Jesaja 5:11-22

Jesaja 5:11-22 AFR20

Wee hulle wat vroeg in die môre opstaan, naarstig soek na sterk drank, en wat teen skemeraand sloer, dat die wyn hulle kan warm maak. Daar is lier en harp, tamboeryn en fluit, en wyn by hulle feesmaaltye. Maar op dit wat die HERE doen, slaan hulle nie ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie raak nie. Daarom gaan my volk in ballingskap vanweë 'n gebrek aan kennis; sy geëerdes word mense wat honger is, en sy gepeupel raak uitgedor van die dors. Daarom het die •doderyk sy keel wyd oopgemaak, en sy mond oopgesper sonder perk. Die stad se luisterrykes en gespuis, die lawaaimakers en uitbundiges in haar sal daarin afdaal. Mense sal neergebuig word, manne sal verneder word, hovaardiges sal hulle oë moet neerslaan. Die HERE, Heerser oor alle magte, is verhewe in sy regspraak; die heilige God betoon Hom heilig deur geregtigheid. Jong ramme sal wei asof dit hulle weiveld is; en die ruïnes van vetgevoerdes – vreemdes sal daar eet. Wee hulle wat sondeskuld saamsleep met bande van bedrog, en sonde soos met die toue van 'n wa – hulle wat sê: “Hy moet gou maak, sy werk moet vinnig gebeur, sodat ons dit kan sien; die plan van die Heilige van Israel moet ontvou, in vervulling gaan, sodat ons dit kan weet.” Wee hulle wat die slegte dinge goed noem, en die goeie dinge sleg, hulle wat die duisternis tot lig maak en die lig tot duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat wys is in hulle eie oë, en hulleself as verstandig beskou. Wee hulle wat helde is by die drink van wyn, en wat bekwame manne is by die meng van sterk drank