Joël 1:11-20

Joël 1:11-20 DB

Begin huil, saaiboere, want die koring en die gars, ja, al die oeste is daarmee heen. Huil, vrugteboere, want die wingerde en die vyeboorde het almal van droogte doodgegaan; al die granaat-, dadel- en appelbome, ja, al die bome in julle boorde het verdroog en is besig om dood te gaan. Boonop het die mense se vreugde heeltemal opgedroog. Trek vir julle rouklere aan en treur, priesters, julle wat die offers op die altaar moet bring. Huil die hele nag deur daar waar julle God dien, want daar is niks meer koring of wyn oor om in die huis van julle God aan Hom te offer nie. Roep nou dadelik ’n vasdag uit. Almal moet uit berou oor hulle sondes ophou eet. Belê ’n gemeentevergadering. Kry die leiers en die hele volk in die woonplek van die Here julle God bymekaar. Pleit by die Here om weer goed te wees vir julle. Die dag van die Here is bitter naby, die dag van die Almagtige is ’n dag waarop al die slegte mense vernietig gaan word! Hoe verskriklik gaan hierdie dag nie wees nie! Ons staan en kyk hoe ons kos voor ons oë verdwyn. Ons het niks meer om oor bly te wees wanneer ons in die woonplek van ons God bymekaarkom nie. Die saad gaan dood op ons lande. Ons gaan geen oeste hê nie. Daarom staan die skure leeg, want daar is nie koring om daarin te bêre nie. Die vee bulk en blêr van die honger. Die beeste dwaal oral rond op soek na iets om te vreet, want daar is nie meer kos nie. Tot die kleinvee kry al swaar. Help ons, Here! Ons weivelde en ons bome is verdroog. Dit is of ’n vuur alles rondom ons weggebrand het. Selfs die wilde diere van die veld wag dat U moet ingryp, want al die spruite het opgedroog. Daar is niks vir hulle om te eet of te drink nie. Die son het alles doodgebrand.