JOHANNES 9:25-39

JOHANNES 9:25-39 AFR83

Daarop het hy gesê: “Of hy 'n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.” Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?” “Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?” Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is 'n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man – ons weet nie waar hy vandaan kom nie.” “Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.” Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?” En hulle het hom uitgeban. Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?” Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.” Die man sê toe: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid. Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op 'n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOHANNES 9:25-39

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid