Johannes 9:25-39

Johannes 9:25-39 AFR20

Hy het toe geantwoord: “Of hy 'n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek, dat ek blind was, en nou sien ek.” Hulle het toe vir hom gesê: “Wat het hy met jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?” Hy antwoord hulle: “Ek het reeds vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie. Wat wil julle weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?” Hulle het hom toe uitgeskel en gesê: “Jy is 'n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gepraat het, maar hierdie man – ons weet nie waar hy vandaan kom nie. ” Die man het hulle geantwoord: “Wel, dit is verbasend! Julle weet nie waarvandaan hy kom nie, en tog het hy my oë oopgemaak. Ons weet dat God sondaars nie verhoor nie, maar as iemand godvresend is en sy wil doen, verhoor Hy hom. Van die begin van die wêreld af het niemand nog ooit daarvan gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore persoon oopgemaak het nie. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.” Hulle het hom geantwoord: “Jy is heeltemal in sonde gebore, en probeer jy ons leer?” En hulle het hom uitgeban. Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het, en toe Hy hom raakloop, het Hy gevra: “Glo jy in die •Seun van die Mens?” Hy het geantwoord: “Wie is Hy, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” Jesus het vir hom gesê: “Jy kyk na Hom. Hy wat met jou praat, dit is Hy.” Toe sê hy: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid. En Jesus het gesê: “Ter wille van 'n beslissing het Ek na hierdie wêreld gekom, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, blind kan word.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Johannes 9:25-39

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid