Josua het daarna die stamme Ruben en Gad en die een helfte van die Manassestam geroep en vir hulle gesê: “Julle het alles gedoen wat Moses die dienaar van die Here julle beveel het en julle was gehoorsaam aan alles wat ek julle beveel het. Julle het hierdie hele tyd tot vandag toe nie julle broers in die steek gelaat nie en julle het gedoen wat die Here julle God julle beveel het. Nou het Hy aan julle broers 'n woonplek gegee soos Hy hulle beloof het. Gaan nou terug na julle eie woonplekke toe, na julle eie gebied oorkant die Jordaan wat Moses die dienaar van die Here aan julle toegeken het. Sorg net dat julle die gebod en die wet wat Moses die dienaar van die Here julle opgelê het, getrou onderhou, naamlik om die Here julle God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sy gebooie te onderhou, aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.” Josua het hulle met 'n seënwens laat gaan, en hulle is na hulle woonplekke toe. Vir die een helfte van die Manassestam het Moses 'n gebied in Basan gegee, en vir die ander helfte het Josua wes van die Jordaan 'n gebied gegee saam met die ander stamme. Toe Josua die stamme na hulle woonplekke toe laat gaan met 'n seënwens, het hy vir hulle gesê: “Gaan terug na julle woonplekke toe met groot rykdom, met groot troppe vee, met silwer, goud, koper en yster, met baie klere, maar deel die buit wat julle van julle vyande gevat het, met julle stamgenote.”
Lees JOSUA 22
Deel
Vergelyk alle weergawes: JOSUA 22:1-8
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's