JOB 1:1-12

JOB 1:1-12 AFR83

In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man. Sy seuns het om die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters genooi om saam met hulle fees te vier. Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, “want,” het Job gesê: “miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” Job het dit elke keer gedoen. Op 'n dag het die hemelwesens voor die Here kom staan, en die Satan was ook onder hulle. Toe vra die Here vir hom: “Waar kom jy vandaan?” En die Satan antwoord die Here: “Ek het die wêreld deurkruis.” Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom raakgesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.” Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.” Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.” Die Satan het daarna van die Here af weggegaan.