Ellende wag vir dié wat vroeg in die môre opstaan om agter sterk drank aan te loop en hulle tot laataand dronk te drink aan wyn. Daar is liere en harpe, tamboeryne, fluite, en wyn by hulle fuifpartye. Maar van wat die Here doen, neem hulle geen notisie nie, sy dade sien hulle nie raak nie. Omdat my volk My nie wil ken nie, sal hulle in ballingskap weggevoer word. Volk en leiers sal saam van honger sterf, omkom van dors. Die doderyk maak sy keel wyd oop vir hulle, hy sper sy bek groot oop. Daarin sak die vooraanstaandes en die gewone burgers weg, die hele rumoerige gepeupel. So word mense verneder en kom hulle tot 'n val. So kom hoogmoed tot 'n val. Die Here die Almagtige is verhewe, Hy laat reg geskied; die heilige God laat Hom ken as die Heilige, Hy oordeel regverdig. Op die puinhope sal lammers wei asof hulle op hulle eie weiveld is, skape sal rustig daar vreet. Ellende wag vir dié wat hulle deur afgodsdiens vaswoel in die bande van ongeregtigheid, wat verstrik raak in die kettings van sonde. Hulle sê: “Hy moet gou maak, Hy moet sy werk gou doen dat ons dit kan sien! Wat die Heilige van Israel wil doen, moet gou gebeur dat ons dit kan weet.” Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter. Ellende wag vir dié wat dink hulle het die wysheid in pag, wat dink hulle het baie verstand. Ellende wag vir dié wat helde is by wyndrinkery, dapper by die meng van hulle drank
Lees JESAJA 5
Deel
Vergelyk alle weergawes: JESAJA 5:11-22
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's