JOHANNES 9:25-39

JOHANNES 9:25-39 NLV

Maar hy het geantwoord: “As hy ’n sondaar is, weet ek dit nie. Een ding weet ek wel: Ek wat blind was, sien nou!” Daarop het hulle vir hom gesê: “Wat het hy vir jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?” Hy het hulle geantwoord: “Ek het julle reeds vertel, maar julle het nie geluister nie. Om watter rede wil julle dit weer hoor? Julle wil tog sekerlik nie ook dissipels van hom word nie?” Hulle het hom uitgeskel en gesê: “Jý is ’n dissipel van daardie man. Óns is dissipels van Moses. Ons weet definitief dat God met Moses gepraat het, maar hierdie man – ons het geen idee waarvandaan hy kom nie.” Die man wat blind was, sê toe vir hulle: “Dis tog merkwaardig. Julle weet nie waarvandaan hy kom nie, maar hy het my oë oopgemaak. Ons weet goed dat God nie na sondaars luister nie, maar as iemand godvresend is en sy wil uitvoer, luister God na só ’n persoon. Van ewigheid af is nog nooit gehoor dat enigiemand die oë van een wat blind gebore is, oopgemaak het nie. As hierdie man nie van God af was nie, sou hy niks kon doen nie.” Hulle het daarop reageer: “Jy is geheel en al in sonde gebore, en wil jý ons nou kom onderrig?” Hulle het hom toe uit die sinagoge geban. Jesus het gehoor dat hulle die geneesde blinde uit die sinagoge geban het, en toe Hy hom raakloop, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die Mens?” Die man het geantwoord: “Wie is hy, Meneer, sodat ek in hom kan glo?” Jesus het vir hom gesê: “Jy staan en kyk na Hom; die Een wat met jou praat, dis Hy!” Die man het gesê: “Ek glo, Here!” En hy het in aanbidding voor Jesus neergeval. Toe het Jesus gesê: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom om te oordeel, sodat dié mense wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, hulle blindheid kan ontdek.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOHANNES 9:25-39

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid