Toe sê die Here vir Josua: “Moet nou nie bang of mismoedig wees nie. Vat jou soldate en val die stad Ai aan. Ek sal vir jou die oorwinning gee oor die koning van Ai, sy mense, sy stad en sy hele land. Jy moet Ai en sy koning verwoes net soos Jerigo. Maar hierdie keer mag julle die oorlogsbuit en die vee vir julleself hou. Beplan ’n verrassingsaanval van die agterkant van die stad af.” Josua het hom toe gereedgemaak om Ai aan te val. Hy het 30 000 van sy beste soldate uitgekies en hulle in die nag na die stad toe gestuur met die volgende opdrag: “Gaan kruip aan die agterkant van die stad weg, nie te ver van die stad af nie, en wees reg om aan te val. Ek en die ander soldate wat by my is, sal ’n skynaanval op die stad loods. Wanneer Ai se soldate op ons afkom, sal ons omdraai en net soos die vorige keer vir hulle vlug. Natuurlik sal hulle ons agternasit en dan sal ons hulle weglok totdat hulle van die stad afgesny is. Hulle sal dink ons vlug vir hulle, net soos die vorige keer. Dan moet julle uit julle wegkruipplekke kom en die stad inneem. Die Here julle God sal sorg dat julle die stad inneem. As julle dit gedoen het, moet julle dit aan die brand steek. Dit is ’n bevel van die Here!” Hulle is toe na hulle wegkruipplek toe, wes van Ai, tussen Ai en Bet-El. Daar het hulle gaan wag. Josua het die nag in die kamp deurgebring.
Die volgende môre vroeg het Josua die soldate bymekaargeroep en hulle reggekry vir die geveg. Hy en die leiers van die volk het toe die soldate na Ai toe gelei. Die soldate wat by hom was, het opgetrek en regoor die ingang van die stad stelling ingeneem, aan die noordekant. Die laagte was tussen hulle en die stad. Daardie nag het hy omtrent 5 000 soldate gevat en hulle aan die westekant van die stad tussen Ai en Bet-El laat wegkruip. So is die hoofkamp noord van die stad opgeslaan met die soldate wat die hinderlaag sou lê aan die westekant. Josua het die nag in die laagte deurgebring. Toe die koning van Ai Josua se troepe sien, het hy vinnig opgetree. Hy en sy soldate het opgeruk na ’n gebied regoor die Jordaanvallei om Israel daar aan te pak. Hy het egter nie geweet van die versteekte troepe agter die stad nie. Josua en die soldate by hom het gemaak asof hulle teruggedryf word. Hulle het in die rigting van die woestyn gevlug. Al die manskappe in Ai en Bet-El moes kom help met die agtervolging. Hulle en die soldate van Bet-El is toe agter die Israeliete aan. Die stad het wawyd oopgestaan sonder iemand om dit te verdedig.
Toe sê die Here vir Josua: “Steek jou swaard na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, in die rigting van die stad uitgesteek. Toe die manskappe wat weggekruip het, dit sien, het hulle vinnig opgespring, die stad ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek. Toe die soldate van Ai terugkyk, het hulle die rook van die stad wat aan die brand was in die lug sien opstyg. Hulle het egter nie ’n kans gehad om êrens heen te ontsnap nie, want die Israeliete wat woestyn toe gehardloop het, het ook nou omgedraai en hulle begin aanval. Toe Josua en sy soldate sien dat die hinderlaag geslaag het en dat die stad aan die brand was, het hulle omgedraai en die soldate van Ai begin aanval. Die oorblywende soldate wat in Ai was, het immers vroeër al uitgekom om die Israeliete te agtervolg. Nou is al die soldate van Ai egter deur die Israeliete omsingel. Hulle is almal doodgemaak. Niemand het ontsnap nie, behalwe die koning van Ai. Hy is gevang en na Josua toe geneem. Die Israeliete het elke soldaat wat hulle na die woestyn toe agtervolg het net daar doodgemaak. Daarna is hulle terug Ai toe om seker te maak dat almal daar ook dood is.
Josua het nie sy swaard wat hy in die rigting van Ai uitgesteek het, laat sak voordat al die inwoners daarvan vernietig is nie. Die hele bevolking van Ai, altesaam 12 000 mense, is op daardie dag uitgeroei. Al wat die Israeliete vir hulleself gehou het, was die diere en die oorlogsbuit, soos die Here vir Josua beveel het. Josua het Ai afgebrand en dit vir altyd as ’n verlate ruïne agtergelaat. Die koning van Ai het hy aan ’n boom opgehang en hom daar laat hang tot die aand toe. Met sonsondergang het hy sy soldate opdrag gegee om die liggaam te verwyder. Hulle het dit afgehaal en voor Ai se hekke neergegooi. Toe het hulle dit met klippe toegepak om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Dis vandag nog daar.