Job 1:1-12

Job 1:1-12 AFR20

In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hierdie man was opreg en onberispelik in sy optrede; hy het vir God ontsag gehad en die kwaad vermy. Daar is vir hom sewe seuns en drie dogters gebore. Hy het seweduisend stuks kleinvee, drieduisend kamele, vyfhonderd pare beeste, vyfhonderd donkiemerries en 'n besondere groot werksmag gehad. Hierdie man was meer vermoënd as enigiemand in die ooste. Sy seuns het die gewoonte gehad om elkeen in sy eie huis, om die beurt, 'n fees aan te bied. Hulle het dan 'n boodskap gestuur en hulle drie susters genooi om saam met hulle te eet en te drink. Wanneer die feesdae verby was, het Job hulle laat haal en hulle geheilig. Hy het vroeg in die môre vir elkeen van hulle 'n •brandoffer gebring; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle harte gevloek. Job het dit elke keer gedoen. Toe, op 'n dag, het die hemelwesens gekom om by die HERE hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom. Die HERE sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die HERE geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” Die HERE het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, 'n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy.” Die satan het die HERE geantwoord; hy het gesê: “Is dit sonder rede dat Job ontsag het vir God? Is dit nie U self wat hom en sy huis, en alles wat aan hom behoort, aan alle kante afgeskerm het nie? Sy handewerk het U geseën, en sy veestapel het in die land uitgebrei. Maar steek nou net u hand uit en tas alles aan wat aan hom behoort – hy sal U beslis in u gesig vloek. ” Die HERE sê toe vir die satan: “Kyk, alles wat aan hom behoort, is in jou hand. Net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie.” Die satan het toe uitgegaan, weg van die HERE af.