Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; dié wat aan die verbond getrou is, sterf sonder dat iemand begryp dat dit deur die boosheid in die wêreld is dat die regverdiges sterf. Dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf. Maar kom julle nader hierheen, kinders van 'n towerheks, julle wat gebore is uit owerspel en hoerery! Met wie wil julle spot? Teen wie wil julle grootpraat, vir wie wil julle tong uitsteek? Julle is niks anders as 'n klomp rebelle nie, 'n broeisel leuenaars! Julle dien die afgode met julle wellus onder die groot bome, onder elke groen boom. Julle offer julle kinders in die laagtes en onder die oorhangende rotse. Julle verkies die afgodsbeelde in die laagte, daar soek julle julle deel. Vir hulle bring julle drankoffers en offer julle graanoffers. Moet Ek My hiervoor oor julle ontferm? Op die hoë berge het jy 'n plek ingerig vir jou onsedelikheid en daarheen opgeklim om offers te bring. Agter jou deure en aan jou kosyne het jy beeldjies opgehang. In jou ontrou aan My het jy jou kaal uitgetrek, op jou bed geklim en vir jou minnaars plek gemaak. Jy het jou verbind aan dié saam met wie jy graag geslaap het. Jy het hulle naaktheid geniet. Jy het na Molek toe gegaan met olie en met baie wierook; jy het jou boodskappers na ver plekke toe gestuur, selfs tot by die doderyk! Jou soekery het jou moeg gemaak; tog het jy nie gesê: “Dit is sinloos!” nie. Jou wellus het jou aanhou oorweldig, daarom het jy nie opgehou nie. Vir wie was jy so bang en bevrees dat jy vals geword het? Jy dink nie meer aan My nie, jy steur jou nie meer aan My nie. Ek het lank geswyg toe jy My nie meer gedien het nie, maar nou sal Ek jou skynheiligheid aan die kaak stel, alles wat jy gedoen het, en jou gode sal jou nie kan help nie.
Lees JESAJA 57
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: JESAJA 57:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's