JOËL 1:11-20

JOËL 1:11-20 AFR83

Julle moet verslae staan, saaiboere, oor die koring en die gars, want die oes op die land is tot niet. Kla, vrugteboere, die wingerd het verdor; die vyeboom staan verdroog, die granaat, die dadel en die appel, ja, al die bome in die boord het verdor. Daar het 'n einde gekom aan die vreugde van die mense. Trek rouklere aan, treur, priesters! Kerm, julle wat diens doen by die altaar! Dra julle rouklere selfs snags, julle wat in die diens van my God is: die graanoffer en die drankoffer is weggeneem uit die huis van julle God. Bepaal 'n vasdag, roep die gemeente bymekaar, bring die leiers en al die inwoners van die land na die huis van die Here julle God toe. Roep tot die Here! Die vreeslike dag! Die dag van die Here is naby: dit is 'n dag van verwoesting, dit kom van die Almagtige af. Voor ons oë is ons kos weggevat; blydskap en gejuig het uit die huis van ons God verdwyn. Die saad lê verskrompel onder die kluite, die graanskure lê verlate, die skure lê afgebreek, want die koringoes het misluk. Die vee bulk en blêr: die troppe beeste dwaal rond, want hulle het niks om te vreet nie, ook die kleinveetroppe kry swaar. Ek roep tot U, Here, want 'n vuur het die weiveld verteer, 'n brand het al die bome in die veld weggebrand. Die diere in die veld wag op uitkoms van U af, want die spruite het opgedroog, 'n vuur het die weiveld verteer.