JOSUA 8:1-29

JOSUA 8:1-29 Die Boodskap (DB)

Toe sê die Here vir Josua: “Moet nou nie bang of mismoedig wees nie. Vat jou soldate en val die stad Ai aan. Ek sal vir jou die oorwinning gee oor die koning van Ai, sy mense, sy stad en sy hele land. Jy moet Ai en sy koning verwoes net soos Jerigo. Maar hierdie keer mag julle die oorlogsbuit en die vee vir julleself hou. Beplan ’n verrassingsaanval van die agterkant van die stad af.” Josua het hom toe gereedgemaak om Ai aan te val. Hy het 30 000 van sy beste soldate uitgekies en hulle in die nag na die stad toe gestuur met die volgende opdrag: “Gaan kruip aan die agterkant van die stad weg, nie te ver van die stad af nie, en wees reg om aan te val. Ek en die ander soldate wat by my is, sal ’n skynaanval op die stad loods. Wanneer Ai se soldate op ons afkom, sal ons omdraai en net soos die vorige keer vir hulle vlug. Natuurlik sal hulle ons agternasit en dan sal ons hulle weglok totdat hulle van die stad afgesny is. Hulle sal dink ons vlug vir hulle, net soos die vorige keer. Dan moet julle uit julle wegkruipplekke kom en die stad inneem. Die Here julle God sal sorg dat julle die stad inneem. As julle dit gedoen het, moet julle dit aan die brand steek. Dit is ’n bevel van die Here!” Hulle is toe na hulle wegkruipplek toe, wes van Ai, tussen Ai en Bet-El. Daar het hulle gaan wag. Josua het die nag in die kamp deurgebring. Die volgende môre vroeg het Josua die soldate bymekaargeroep en hulle reggekry vir die geveg. Hy en die leiers van die volk het toe die soldate na Ai toe gelei. Die soldate wat by hom was, het opgetrek en regoor die ingang van die stad stelling ingeneem, aan die noordekant. Die laagte was tussen hulle en die stad. Daardie nag het hy omtrent 5 000 soldate gevat en hulle aan die westekant van die stad tussen Ai en Bet-El laat wegkruip. So is die hoofkamp noord van die stad opgeslaan met die soldate wat die hinderlaag sou lê aan die westekant. Josua het die nag in die laagte deurgebring. Toe die koning van Ai Josua se troepe sien, het hy vinnig opgetree. Hy en sy soldate het opgeruk na ’n gebied regoor die Jordaanvallei om Israel daar aan te pak. Hy het egter nie geweet van die versteekte troepe agter die stad nie. Josua en die soldate by hom het gemaak asof hulle teruggedryf word. Hulle het in die rigting van die woestyn gevlug. Al die manskappe in Ai en Bet-El moes kom help met die agtervolging. Hulle en die soldate van Bet-El is toe agter die Israeliete aan. Die stad het wawyd oopgestaan sonder iemand om dit te verdedig. Toe sê die Here vir Josua: “Steek jou swaard na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, in die rigting van die stad uitgesteek. Toe die manskappe wat weggekruip het, dit sien, het hulle vinnig opgespring, die stad ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek. Toe die soldate van Ai terugkyk, het hulle die rook van die stad wat aan die brand was in die lug sien opstyg. Hulle het egter nie ’n kans gehad om êrens heen te ontsnap nie, want die Israeliete wat woestyn toe gehardloop het, het ook nou omgedraai en hulle begin aanval. Toe Josua en sy soldate sien dat die hinderlaag geslaag het en dat die stad aan die brand was, het hulle omgedraai en die soldate van Ai begin aanval. Die oorblywende soldate wat in Ai was, het immers vroeër al uitgekom om die Israeliete te agtervolg. Nou is al die soldate van Ai egter deur die Israeliete omsingel. Hulle is almal doodgemaak. Niemand het ontsnap nie, behalwe die koning van Ai. Hy is gevang en na Josua toe geneem. Die Israeliete het elke soldaat wat hulle na die woestyn toe agtervolg het net daar doodgemaak. Daarna is hulle terug Ai toe om seker te maak dat almal daar ook dood is. Josua het nie sy swaard wat hy in die rigting van Ai uitgesteek het, laat sak voordat al die inwoners daarvan vernietig is nie. Die hele bevolking van Ai, altesaam 12 000 mense, is op daardie dag uitgeroei. Al wat die Israeliete vir hulleself gehou het, was die diere en die oorlogsbuit, soos die Here vir Josua beveel het. Josua het Ai afgebrand en dit vir altyd as ’n verlate ruïne agtergelaat. Die koning van Ai het hy aan ’n boom opgehang en hom daar laat hang tot die aand toe. Met sonsondergang het hy sy soldate opdrag gegee om die liggaam te verwyder. Hulle het dit afgehaal en voor Ai se hekke neergegooi. Toe het hulle dit met klippe toegepak om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Dis vandag nog daar.

JOSUA 8:1-29 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Josua gesê: “Jy moenie bang en bekommerd wees nie, jy moet al die manne neem wat kan oorlog maak en jy moet dadelik na die stad Ai gaan. Ek sal jou laat wen teen die koning van Ai en sy manne, en teen sy stad en sy land. Jy moet met Ai en sy koning dieselfde doen wat jy met Jerigo en sy koning gedoen het, maar julle mag die goed in die stad en die diere vir julleself hou. Jy moet manne laat wegkruip sodat hulle die stad van agter kan aanval.” Josua en al die manne wat kon oorlog maak, het dadelik na Ai gegaan. Josua het 30 000 manne gekies wat goed oorlog kon maak en hy het hulle in die nag gestuur en vir hulle gesê: “Julle moet agter die stad gaan wegkruip, maar julle moenie ver van die stad wees nie en julle moet almal gereed wees. Ek en die manne by my sal nader kom na die stad, en wanneer hulle soos voorheen weer kom om ons aan te val, dan sal ons wegvlug van hulle. Hulle sal aanhou om na ons toe te kom totdat hulle ver van die stad is, want hulle sal dink ons vlug weg van hulle, soos voorheen. Dan moet julle opstaan waar julle weggekruip het en julle moet die stad vat. Julle God die Here sal julle help om te oorwin. Wanneer julle die stad gevat het, dan moet julle dit aan die brand steek. Die Here het gesê ons moet dit doen, en nou sê ek julle moet dit doen.” Josua het die manne gestuur, en hulle het gaan wegkruip wes van Ai, tussen die stad Bet-El en Ai. Josua het daardie nag tussen die ander manne geslaap. Hy het vroeg opgestaan en hy het die manne laat gereedmaak. Hy en die leiers van die Israeliete het voor die manne na Ai geloop. Al die manne wat saam met Josua was, het nader gegaan en hulle het voor die stad gekom. Hulle het hulle tente opgeslaan noord van die stad. Daar was 'n vallei tussen hulle en die stad Ai. Josua het omtrent 5 000 manne laat wegkruip tussen Bet-El en Ai, wes van Ai. Josua en die leiers het gesê die manne moet op hulle plekke wees. Die groot kamp was noord van die stad en die ander manne was wes van die stad. Josua het daardie nag deur die vallei geloop. En dadelik toe die koning van Ai die Israeliete sien, het die manne van die stad gereedgemaak en uitgegaan om die Israeliete aan te val. Die koning en sy manne het die Israeliete in die Jordaan-vallei gaan aanval. Hy het nie geweet dat party Israeliete agter die stad weggekruip het nie. Dit het gelyk of Josua en al die Israeliete die oorlog verloor, hulle het na die woestyn gevlug. Die koning van Ai het al die manne wat nog in die stad was, laat kom om die Israeliete te volg en te jaag. Terwyl hulle dit gedoen het, het hulle verder en verder van die stad gegaan. Nie een man het in die stede Ai en Bet-El oorgebly nie, hulle het almal die Israeliete gevolg en gejaag en hulle het die stad oop gelos. Toe sê die Here vir Josua: “Tel jou spies op en wys daarmee na Ai, want Ek gee die stad vir jou.” Josua het sy spies opgetel en hy het na die stad gewys. Toe hy dit doen, het die manne wat weggekruip het, vinnig opgestaan en hulle het in die stad ingegaan. Hulle het die stad oorwin en dit gevat. Hulle het die stad dadelik aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai omkyk, sien hulle die rook uit die stad gaan op in die lug. Hulle wou vlug, maar hulle kon nie, want die Israeliete wat na die woestyn gevlug het, het omgedraai en hulle het die manne aangeval wat hulle gevolg en gejaag het. Josua en al die Israeliete het gesien dat die manne wat weggekruip het, die stad oorwin en gevat het, en dat daar rook uit die stad trek. Hulle het omgedraai en hulle het die manne van Ai aangeval. Die Israeliete wat in die stad was, het ook uitgekom om die manne van Ai aan te val. Daar was nou Israeliete voor die manne van Ai en ook agter hulle. Die Israeliete het al die manne van Ai doodgemaak, daar het nie een aangehou lewe nie en nie een kon vlug nie. Die Israeliete het die koning van Ai lewendig gevang en hulle het hom vir Josua gebring. Die Israeliete het almal doodgemaak wat in die stad gewoon het, ook almal wat hulle buite die stad en in die woestyn gekry het, daar het nie een van hulle aangehou lewe nie. Daarna het al die Israeliete teruggekom na die stad Ai en hulle het die stad aangeval. Die mense van Ai wat daardie dag gesterf het, mans en vroue, was almal saam 12 000. Josua het die spies in sy hand gehou, en hy het nie sy hand laat sak nie, hy het eers gewag totdat die Israeliete almal in die stad doodgemaak het. Die Israeliete het net die diere en die goed van die stad vir hulleself gevat. Die Here het vir Josua gesê hulle mag dit doen. Josua het die stad Ai laat verbrand. Dit is tot vandag net 'n hoop klippe, en daar woon niemand nie. Hy het die koning van Ai opgehang aan 'n boom. Toe die son daardie aand ondergaan, het Josua gesê hulle moet die lyk afhaal van die boom. Hulle het dit gedoen en hulle het die lyk in die poort van die stad gegooi. Hulle het dit met 'n groot hoop klippe toegegooi. Die klippe is nou nog daar.

JOSUA 8:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAROP sê die HERE vir Josua: Wees nie bevrees of verskrik nie; neem al die weerbare manskappe met jou saam en maak jou klaar, trek op na Ai; kyk, Ek gee die koning van Ai en sy volk en sy stad en sy land in jou hand. En jy moet met Ai en sy koning doen soos jy met Jérigo en sy koning gedoen het; net sy buit en sy vee mag julle vir julself buitmaak. Stel vir jou 'n hinderlaag op teen die stad, aan die agterkant. Toe het Josua hom gereedgemaak met al die weerbare manskappe om op te trek na Ai, en Josua het dertigduisend man, dapper helde, uitgesoek en hulle in die nag uitgestuur en aan hulle bevel gegee en gesê: Kyk, julle moet teen die stad 'n hinderlaag opstel, aan die agterkant van die stad; moenie te ver van die stad af weggaan nie, en hou julle almal gereed; en ek met al die manskappe wat by my is, ons sal na die stad toe aankom; as hulle dan 'n uitval maak om ons te ontmoet, soos die vorige keer, sal ons voor hulle uit vlug; en hulle sal uittrek agter ons aan totdat ons hulle van die stad afgesny het — want hulle sal dink: Hulle vlug voor ons uit soos die vorige keer — en ons sal voor hulle uit vlug. Dan moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad inneem; want die HERE julle God sal dit in julle hand gee. En as julle die stad verower het, moet julle die stad aan die brand steek, na die woord van die HERE moet julle handel; kyk, ek gee julle bevel. So het Josua hulle dan uitgestuur, en hulle het getrek na die hinderlaag en gebly tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van Ai; maar Josua het dié nag onder die manskappe deurgebring. Die môre vroeg het Josua hom klaargemaak en die manskappe gemonster en opgetrek met die oudstes van Israel, op die voorpunt van die manskappe, na Ai toe. En al die weerbare manskappe wat by hom was, het opgetrek en nader gegaan en teenoor die stad gekom, en hulle het laer opgeslaan aan die noordekant van Ai, sodat die dal tussen hulle en Ai was. So het hy dan omtrent vyfduisend man geneem en hulle in 'n hinderlaag opgestel tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van die stad. En hulle het die manskappe opgestel, die hele leër wat noordelik van die stad was, met sy agterhoede aan die westekant van die stad, maar Josua het dieselfde nag die laagte ingetrek. En toe die koning van Ai dit merk, het die manne van die stad hulle in die vroegte gou klaargemaak en uitgetrek om Israel in die geveg te ontmoet, hy en al sy manskappe, op 'n afgesproke plek voor die vlakte; maar hy het nie geweet dat daar vir hom agter die stad 'n hinderlaag lê nie. En Josua en die hele Israel het hul laat verslaan voor hulle en gevlug in die rigting van die woestyn. Al die manskappe in die stad is toe opgeroep om hulle agterna te jaag; en terwyl hulle Josua agtervolg, is hulle van die stad afgesny, sodat niemand in Ai en Bet-el oorgebly het wat nie agter Israel aan uitgetrek het nie; en hulle het die stad oop laat staan en Israel agternagejaag. En die HERE het vir Josua gesê: Steek die spies wat in jou hand is, na Ai toe uit, want Ek wil dit in jou hand gee. Daarop steek Josua die spies wat in sy hand was, na die stad uit. En die hinderlaag het gou van sy plek af opgestaan en gestorm net toe hy sy hand uitgesteek het, en hulle het in die stad ingekom en dit ingeneem en die stad gou aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai agter hulle omkyk, sien hulle hoe die rook van die stad na die hemel optrek; maar hulle het geen kans gehad om hierheen of daarheen te vlug nie, want die manskappe wat op die vlug was na die woestyn, het omgedraai teen die vervolgers. Toe Josua en die hele Israel sien dat die hinderlaag die stad inneem en dat die rook van die stad opstyg, het hulle omgedraai en die manne van Ai aangeval. Daarop trek dié uit die stad hulle tegemoet, sodat hulle tussen Israel in geraak het, 'n deel duskant en 'n deel anderkant; en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle oor was wat vrygeraak of ontvlug het nie. Maar hulle het die koning van Ai lewendig gevang en hom na Josua gebring. En nadat Israel al die inwoners van Ai in die veld, in die woestyn waar hulle hul agtervolg het, geheel en al van kant gemaak het, en hulle almal tot die laaste een toe deur die skerpte van die swaard geval het, het die hele Israel teruggekom na Ai en dit met die skerpte van die swaard verslaan. Al die gesneuweldes op dié dag, manne sowel as vroue, was twaalf duisend — al die mense van Ai. En Josua het sy hand met die uitgestrekte spies nie teruggetrek voordat hy al die inwoners van Ai met die banvloek getref het nie. Net die vee en die buit van daardie stad het die Israeliete vir hulle buitgemaak, volgens die woord van die HERE wat Hy Josua beveel het. Toe het Josua Ai verbrand en daarvan 'n puinhoop gemaak vir ewig, 'n wildernis tot vandag toe. En die koning van Ai het hy aan 'n paal opgehang tot die aand toe; maar teen sonsondergang het Josua bevel gegee, en hulle het sy lyk van die paal afgehaal en dit by die ingang van die stadspoort gegooi en 'n groot hoop klippe op hom gestapel wat vandag nog daar is.

JOSUA 8:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie. Neem al die manskappe met jou saam en trek op teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk, sy stad, sy land nou aan jou oor. Jy moet met Ai en sy koning doen soos jy met Jerigo en sy koning gedoen het. Net die buit en die vee kan julle vir julle vat. Laat van die manskappe hulle agter die stad versteek.” Josua en al die manskappe het toe klaargemaak om teen Ai op te trek. Josua het dertig duisend dapper manne gekies en hulle in die nag gestuur en hulle beveel: “Julle moet julle agter die stad versteek, nie te ver van die stad af nie, en julle moet gereed wees. Ek en al die manskappe by my sal na die stad toe aankom, en as hulle ons tegemoet kom, soos die vorige keer, sal ons vir hulle vlug. Hulle sal agter ons aan kom en so sal ons hulle van die stad af weglok. Hulle sal dink ons vlug vir hulle soos die vorige keer. Ons sal vir hulle vlug, en dan moet julle uit die skuilplek opstaan en die stad in besit neem. Die Here julle God gee dit aan julle oor. Wanneer julle die stad ingeneem het, moet julle dit aan die brand steek. Julle moet doen wat die Here beveel het. Ek dra die opdrag nou aan julle oor.” Josua het hulle toe laat gaan en hulle het hulle gaan versteek. Hulle het tussen Bet-El en Ai gelê, wes van Ai. Josua het dié nag tussen die manskappe geslaap. Vroeg die môre is Josua uit. Hy het sy manskappe in gelid opgestel en hy en die leiers van Israel het die manskappe na Ai toe gelei. Al die manskappe by hom het opgetrek en nader gegaan en reg voor die stad aangekom. Hulle het kamp opgeslaan noord van Ai. Die laagte was tussen hulle en Ai. Josua het omtrent vyf duisend man geneem en hulle 'n verskuilde posisie laat inneem tussen Bet-El en Ai, wes van die stad. Die manskappe het die hele kamp wat noord van die stad moes wees, opgeslaan, maar die ander deel was wes van die stad. Josua het dié nag afgegaan na die laagte toe. Die koning van Ai het gesien daar kom 'n aanval. Die manne van die stad het haastig klaargemaak en hulle het Israel vroeg die môre tegemoet getrek vir die veldslag. Die koning en al sy manskappe is na die plek toe waar hulle Israel wou ontmoet, regoor die Jordaanvallei. Hy het nie geweet van die versteekte afdeling agter die stad nie. Josua en die hele Israel het hulleself laat terugdryf deur die manne van Ai, en in die rigting van die woestyn gevlug. Al die manskappe in die stad is toe vir die agtervolging opgeroep; hulle het Josua agtervolg en is van die stad af weggelok. Daar het geen man in Ai of Bet-El agtergebly wat nie uit is agter Israel aan nie. Hulle het die stad net so oop gelos en het Israel agternagesit. Toe sê die Here vir Josua: “Steek die swaard wat jy in jou hand het, na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, na die stad toe uitgesteek, en toe staan die versteekte manskappe op uit hulle skuilplekke en storm, net toe hy sy hand uitsteek. Hulle is die stad in en het dit ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai terugkyk, sien hulle die rook van die stad in die lug opstyg. Hulle kon nêrens heen vlug nie, nie hiernatoe of soontoe nie, want Josua se manne wat woestyn se kant toe gevlug het, het omgedraai na hulle agtervolgers toe. Josua en die hele Israel het gesien die versteekte manskappe vat die stad, en toe die rook van die stad uitslaan, draai hulle om en val die manne van Ai aan. Dié mense het die stad verlaat om die Israeliete tegemoet te gaan, maar daar was nou Israeliete weerskante van hulle, en dié het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat ontkom en vrygeraak het nie. Die Israeliete het die koning van Ai gevang en hom na Josua toe gevat. Israel het al die inwoners van Ai doodgemaak wat vir Josua-hulle in die veld en die woestyn agternagesit het. Die agtervolgers het almal gesneuwel, tot die laaste man toe. Daarna is die hele Israel terug na Ai toe en het hulle al die mense in die stad doodgemaak. Almal wat daardie dag gesneuwel het, mans en vrouens, was twaalf duisend, al die mense van Ai. Josua het nie sy hand met die swaard teruggetrek voordat al die inwoners van Ai uitgeroei was nie. Israel het net die vee en die buit in die stad vir hulleself gevat, soos die Here vir Josua beveel het. Josua het Ai afgebrand en daarvan vir altyd 'n verlate ruïne gemaak. Dit is nou nog so. Hy het die koning van Ai aan 'n boom opgehang en hom daar laat bly tot die aand toe. Toe die son ondergaan, het Josua opdrag gegee, en hulle het die lyk van die boom afgehaal, dit in die stadspoort gegooi en 'n groot hoop klippe daarop gepak, wat vandag nog daar is.

JOSUA 8:1-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie. Neem al die weerbare manskappe saam met jou; maak gereed en trek op na Ai. Kyk, Ek gee die koning van Ai en sy mense, sy stad en sy gebied, in jou hand. Jy moet met Ai en sy koning maak soos jy met Jerigo en sy koning gemaak het. Net die buit en die vee mag julle vir julleself hou. Stel 'n hinderlaag op vir die stad aan die agterkant.” Josua en al die weerbare manskappe het toe gereedgemaak om teen Ai op te trek. Josua het dertig afdelings manne, dapper krygers, uitgesoek en hulle in die nag uitgestuur. Hy het hulle beveel: “Kyk, julle moet vir die stad 'n hinderlaag opstel, aan die agterkant van die stad. Julle moet dit nie te ver van die stad af doen nie, en julle moet almal slaggereed wees. Ek en al die manskappe wat by my is, sal die stad nader, en wanneer hulle uitkom om soos die vorige keer teen ons te staan te kom, sal ons voor hulle uit vlug. Hulle sal uittrek agter ons aan totdat ons hulle van die stad af weggelok het, want hulle sal dink, hulle vlug voor ons uit, soos die vorige keer. Terwyl ons dan voor hulle uit vlug, moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad beset. Die HERE julle God gee dit in julle hand. Wanneer die stad onder julle beheer is, moet julle dit aan die brand steek. Ooreenkomstig die woord van die HERE moet julle optree. Kyk, dit is my opdragte aan julle.” Josua het hulle weggestuur en hulle het na die plek vir die hinderlaag gegaan. Hulle het stelling ingeneem tussen Bet-El en Ai, aan die westekant van Ai. Josua het daardie nag tussen die manskappe deurgebring. Josua het vroeg die môre opgestaan en die manskappe gemonster. Hy het opgetrek na Ai, hy en die oudstes van Israel aan die voorpunt van die manskappe. Al die weerbare manskappe wat by hom was, het opgetrek; hulle het nader gegaan, en toe hulle by die stad aankom, het hulle aan die noordekant van Ai kamp opgeslaan, met die vallei tussen hulle en Ai. Hy het ongeveer vyfduisend man geneem en hulle in 'n hinderlaag opgestel tussen Bet-El en Ai, aan die westekant van die stad. Hulle het dus die manskappe só opgestel: die hoofmag aan die noordekant van die stad, en die agterhoede aan die westekant van die stad. Josua het daardie nag na die middel van die vallei beweeg. Toe die koning van Ai hulle sien, het hy en die manne van die stad vroeg die oggend Israel haastig tegemoet getrek vir die geveg by 'n sekere plek voor die Araba. Dit was hy en al sy manskappe. Hy het egter nie geweet dat daar vir hom 'n hinderlaag agter die stad wag nie. Josua en die hele Israel het voor hulle teruggeval en gevlug in die rigting van die woestyn. Al die manskappe wat in die stad was, is byeengeroep om hulle te agtervolg; en toe hulle Josua agtervolg, is hulle uit die stad gelok. Daar het niemand in Ai en Bet-El oorgebly wat nie uitgetrek het agter Israel aan nie. Hulle het die stad oop agtergelaat en Israel agtervolg. Toe sê die HERE vir Josua: “Steek die kromswaard wat in jou hand is, uit na Ai, want Ek gee dit in jou hand.” Josua het toe die kromswaard wat in sy hand was, na die stad uitgesteek. Toe hy sy hand uitsteek, het die manne in die hinderlaag dadelik opgespring uit hulle plekke, gehardloop en in die stad ingegaan. Hulle het dit ingeneem en die stad vinnig aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai omdraai, sien hulle – daar styg die rook van die stad op na die hemel! Hulle kon nie na een van die twee kante vlug nie, nie na hierdie of daardie kant nie, want die manskappe wat na die woestyn op vlug was, het omgedraai na die agtervolgers. Toe Josua en die hele Israel sien dat die manskappe uit die hinderlaag die stad ingeneem het en dat die rook uit die stad opstyg, het hulle omgedraai en die manne van Ai aangeval. Toe trek die ander uit die stad die manne van Ai tegemoet, en so was hulle in die middel van die Israeliete, die een groep aan hierdie kant en die ander aan daardie kant. Israel het hulle verslaan, totdat daar van hulle niemand oor was wat ontvlug of ontkom het nie. Die koning van Ai is egter lewend gevang en na Josua gebring. Nadat Israel al die inwoners van Ai in die veld, in die woestyn, waar hulle hulle agtervolg het, klaar om die lewe gebring het, en almal van hulle, tot die laaste man toe, deur die skerpte van die swaard geval het, het die hele Israel teruggekeer na Ai en die stad met die skerpte van die swaard verslaan. Almal wat daardie dag gesneuwel het, mans en vroue, al die mense van Ai, was twaalfduisend. Josua het nie sy hand met die kromswaard wat hy uitgesteek het, teruggetrek nie, totdat hy al die inwoners van Ai met die banvloek getref het. Net die vee en die buit van daardie stad het Israel vir hulleself gevat, volgens die woord van die HERE wat Hy Josua beveel het. Josua het Ai afgebrand en dit vir altyd 'n puinheuwel gemaak, 'n woesteny; dit is vandag nog so. Die koning van Ai het hy aan 'n paal opgehang tot die aand. Teen sononder het Josua bevel gegee, en hulle het sy lyk van die paal afgehaal, dit by die ingang van die stad gegooi en 'n groot hoop klippe op hom gepak, wat vandag nog daar is.

JOSUA 8:1-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het vir Josua gesê: Wees nie bevrees nie en wees nie verskrik nie; neem die hele krygsvolk saam met jou en maak klaar, trek op na Ai; kyk, Ek gee die koning van Ai en sy volk in jou hand en sy stad en sy land: En jy moet met Ai en haar koning doen soos jy met Jérigo en sy koning gedoen het: net sy buit en sy vee moet julle vir julleself buit; lê vir julle 'n hinderlaag vir die stad daaragter. Toe het Josua en al die krygsmanne klaargemaak om teen Ai op te trek; en Josua het dertigduisend dapper helde uitgekies en hulle in die nag weggestuur. En hy het hulle bevel gegee en gesê: Kyk, julle lê en loer teen die stad, ja, agter die stad; gaan nie baie ver van die stad af nie, maar wees almal gereed. En ek en al die mense wat by my is, sal na die stad nader, en as hulle teen ons uittrek, soos die eerste keer, sal ons voor hulle uit vlug, (want hulle sal agter ons uittrek) totdat ons hulle uit die stad getrek het; want hulle sal sê: Hulle vlug voor ons uit soos in die begin; daarom sal ons voor hulle uit vlug. Dan moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad inneem, want die HERE julle God sal dit in julle hand gee. En as julle die stad ingeneem het, moet julle die stad aan die brand steek; volgens die bevel van die HERE moet julle handel. Kyk, Ek het jou beveel. Josua het hulle dan uitgestuur, en hulle het in 'n hinderlaag gegaan en tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van Ai, gebly; maar Josua het daardie nag onder die volk vernag. En Josua het die môre vroeg klaargemaak en die volk getel en opgetrek, hy en die oudstes van Israel, voor die volk uit na Ai. En al die manskappe, die krygsmanne wat by hom was, het opgetrek en nader gekom en voor die stad gekom en laer opgeslaan aan die noordekant van Ai; nou was daar 'n dal tussen hulle en Ai. En hy het omtrent vyf duisend man geneem en hulle in 'n hinderlaag laat lê tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van die stad. En toe hulle die manskappe aangestel het, die hele leër wat in die noorde van die stad was, en hulle leuenaars aan die westekant van die stad, het Josua daardie nag in die middel van die dal gegaan. En toe die koning van Ai dit sien, het hulle gou en vroeg klaargemaak, en die manne van die stad het teen Israel uitgetrek om te veg, hy en sy hele volk, op 'n vasgestelde tyd voor die vlakte; maar hy het nie geweet dat daar agter die stad leuenaars in 'n hinderlaag teen hom was nie. En Josua en die hele Israel het gemaak asof hulle voor hulle geslaan is en op die pad na die woestyn gevlug. En al die mense wat in Ai was, is bymekaargeroep om hulle te agtervolg, en hulle het Josua agternagejaag en van die stad af weggetrek. En daar het geen man in Ai of Bet-el oorgebly wat nie agter Israel aan uitgetrek het nie; en hulle het die stad oopgelaat en Israel agternagejaag. Toe sê die HERE vir Josua: Steek die spies wat in jou hand is, na Ai uit; want Ek sal dit in jou hand gee. En Josua het die spies wat hy in sy hand gehad het, na die stad uitgesteek. En die hinderlaag het vinnig uit hulle plek opgestaan, en hulle het gehardloop sodra hy sy hand uitgesteek het; en hulle het in die stad ingegaan en dit ingeneem en gehaas en die stad aan die brand gesteek. En toe die manne van Ai agter hulle omkyk, sien hulle, en kyk, die rook van die stad het na die hemel opgestyg, en hulle het geen mag gehad om hierdie kant toe of daarheen te vlug nie; en die volk wat na die woestyn gevlug het, het omgedraai op die agtervolgers. En toe Josua en die hele Israel sien dat die hinderlaag die stad ingeneem het en dat die rook van die stad opstyg, het hulle weer omgedraai en die manne van Ai gedood. En die ander een het uit die stad teen hulle uitgetrek; en hulle was in die midde van Israel, sommige aan die een en ander aan die ander kant; en hulle het hulle verslaan, sodat hulle nie een van hulle laat oorbly of ontsnap het nie. En hulle het die koning van Ai lewendig geneem en hom na Josua gebring. En toe Israel klaar was met die doodmaak van al die inwoners van Ai in die veld, in die woestyn waarin hulle hulle agtervolg het, en toe hulle almal op die skerpte van die swaard geval het, totdat hulle verteer was, al die Israeliete het na Ai teruggekeer en dit met die skerpte van die swaard verslaan. En so het dit gebeur dat almal wat daardie dag geval het, mans sowel as vroue, twaalfduisend was, al die manne van Ai. Want Josua het sy hand waarmee hy die spies uitgesteek het, nie teruggetrek nie, totdat hy al die inwoners van Ai met die banvloek getref het. Net die vee en die buit van daardie stad het Israel vir hulleself as buit geneem, volgens die woord van die HERE wat Hy Josua beveel het. En Josua het Ai verbrand en dit 'n hoop vir ewig gemaak, 'n wildernis tot vandag toe. En die koning van Ai het hy aan 'n boom opgehang tot die aand toe; en sodra son onder was, het Josua bevel gegee dat hulle sy lyk van die boom moes afhaal en dit by die ingang van die stadspoort gooi en oprig daarop 'n groot hoop klippe wat tot vandag toe oorgebly het.

JOSUA 8:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het toe vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie. Moenie moedeloos word nie. Vat al jou manskappe en gaan veg teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk en sy stad en sy land in jou mag. Maak met Ai en sy koning net soos jy met Jerigo en sy koning gemaak het. Hierdie keer mag julle egter die buit en die vee vir julleself vat. Stel ’n hinderlaag aan die agterkant van die stad op.” Josua en al sy manskappe het toe teen Ai opgetrek. Josua het 30 000 dapper manskappe uitgekies en hulle gedurende die nag uitgestuur. Hy het hulle beveel: “Gaan kruip aan die agterkant van die stad weg. Moenie te ver van die stad af gaan nie. Hou julle gereed. Ek en almal saam met my sal die stad van voor af nader. Wanneer hulle soos die vorige keer uittrek om teen ons te veg, sal ons op die vlug slaan. Hulle sal uit die stad uit kom om ons agterna te sit. Hulle sal dink ons vlug weer vir hulle soos die vorige keer. Ons sal voor hulle uit padgee. Julle moet dan uit julle skuilplek opstaan en die stad inval. Die HERE julle God sal dit in julle mag gee. “Wanneer julle beheer van die stad oorgeneem het, moet julle dit aan die brand steek. Maak soos die HERE gesê het. Julle het nou my bevele.” Josua het hulle weggestuur. Hulle het die hinderlaag gaan opstel en hulle ingegrawe tussen Bet-El en die westekant van Ai. Josua self het daardie nag in die kamp geslaap. Josua het die môre vroeg opgestaan en sy manskappe opgeroep. Hy en die aanvoerders van Israel het die manskappe teen Ai gelei. Al die manskappe het saam met hom opgetrek en nader aan die stad beweeg. Hulle het kamp opgeslaan aan die noordekant van Ai. Daar was ’n laagte tussen hulle en Ai. Josua het ongeveer 5 000 man gevat en hulle in ’n hinderlaag opgestel tussen Bet-El en Ai aan die westekant van die stad. Die hoofkamp was dus noord van die stad en die manskappe in die hinderlaag aan die westekant van die stad. Josua self het daardie nag in die laagte geslaap. Toe die koning van Ai hulle sien, het hy en sy leër haastig klaargemaak en vroeg die môre uitgetrek om teen Israel oorlog te maak. Hy en sy mense is na ’n plek regoor die Jordaanvallei. Hy het egter nie geweet van die hinderlaag wat agter die stad gelê het nie. Josua en die hele Israel het omgevlieg en op die vlug geslaan in die rigting van die woestyn. Almal in die stad is opgeroep om hulle te agtervolg. Hulle is agter Josua aan en is so van die stad af weggelok. Daar was nie ’n man in Ai of Bet-El oor wat nie agter die Israeliete aan was nie. Hulle het egter die stad net so oop gelos toe hulle agter Israel aan is. Toe sê die HERE vir Josua: “Steek die spies in jou hand na Ai toe uit. Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die spies in sy hand na Ai toe uitgesteek. Toe hy sy hand uitsteek, was dit die teken. Die manskappe wat weggekruip het, het vinnig uit hulle skuilplekke opgespring en die stad bestorm. Hulle het die stad ingestorm en dit verower. Hulle het dit dadelik aan die brand gesteek. Toe die mans van Ai omkyk, sien hulle hoe die rook uit die stad in die lug optrek. Hulle kon absoluut nêrens heen vlug nie. Die mense wat in die rigting van die woestyn gevlug het, het nou teen hulle agtervolgers omgedraai. Josua en al die Israeliete het gesien dat die hinderlaag gewerk het. Toe die rook uit die stad begin opstyg, het hulle omgedraai en die mans van Ai aangeval. Die manskappe van Israel het uit die stad gekom en hulle van agter aangeval. Die mense van Ai het nou Israeliete voor en agter hulle gehad. Die Israeliete het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat kon oorleef of vrykom nie. Die Israeliete het die koning van Ai lewendig gevang en hom na Josua toe gevat. Nadat die Israeliete al die inwoners van Ai wat hulle op die oop stuk veld en die woestyn agternagesit het, doodgemaak het, is hulle terug na Ai toe en het al die mense in die stad doodgemaak. Die mense van Ai wat daardie dag dood is, sowel mans as vroue, was 12 000. Josua het nie sy hand met die spies wat hy uitgesteek het, teruggetrek voordat almal wat in Ai gebly het, uitgewis was nie. Net die vee en die oorlogsbuit van die stad het oorgebly. Israel het dit vir hulleself gevat, soos die HERE vir Josua gesê het. Josua het Ai afgebrand en daarvan ’n verlate ruïneheuwel gemaak. Dit is vandag nog so. Josua het die koning van Ai aan ’n boom opgehang. Hy het hom daar laat hang tot die son ondergegaan het. Josua het toe opdrag gegee om sy liggaam van die boom af te haal. Hulle het dit in die ingang van die stad gaan gooi en dit met ’n groot hoop klippe toegepak. Dit is vandag nog daar.