Ellende wag vir Samaria,
die kroon, die trots van die dronkaards van Efraim,
die roem van die drankverslaafdes,
die krans van verwelkte blomme,
dié stad hoog bokant die vrugbare vallei.
Die Here het iemand tot sy beskikking
wat sterk en magtig is
en wat dié kroon grond toe sal bring
soos 'n haelstorm, soos 'n vernietigende stormwind,
soos stortreëns uit 'n wolkbreuk.
Dié kroon, die trots van die dronkaards van Efraim,
sal met die voete vertrap word,
dié krans van verwelkte blomme
waaroor hulle roem,
die stad hoog bokant die vrugbare vallei
is soos 'n ryp voorvy:
wie hom sien, pluk hom en kyk skaars na hom
voor hy hom wegsluk.
Daardie dag sal die Here die Almagtige die kroon wees,
die krans waaroor dié sal roem
wat van sy volk oor is.
Hy sal aan dié wat reg moet spreek,
'n sin vir reg gee,
Hy sal krag gee aan dié wat die aanval moet afslaan
by die stadspoorte.
Maar ook die priesters en profete hier in Jerusalem
slinger en waggel van dronkenskap;
hulle slinger, hulle is beneweld,
hulle waggel van die wyn en die drank;
die profete slinger wanneer hulle gesigte moet uitlê,
die priesters loop twee rye spore
wanneer hulle regsbeslissings moet maak.
Al die tafels is vol braaksel,
daar is nie 'n plek wat nie bemors is nie.
Hulle sê: “Vir wie wil Jesaja leer,
vir wie wil hy die boodskap uitlê
wat hy sou gehoor het?
Ons is nie kinders wat pas gespeen is,
wat nou net van hulle ma's se borste af
weggevat is nie!
Wat ons van hom hoor,
is 'n bietjie brabbeltaal hier
en 'n bietjie brabbeltaal daar!”
Hy sál in die vervolg met dié volk praat
met stotterende woorde, in 'n vreemde taal.
Hy het vir hulle gesê: Die rus moet hier wees,
gee hier vir die vermoeide rus,
hier is die plek vir vrede!
Maar hulle wou nie luister nie.
Die woord van die Here tot hulle sal nou wees
'n bietjie brabbeltaal hier
en 'n bietjie brabbeltaal daar,
sodat hulle sal struikel waar hulle ook gaan,
verstrik sal raak, gevang en vernietig sal word.