JOSUA 22:1-8

JOSUA 22:1-8 NLV

Daarna het Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe Manassestam by hom laat bymekaarkom. Hy het vir hulle gesê: “Julle het pligsgetrou alles nagekom wat Moses, die dienaar van die HERE, aan julle opgedra het. Julle het elke opdrag uitgevoer wat ek vir julle gegee het. Al het dit lank geduur, het julle nooit die ander stamme in die steek gelaat nie. Julle het alles gedoen wat die HERE julle God julle beveel het. Die HERE julle God het soos Hy beloof het, vir julle volksgenote permanente blyplek gegee. Julle kan nou omdraai en teruggaan na julle woonplekke toe, na die grond wat Moses, die dienaar van die HERE, vir julle oorkant die Jordaanrivier gegee het. Let baie goed daarop dat julle die gebod en die wet wat Moses, die dienaar van die HERE, julle voorgehou het, moet gehoorsaam. Dit beteken dat julle die HERE julle God moet liefhê, die koers moet inslaan wat Hy van julle verwag, bedag moet wees op wat Hy wil hê, daaraan vashou en met hart en siel vir Hom lewe.” Josua het hulle seën toegewens en hulle weggestuur. Hulle is toe terug na hulle eie woonplek toe. Moses het vir die een helfte van die Manassestam grond in Basan gegee. Josua het vir die ander helfte van die stam grond wes van die Jordaan saam met die ander stamme gegee. Toe Josua hulle nou terugstuur na hulle woonplekke toe, het hy hulle geseën en vir hulle gesê: “Gaan terug en deel alles wat julle by julle vyande afgeneem het met julle families by die huis. Deel julle rykdom met hulle, julle groot troppe vee, die silwer, goud, koper en yster, en die baie klere wat julle gekry het.”