JESAJA 28:1-13

JESAJA 28:1-13 NLV

Verwoesting wag vir die stad Samaria, die trots en vreugde van Israel se dronklappe! Die stad is in ’n ryk vallei, maar sy prag sal skielik verdwyn. Verwoesting wag verseker vir daardie stad, die trots van die mense wat neerslaan van die wyn. Want die Here het iemand wat sterk en magtig is. Hy is soos ’n magtige haelstorm en swaar reën wat oor hulle sal losbars en hulle teen die grond neergooi. Die trotse stad van Samaria, die trots en vreugde van Israel se dronklappe, sal vertrap word onder die voete van die vyande. Die stad is in ’n vrugbare vallei, maar sy prag sal skielik verdwyn. Dit sal wees soos ’n ryp vy voor die oes. As iemand dit sien, sal hy dit vat en insluk. Dan sal die HERE die Almagtige self Israel se kroon en eer wees. Hy sal die trots en vreugde wees van die oorblyfsel van sy volk. Hy sal aan hulle regters ’n begeerte gee om reg te spreek. Hy sal groot moed gee vir hulle soldate wat die stadspoorte beskerm. Maar nou is dit dronklappe wat Israel regeer! Die priesters en die profete slinger en waggel van al die wyn en sterk drank. Hulle maak dom besluite as hulle verantwoordelik moet optree. Hulle tafels is vol braaksel. Niks en niemand is skoon nie. Hulle sê: “Vir wie probeer hy leer? Aan wie verduidelik hy sy boodskap? Is dit babatjies wat pas gespeen is, wat so pas van hulle ma’s se borste weggevat is? Want dit is: Doen dit en doen dat, doen dit en doen dat, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie en daar ’n bietjie!” Omdat hulle weier om te luister, sal God met hulle praat deur die onbekende taal van vreemde verdrukkers! Hy het vir hulle gesê: “Hier kan julle rus! Hier kan julle die moeë mense laat rus. Hier is alles rustig.” Maar hulle het geweier om te luister. Daarom gaan die HERE weer met hulle praat. Hy gaan sê: Maak sus en maak so, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie en daar ’n bietjie! Hieroor sal hulle agteroorval, beseer en gevang word, en as ballinge weggevoer word.