapper manne gekies en hulle in die nag gestuur en hulle beveel: “Julle moet julle agter die stad versteek, nie te ver van die stad af nie, en julle moet gereed wees. Ek en al die manskappe by my sal na die stad toe aankom, en as hulle ons tegemoet kom, soos die vorige keer, sal ons vir hulle vlug. Hulle sal agter ons aan kom en so sal ons hulle van die stad af weglok. Hulle sal dink ons vlug vir hulle soos die vorige keer. Ons sal vir hulle vlug, en dan moet julle uit die skuilplek opstaan en die stad in besit neem. Die Here julle God gee dit aan julle oor. Wanneer julle die stad ingeneem het, moet julle dit aan die brand steek. Julle moet doen wat die Here beveel het. Ek dra die opdrag nou aan julle oor.”
Josua het hulle toe laat gaan en hulle het hulle gaan versteek. Hulle het tussen Bet-El en Ai gelê, wes van Ai. Josua het dié nag tussen die manskappe geslaap.
Vroeg die môre is Josua uit. Hy het sy manskappe in gelid opgestel en hy en die leiers van Israel het die manskappe na Ai toe gelei. Al die manskappe by hom het opgetrek en nader gegaan en reg voor die stad aangekom. Hulle het kamp opgeslaan noord van Ai. Die laagte was tussen hulle en Ai. Josua het omtrent vyf duisend man geneem en hulle 'n verskuilde posisie laat inneem tussen Bet-El en Ai, wes van die stad. Die manskappe het die hele kamp wat noord van die stad moes wees, opgeslaan, maar die ander deel was wes van die stad. Josua het dié nag afgegaan na die laagte toe.
Die koning van Ai het gesien daar kom 'n aanval. Die manne van die stad het haastig klaargemaak en hulle het Israel vroeg die môre tegemoet getrek vir die veldslag. Die koning en al sy manskappe is na die plek toe waar hulle Israel wou ontmoet, regoor die Jordaanvallei. Hy het nie geweet van die versteekte afdeling agter die stad nie. Josua en die hele Israel het hulleself laat terugdryf deur die manne van Ai, en in die rigting van die woestyn gevlug. Al die manskappe in die stad is toe vir die agtervolging opgeroep; hulle het Josua agtervolg en is van die stad af weggelok. Daar het geen man in Ai of Bet-El agtergebly wat nie uit is agter Israel aan nie. Hulle het die stad net so oop gelos en het Israel agternagesit.
Toe sê die Here vir Josua: “Steek die swaard wat jy in jou hand het, na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.”
Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, na die stad toe uitgesteek, en toe staan die versteekte manskappe op uit hulle skuilplekke en storm, net toe hy sy hand uitsteek. Hulle is die stad in en het dit ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai terugkyk, sien hulle die rook van die stad in die lug opstyg. Hulle kon nêrens heen vlug nie, nie hiernatoe of soontoe nie, want Josua se manne wat woestyn se kant toe gevlug het, het omgedraai na hulle agtervolgers toe. Josua en die hele Israel het gesien die versteekte manskappe vat die stad, en toe die rook van die stad uitslaan, draai hulle om en val die manne van Ai aan. Dié mense het die stad verlaat om die Israeliete tegemoet te gaan, maar daar was nou Israeliete weerskante van hulle, en dié het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat ontkom en vrygeraak het nie. Die Israeliete het die koning van Ai gevang en hom na Josua toe gevat.
Israel het al die inwoners van Ai doodgemaak wat vir Josua-hulle in die veld en die woestyn agternagesit het. Die agtervolgers het almal gesneuwel, tot die laaste man toe. Daarna is die hele Israel terug na Ai toe en het hulle al die mense in die stad doodgemaak. Almal wat daardie dag gesneuwel het, mans en vrouens, was twaalf duisend, al die mense van Ai. Josua het nie sy hand met die swaard teruggetrek voordat al die inwoners van Ai uitgeroei was nie. Israel het net die vee en die buit in die stad vir hulleself gevat, soos die Here vir Josua beveel het. Josua het Ai afgebrand en daarvan vir altyd 'n verlate ruïne gemaak. Dit is nou nog so. Hy het die koning van Ai aan 'n boom opgehang en hom daar laat bly tot die aand toe. Toe die son ondergaan, het Josua opdrag gegee, en hulle het die lyk van die boom afgehaal, dit in die stadspoort gegooi en 'n groot hoop klippe daarop gepak, wat vandag nog daar is.