Daar was ’n man met die naam Job wat in die land Us gebly het. Hy het ’n skoon en eerlike lewe geleef. Hy het God gedien en het nie verkeerde dinge gedoen nie. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. Verder het hy ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 1 000 beeste en 500 donkies gehad. ’n Groot klomp slawe het ook vir hom gewerk. Om die waarheid te sê, hy was die rykste mens in die hele Ooste. Job se seuns het beurte gemaak om by hulle huise partytjies te hou. As hulle so ’n partytjie gehou het, het hulle hulle drie susters genooi om saam te kom eet en drink. Hierdie partytjies het partykeer ’n paar dae aangehou. Ná so ’n fees was Job altyd bekommerd dat sy kinders dalk iets verkeerds gedoen het. Hy was bang dat hulle dalk iets gedoen of gedink het wat God sou kon beledig. Hy het hulle laat haal en dan gesorg dat hulle regmaak teenoor die Here wat verkeerd is. Hy sou vroeg in die môre opstaan en namens elkeen van sy kinders ’n offer aan die Here bring. Hy wou hulle posisie reg hou by die Here. Job het dit na elke partytjie gedoen. Op ’n dag het die inwoners van die hemel na die Here toe gekom. Die Satan was saam met hulle daar. Hy het mense gewoonlik aangekla. Die Here het vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan?” Satan het geantwoord: “Ek het heen en weer en kruis en dwars oor die aarde rondgegaan.” Die Here het toe vir die Satan gevra: “Het jy miskien vir Job raakgesien? Hy behoort aan My en doen net wat Ek hom vra om te doen. Op die hele aarde is daar nie ’n mens wat sy gelyke is nie. Hy lei ’n skoon en eerlike lewe. Hy doen ook nie verkeerde dinge nie. Hy dien My en hy bly van slegte en verkeerde goed af weg.” Satan het die Here geantwoord: “Ja, Job dien U, maar nie om dowe neute nie. Hy wil iets daaruit kry. U het hom en sy huisgesin en alles wat hy het nog altyd beskerm. U sorg dat hy ’n sukses maak van alles wat hy doen. Sy rykdom word net meer en meer. Maar waag dit net om aan sy goed te vat en kyk wat sal gebeur. Hy sal U in u gesig slegsê!” Die Here het toe vir Satan gesê: “Dit is reg so, jy kan met sy goed maak net wat jy wil. Maar van Job hou jy jou hande af!” Die Satan het toe van die Here af weggegaan.
Lees Job 1
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Job 1:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's