JOB 1:1-12
JOB 1:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ’n man met die naam Job. Hy het in die land Us gewoon. Hy het onberispelik geleef en was ’n man met integriteit. Hy het God gedien en nie die verkeerde gedoen nie. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. Hy het ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 500 spanne trekosse, 500 donkiemerries en baie slawe gehad – sowel mans as vroue. Hy was die rykste man in daardie omgewing. Elke jaar wanneer een van sy seuns verjaar het, het hulle die ander broers en die drie susters genooi om saam te kom partytjie hou. Dan het hulle vrolik saam geëet en gedrink. Ná so ’n partytjie, wat soms vir ’n hele paar dae aangehou het, het Job sy kinders gereinig. Dan het hy vroegoggend opgestaan en vir elkeen van hulle ’n brandoffer gebring. “Miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” So het Job elke keer gedoen. Eendag het die hemelwesens voor die HERE kom staan. Die aanklaer was tussen hulle. “Waar was jy heeltyd?” vra die HERE vir die aanklaer. Die aanklaer antwoord die HERE: “Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat daar aangaan.” Die HERE vra toe vir die aanklaer: “Het jy vir Job opgemerk? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit. Hy aanbid My en vermy die kwaad.” Die aanklaer sê toe vir die HERE: “Ja, dit is so. Job dien die Here. Maar hy het goeie rede om dit te doen! U het hom, sy huisgesin en sy eiendom nog altyd net beskerm. En U het hom voorspoedig gemaak in alles wat hy aanpak. Kyk net hoe ryk is hy! Maar reik nou uit en vat alles wat hy het. Hy sal U verseker in u gesig vloek!” “Goed, jy mag hom toets,” sê die HERE vir die aanklaer. “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.” Die aanklaer is toe weg van die HERE af.
JOB 1:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n man in die land Us. Sy naam was Job. Hy was 'n goeie man, hy was eerlik, hy het God gedien en hy het nie verkeerd gedoen nie. Job het sewe seuns en drie dogters gehad. Hy het 7 000 skape en bokke gehad, 3 000 kamele, 1 000 beeste, 500 donkies en baie slawe. Hierdie man was ryker as al die Oosmense. Sy seuns het graag partytjies gehou in hulle huise, elke seun het 'n beurt gekry. Dan het hulle boodskappers gestuur en hulle het hulle susters genooi om saam te kom eet en drink. Wanneer 'n partytjie verby was, dan het Job vir sy kinders laat weet dat hulle hulleself moet wy. Hy het vroeg opgestaan en hy het vir elke kind 'n brand-offer gebring, want hy het gedink: Miskien het my kinders sonde gedoen en vir God vervloek. Job het dit altyd gedoen wanneer 'n partytjie verby was. Eendag het die engele voor die Here kom staan. Die Satan het saam met hulle gekom. Die Here het vir die Satan gevra: “Waar was jy?” Die Satan het gesê: “Ek het oral op die wêreld rondgegaan.” Toe vra die Here vir die Satan: “Het jy my dienaar Job gesien? Daar is niemand in die wêreld soos hy nie. Hy is 'n goeie man, hy is eerlik, hy dien My en hy doen nie verkeerd nie.” Die Satan het vir die Here gesê: “Ek weet hoekom Job vir U dien, hy doen dit omdat hy baie van U kry. U het hom beskerm en ook sy huisgesin en alles wat hy het. U het dit goed laat gaan met alles wat hy gedoen het, hy het ryk geword. Maar as U iets wegvat wat hy het, dan sal hy vir U sê hy vervloek U, dit is seker.” Toe sê die Here vir die Satan: “Jy mag doen wat jy wil met alles wat Job het, maar jy mag niks doen aan homself nie.” Die Satan het toe weggegaan van die Here.
JOB 1:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAR was 'n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad. En vir hom is daar sewe seuns en drie dogters gebore. Daarby was sy besitting seweduisend stuks kleinvee en drieduisend kamele en vyfhonderd paar beeste en vyfhonderd eselinne en 'n groot menigte slawe, sodat dié man ryker was as al die kinders van die Ooste. En sy seuns was gewoond om 'n maaltyd aan te rig in die huis van elkeen op sy dag. Dan stuur hulle en nooi hul drie susters om saam met hulle te eet en te drink. En elke keer as die dae van die maaltye om was, het Job gestuur en hulle geheilig. Dan maak Job die môre vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van hulle; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën! So het Job altyd gedoen. En op 'n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van 'n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: 'n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het — waarlik, hy sal U in u aangesig seën! Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.
JOB 1:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man. Sy seuns het om die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters genooi om saam met hulle fees te vier. Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, “want,” het Job gesê: “miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” Job het dit elke keer gedoen. Op 'n dag het die hemelwesens voor die Here kom staan, en die Satan was ook onder hulle. Toe vra die Here vir hom: “Waar kom jy vandaan?” En die Satan antwoord die Here: “Ek het die wêreld deurkruis.” Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom raakgesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.” Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.” Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.” Die Satan het daarna van die Here af weggegaan.
JOB 1:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hierdie man was opreg en onberispelik in sy optrede; hy het vir God ontsag gehad en die kwaad vermy. Daar is vir hom sewe seuns en drie dogters gebore. Hy het seweduisend stuks kleinvee, drieduisend kamele, vyfhonderd pare beeste, vyfhonderd donkiemerries en 'n besondere groot werksmag gehad. Hierdie man was meer vermoënd as enigiemand in die ooste. Sy seuns het die gewoonte gehad om elkeen in sy eie huis, om die beurt, 'n fees aan te bied. Hulle het dan 'n boodskap gestuur en hulle drie susters genooi om saam met hulle te eet en te drink. Wanneer die feesdae verby was, het Job hulle laat haal en hulle geheilig. Hy het vroeg in die môre vir elkeen van hulle 'n •brandoffer gebring; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle harte gevloek. Job het dit elke keer gedoen. Toe, op 'n dag, het die hemelwesens gekom om by die HERE hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom. Die HERE sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die HERE geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” Die HERE het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, 'n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy.” Die satan het die HERE geantwoord; hy het gesê: “Is dit sonder rede dat Job ontsag het vir God? Is dit nie U self wat hom en sy huis, en alles wat aan hom behoort, aan alle kante afgeskerm het nie? Sy handewerk het U geseën, en sy veestapel het in die land uitgebrei. Maar steek nou net u hand uit en tas alles aan wat aan hom behoort – hy sal U beslis in u gesig vloek. ” Die HERE sê toe vir die satan: “Kyk, alles wat aan hom behoort, is in jou hand. Net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie.” Die satan het toe uitgegaan, weg van die HERE af.
JOB 1:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daar was 'n man in die land Us met die naam van Job; en daardie man was volmaak en opreg, en een wat God gevrees en afgewyk het van die kwaad. En vir hom is sewe seuns en drie dogters gebore. En sy besitting was sewe duisend stuks kleinvee en drie duisend kamele en vyf honderd paar beeste en vyf honderd esels en 'n baie groot huisgesin; sodat hierdie man die grootste was van al die manne van die Ooste. En sy seuns het gegaan en feesmaal in hulle huise, elkeen sy dag; en gestuur en hulle drie susters laat roep om saam met hulle te eet en te drink. En toe die dae van hulle feesmaal verby was, het Job gestuur en hulle geheilig en die môre vroeg opgestaan en brandoffers gebring volgens hulle almal se getal; want Job het gesê: Dit is moontlik dat my seuns het gesondig en God vervloek in hulle harte. So het Job voortdurend gedoen. En daar was 'n dag dat die seuns van God gekom het om hulle voor die aangesig van die HERE te stel, en die Satan het ook onder hulle gekom. En die HERE het vir die Satan gesê: Waar kom jy vandaan? Toe het die Satan die HERE geantwoord en gesê: Van heen en weer op die aarde en van heen en weer daarin wandel. Toe sê die HERE vir die Satan: Het jy ag geslaan op my kneg Job, dat daar niemand soos hy op die aarde is nie, 'n opregte en opregte man, een wat God vrees en wat die kwaad vermy? Toe het die Satan die HERE geantwoord en gesê: Vrees Job God verniet? Het jy nie 'n heining rondom hom en om sy huis en oor alles wat hy het aan alle kante gemaak nie? U het die werk van sy hande geseën, en sy besitting het vermeerder in die land. Maar steek nou jou hand uit en raak aan alles wat hy het, en hy sal jou in jou aangesig vloek. Toe sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou mag; net op homself nie u hand uitsteek nie. Die Satan het toe weggegaan van die aangesig van die HERE.
JOB 1:1-12 Die Boodskap (DB)
Daar was ’n man met die naam Job wat in die land Us gebly het. Hy het ’n skoon en eerlike lewe geleef. Hy het God gedien en het nie verkeerde dinge gedoen nie. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. Verder het hy ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 1 000 beeste en 500 donkies gehad. ’n Groot klomp slawe het ook vir hom gewerk. Om die waarheid te sê, hy was die rykste mens in die hele Ooste. Job se seuns het beurte gemaak om by hulle huise partytjies te hou. As hulle so ’n partytjie gehou het, het hulle hulle drie susters genooi om saam te kom eet en drink. Hierdie partytjies het partykeer ’n paar dae aangehou. Ná so ’n fees was Job altyd bekommerd dat sy kinders dalk iets verkeerds gedoen het. Hy was bang dat hulle dalk iets gedoen of gedink het wat God sou kon beledig. Hy het hulle laat haal en dan gesorg dat hulle regmaak teenoor die Here wat verkeerd is. Hy sou vroeg in die môre opstaan en namens elkeen van sy kinders ’n offer aan die Here bring. Hy wou hulle posisie reg hou by die Here. Job het dit na elke partytjie gedoen. Op ’n dag het die inwoners van die hemel na die Here toe gekom. Die Satan was saam met hulle daar. Hy het mense gewoonlik aangekla. Die Here het vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan?” Satan het geantwoord: “Ek het heen en weer en kruis en dwars oor die aarde rondgegaan.” Die Here het toe vir die Satan gevra: “Het jy miskien vir Job raakgesien? Hy behoort aan My en doen net wat Ek hom vra om te doen. Op die hele aarde is daar nie ’n mens wat sy gelyke is nie. Hy lei ’n skoon en eerlike lewe. Hy doen ook nie verkeerde dinge nie. Hy dien My en hy bly van slegte en verkeerde goed af weg.” Satan het die Here geantwoord: “Ja, Job dien U, maar nie om dowe neute nie. Hy wil iets daaruit kry. U het hom en sy huisgesin en alles wat hy het nog altyd beskerm. U sorg dat hy ’n sukses maak van alles wat hy doen. Sy rykdom word net meer en meer. Maar waag dit net om aan sy goed te vat en kyk wat sal gebeur. Hy sal U in u gesig slegsê!” Die Here het toe vir Satan gesê: “Dit is reg so, jy kan met sy goed maak net wat jy wil. Maar van Job hou jy jou hande af!” Die Satan het toe van die Here af weggegaan.
JOB 1:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ’n man met die naam Job. Hy het in die land Us gewoon. Hy het onberispelik geleef en was ’n man met integriteit. Hy het God gedien en nie die verkeerde gedoen nie. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. Hy het ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 500 spanne trekosse, 500 donkiemerries en baie slawe gehad – sowel mans as vroue. Hy was die rykste man in daardie omgewing. Elke jaar wanneer een van sy seuns verjaar het, het hulle die ander broers en die drie susters genooi om saam te kom partytjie hou. Dan het hulle vrolik saam geëet en gedrink. Ná so ’n partytjie, wat soms vir ’n hele paar dae aangehou het, het Job sy kinders gereinig. Dan het hy vroegoggend opgestaan en vir elkeen van hulle ’n brandoffer gebring. “Miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” So het Job elke keer gedoen. Eendag het die hemelwesens voor die HERE kom staan. Die aanklaer was tussen hulle. “Waar was jy heeltyd?” vra die HERE vir die aanklaer. Die aanklaer antwoord die HERE: “Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat daar aangaan.” Die HERE vra toe vir die aanklaer: “Het jy vir Job opgemerk? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit. Hy aanbid My en vermy die kwaad.” Die aanklaer sê toe vir die HERE: “Ja, dit is so. Job dien die Here. Maar hy het goeie rede om dit te doen! U het hom, sy huisgesin en sy eiendom nog altyd net beskerm. En U het hom voorspoedig gemaak in alles wat hy aanpak. Kyk net hoe ryk is hy! Maar reik nou uit en vat alles wat hy het. Hy sal U verseker in u gesig vloek!” “Goed, jy mag hom toets,” sê die HERE vir die aanklaer. “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.” Die aanklaer is toe weg van die HERE af.