Josua 22:1-8

Josua 22:1-8 AFR20

Daarna het Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse geroep. Hy het vir hulle gesê: “Julle het alles wat Moses, die dienskneg van die HERE, julle beveel het, nagekom, en julle het my ook gehoorsaam in alles wat ek julle beveel het. Alreeds vir 'n baie lang tyd, tot vandag toe, het julle nie julle broers in die steek gelaat nie. Julle het die verpligtinge van die HERE julle God se opdrag nagekom. En nou het die HERE julle God vir julle broers rus gegee, soos Hy hulle beloof het. Julle moet dan nou omdraai en na julle woonplekke gaan, na die land van julle erfgrond, wat Moses, die dienskneg van die HERE, vir julle gegee het oorkant die Jordaan. Kom net die opdragte en die wet nougeset na wat Moses, die dienskneg van die HERE, julle beveel het, naamlik om die HERE julle God lief te hê, al sy paaie te volg, sy gebooie na te kom, aan Hom vas te hou, en Hom te dien met julle hele hart en julle hele wese. ” Josua het hulle geseën en weggestuur, en hulle het na hulle woonplekke gegaan. Vir die halwe stam van Manasse het Moses grond in Basan gegee; en vir die ander helfte van die stam het Josua grond gegee by hulle broers, aan die ander kant, aan die westekant van die Jordaan. Josua het ook, toe hy hulle na hulle woonplekke weggestuur en hulle geseën het, vir hulle gesê: “Keer terug na julle woonplekke met rykdom in oorvloed – met besonder baie vee, met silwer en goud, brons en yster en met 'n groot hoeveelheid klere. Deel die buit wat van julle vyande af kom met julle broers.”